Die polisie is op die spoor van die persoon wat verantwoordelik is vir die koelbloedige moord op lt.kol. Charl Kinnear, bevelvoerder van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid.
Kinnear (52) is Vrydagmiddag koelbloedig in sy motor voor sy huis in Bishop Lavis doodgeskiet. Hy is verskeie kere in die bolyf geskiet en deur paramedici op die toneel dood verklaar.
Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het intussen lt.genl. Yolisa Matakata, Wes-Kaapse polisiekommissaris, versoek om ’n 72 uur lange aksieplan te aktiveer om te verseker dat Kinnear se moordenaars so gou moontlik vasgetrek word.
“Sy moord is ’n groot verlies vir Suid-Afrika en sy mense. Die Suid-Afrikaanse polisiediens sal nie rus voordat diegene wat verantwoordelik is vir sy moord aan die pen ry nie,” het Sitole gesê.
Bheki Cele, minister van polisie, is intussen onderweg na die Wes-Kaap om Kinnear se familie by hul huis te soek.
Kinnear het meer as 30 jaar lange ervaring as polisiebeampte gehad en het oor die jare verskeie hoëprofielsake ondersoek wat rolspelers uit die bende-onderwêreld soos Nafiz Modack, Colin “Donkie” Booysen, Ashley Fields en Jacques Cronjé ingesluit het.
Hy het ook die sluipmoord op adv. Pete Mihalik ondersoek en was die hoofondersoekbeampte in die afpersingsaak oor veiligheidsdienste in Kaapstad.
Dan Plato, die burgemeester van Kaapstad, het sy skok oor die moord uitgespreek. “Speurder Kinnear was trots op sy pligte en het sy ondersoeke sonder vrees of begunstiging uitgevoer.
“Ek vertrou dat die Wes-Kaapse polisiekommissaris asook die Valke en die nasionale polisiebestuur geen steen onaangeroer sal laat om die moordenaars en ander betrokkenes vas te trek nie.”
’n Saak van moord word deur die Valke ondersoek.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
12 Kommentare
as veteraan moord & roof speurder my mee gevoel met die afsterwe van ‘n puik polisie lid
agv ‘n slap hoof van die SAP, grootBek Chillies, mag goeie polisie lede nie hul werk uitvoer sonder om in vrees te lewe nie!!
Weer eens, bring die doodstraf terug, sal ons land meer vrede gee
Net jammer dat dieselfde erens nie gewys word met die boere moorde nie.
Wie het sy polisiebeskerming in Desember 2019 laat staak? Behalwe die moordenaar, behoort hierdie mense ook strafregtelik mede-verantwoordelikheid te aanvaar en openbaar aan die pen te ry. Almal. Omtrent al die ontstellende nuus het deesdae te doen met sulke slapgatgeit. Inkompetente staatsamptenare. Met nóg meer inkompetente bestuurders. Vermoorders van die laaste bietjie integriteit onder hulle. My innige meegevoel aan die slagoffers!
Die moordenaar is nie die een wat die sneller getrek het nie . Hy sit in ‘n paleis en leef soos ‘n koning met die goedkeuring van sy regerings pelle . Dis die waarheid .