Charleston-‘massamoordenaar’ se baadjie: Waar of wolhaar?

Die twee foto's Dylann Roof waaroor bespiegel word.

Die twee foto’s Dylann Roof waaroor bespiegel word.

Is die foto van Dylann Roof, die 21-jarige sogenaamde Charleston-“massamoordenaar”, waar hy met twee vlae op sy baadjie pronk digitaal met ’n fotoredigeringsprogram gewysig?

Roof word daarvan beskuldig dat hy verlede Woensdagaand nege mense in ’n tradisieryke Afro-Amerikaanse kerk in Charleston in VSA doodgeskiet het. ʼn Facebook-foto van hom is kort ná sy inhegtenisneming deur nasionale en internasionale media geplaas. Op dié foto het hy ʼn baadjie aan met die oud-Suid-Afrikaanse vlag en dié van die voormalige Rhodesië (nou Zimbabwe).

Daar word egter beweringe gemaak dat die Suid-Afrikaanse media dié foto gemanipuleer het, hoewel dit teenstrydig met Suid-Afrika se perskode is, en dat die “oorspronklike” foto ʼn kenteken op het van die vlagskip-simbool van pres. Barack Obama se 2008- presidensiële veldtog. Dieselfde kenteken is in sy herverkiesingsveldtog gebruik.

Maroela Media het ook op ʼn paar ander foto’s op Roof se webwerf afgekom waar hy met dieselfde baadjie met die twee vlae daarop pronk (sien foto’s in die galery onderaan die berig). Sommige is egter steeds van mening dié foto’s is óók gemanipuleer.

Maroela Media het ʼn paar kenners in die fotografie- en grafieseontwerpbedryf genader om hul professionele mening te kry oor watter foto digitaal gemanipuleer is.

Almal het dit eens dat die foto’s se gehalte dit moeilik maak om met sekerheid ʼn oordeel te vel en van hulle het hul menings weerhou. Tog meen van hulle die foto met Obama se embleem daarop is heel waarskynlik nie die ware Jakob nie en met die fotoredigeringsprogram Photoshop digitaal gemanipuleer. Die twee vlae laat hulle egter wel frons.

Matt Raven, ʼn professionele fotograaf asook die organiseerder van die jaarlikse Photo & Film Expo, het gesê met die eerste oogopslag kan ʼn mens sien die Obama-foto is gemanipuleer. “Drie punte staan uit. Die embleem is perfek reguit terwyl die baadjie self na regs vou. Daar is duidelike manipulasiefragmente regs bo die embleem en as ʼn mens in Photoshop die foto vergroot, kan ʼn mens sien dit is oor die Suid-Afrikaanse vlag geplaas.”

Hy se egter waaroor hy nie honderd persent seker is nie, is die feit of die vlae ook dalk moontlik gemanipuleer is omdat dit helderder vertoon teenoor die res van die foto se kleur en die manier hoe dit op die baadjie vou.

“Wat heel waarskynlik gebeur het, is dat die vlagwapens splinternuut is en op ʼn ou baadjie aangewerk is. Dit verduidelik die helder wit kleure wat in kontras is met die res van die foto, veral die baadjie, en laat dit onnatuurlik voorkom.”

Hy het ook die res van die jong man se foto’s deurgegaan en kon niks verdags sien wat verklap dat dit gemanipuleer is nie. “Inteendeel, as al die foto’s waarop die vlae is wel gemanipuleer en dus vals is, dan is dit deur ʼn baie bekwame persoon gedoen wat maande lange tyd gehad het.”

Sy slotsom was dat die Obama-foto vals en die een met die vlae oorspronklik is.

ʼn Professionele fotograaf en lid van die Royal Photographic Society en Professional Photographers of Southern Africa, wat weens die sensitiwiteit oor die kwessie verkies om anoniem te bly, het gesê dit is moeilik om tussen die twee foto’s te onderskei omdat dit nie hoë resolusie is nie en ook nie groot genoeg om genoeg detail te sien nie.

Marhet-Ann Magnus, ʼn grafiese ontwerper, het gesê na haar persoonlike mening is die foto’s met die twee vlae daarop nie gemanipuleer nie. “Die vlae verskyn op te veel van die ander foto’s ook. Ek dink die rede hoekom dit opgeplak lyk, is omdat die kentekens hard is en die baadjie sagter. Die vlae vou nie saam met die materiaal van die baadjie nie. Die beste foto waarop ʼn mens dit kan sien, is die selfie in die spieël.”

Sy verduidelik nog ʼn goeie voorbeeld is waar hy in die skaduwee op ʼn reling sit. “Om daardie soort foto’s te manipuleer sal nogal baie tyd neem. Wat wel gemanipuleer is, is die foto met Obama se embleem daarop. ʼn Mens kan duidelik die kloningskolle regs bo sien asook oranje en blou wat uitsteek.”

Peter Hassall, nasionale president van SA Professional Photographers, het sy mening weerhou en gesê dit is baie moeilik om met sekerheid te sê omdat die resolusie van die foto’s te swak is. Hy het gesê as die oorspronklike hoëresolusiefoto’s opgespoor kan word, kan dit met meer sekerheid bepaal word.

Lilanie Greyling, grafiese ontwerper, het gesê met die eerste indruk wil dit voorkom of die vlag-foto gemanipuleer is weens die vlae wat uitstaan. “Die feit dat die resolusie nie baie goed is nie, maak dit moeilik, maar die redes waarom ek glo dat hierdie kentekens nie op die baadjie vasgewerk is nie, is dat die kleur baie helder is. Die wit is byna spierwit en die oranje en blou veral is baie prominent in teenstelling met die lae tonale waarde van die res van die foto,” het sy gesê.

Sy het gesê die Obama-foto se gehalte is nie goed genoeg om te kan bepaal of dit eg is nie. “Die foto wat hy van homself in die spieël geneem het, lyk na die mees realistiese een. Dit is egter nie onmoontlik om die vlae op die selfie-foto én ander foto’s te kon aanbring nie.”

Gerry Pelser, ʼn professionele fotograaf en Photoshop-instrukteur, het gesê dit is vir hom duidelik dat die foto met Obama se kenteken daarop gemanipuleer is.

“As jy na die Obama-teken kyk, in vergelyking met die ander embleem, dan sien ʼn mens dit is in ʼn presiese reguit lyn. Geen natuurlike foto’s gee sulke lyne nie,” het Pelser verduidelik.

Hy het gesê die vlae is bietjie meer ingewikkeld, maar na sy mening is dit nie vervals nie en aan die baadjie vasgewerk. “Die Obama-wapen se kante is presies reghoekig soos wat ʼn mens dit van die internet kan aftrek. Die vlae vertoon egter nie reghoekig nie.”

Gerry 1

Albei embleme lê in ‘n reguit lyn.

 

Hy sê voorts mense is van mening dat die vlae te helder is om natuurlik te wees. “As ons na die wapen op sy linkerbors kyk, en die ligstrepe vergelyk met die embleem aan die ander kant, sien ons soortgelyke helderheidwaardes. So, dit is nie werklik helderder nie.”

Pelser het gesê as ʼn mens die grein op die vlae met die grein van die res van die foto vergelyk, vertoon dit ook eweredig.

Die foto se grein en wit kleur stem ooreen.

Die foto se grein en wit kleur stem ooreen.

Hy het as ʼn eksperiment sy eie vlag op die foto geplaas, en ʼn filter oor die foto gesit, om te kyk hoe dit vergelyk.

“Die filter is goud werd in hierdie geval. Die ware vlae smelt in met die res van die foto. Dit is ʼn egalige samesmelting met die agtergrond. My ‘vlag’ staan uit soos ʼn seer duim.”

Dis hoe die embleme vertoon op die filter.

Dis hoe die embleme vertoon op die filter.

Hy het dieselfde toets op die foto met die Obama-teken gedoen en ʼn mens kan sien dat die Obama-kenteken nie met die agtergrond saamsmelt nie.

Dit is hoe die Obaba-embleem vertoon.

Dit is hoe die Obama-embleem vertoon.

“Na my mening is die vlae aan die baadjie vas en nie gemanipuleer nie. As dit wel iemand se kuns met Photoshop is, dan mors die persoon sy tyd om foto’s van vlaggies op baadjies te plaas. Die persoon kan miljoene rande maak om glanstydskrifte, soos Vogue, se modelfoto’s te verwerk,” het hy geskerts.

Herman Toerien, Maroela Media se rubriekskrywer, het Maandag in sy nuuskommentaar geskryf weens die ou Suid-Afrikaanse vlag op die foto loop die Afrikaner tans die gevaar om die groot verloorder te wees, al het Roof sover bekend geen Suid-Afrikaanse verbintenis gehad nie.

Toerien meen as die foto’s gemanipuleer is, kon dit eintlik net deur Roof self gedoen gewees het, aangesien die foto’s van sy Facebook-profiel en webwerf af bekom is. “Die kwessie of dit gemanipuleer is, is kwalik die punt. Daar is verskeie ander rasgedrewe instansies wat veral in die jongste tyd die ou SA vlag vir hul saak begin gebruik. Dit plaas ʼn teiken op die Afrikaner se rug en dis waaroor die rubriek handel,” het hy gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Marike ·

Mens kan duidelik sien dit is gemanupileer. Die “vlae” is baie ligter en meer helder as die res van die foto….

Landie ·

Ek kan ook nie verstaan hoekom moet SA hierby betrek word as dit ‘n individu se mening is nie. Doen wat jy wil, maar los ons land daaruit, ons het genoeg probleme van ons eie dankie!!!

boer ·

Is dit maar nog n manier dat apartheid vir die geval ook blammer kan word???

lynette ·

En dit is belangrik hoekom? Is hy ‘n Suid-Afrikaner weet hy ooit waar ons land of die voormalige Rhodesie is? Wat is die konneksie wat die nuushonde wil maak? Wonder maar net

Winston ·

Nou wat as hy n simpatiseerder met SA is? Kan ons blameer word vir wat in sy kop aangaan? Miljoene vrae wat gevra kan word. Seker maar alweer apartheid se skuld.

Porra ·

Let op na die fotos wat geneem is van sy baadjie…die een waar hy n selfie in die spieel neem is die vlae aan sy linker kant en die res van die fotos is die vlae aan sy regter kant van die baadjie…maak mos ni sin ni. Def. gemanupileer.

HFC ·

Porra het jy al gehoor wat gebeur met ‘n beeld wat in ‘n spieel afgeneem is? Die links en regs draai om.

KarooKlong ·

Somtyds is daai ou in die spieel een van die domste vente wat jy al gesien het….

Darius ·

Daar staan selfie in ‘n spieël… Dit is dus sy spieëlbeeld

Se Maar Net ·

Roof weet jy waar RSA is?? Asof ons nie genoeg moeilikheid het nie.

Hannes ·

Die baadjie is seker al ‘n paar keer gewas,maar die vlae lyk splinternuut, iewers is daar ‘n slang in die gras. Daar is ook ‘n groot hoeveelheid van die ontleders wat anoniem wil bly. Maroela moenie julle lesers vir idiote aanneem nie.

Darius ·

Lees ons dieselfde berig? Net een persoon uit 6 wil anoniem bly. Jou nommer en kommentaar klop nie.

Darius ·

Mense wat Front Nasionaal se hoax photoshop pic en berig (Obama pic) as eg beskou… IS idiote.

Darius ·

Ps. Hannes. Jou somme klop nie. Een uit die ses bronne wou anoniem bly sy / haar rede blyk billik. Hoe is dit nou ‘n GROOT hoeveelheid? Dalk is sommige lesers idiote…

Pieter viljoen ·

Sonder om te veel te se, al die fotos is gemanipuleer. Selfs die verskillende gedeelte van die fotos kom uit verskillende programme en was gemanipuleer. Julle sogenaamde kenners moet in die spieel gaan kyk om Seker te maak hulle koppe sit op die regte plek.
Ek het toegang for hoog gesofistikeerde sagteware en die bewyse is reedsverkry dat die fotos vals is. Terloops alles rondom hierdie ou so vals en is gemanipuleer. Selfs die fotos van waar Hy in die kerk in loop, is nie eers van die regte kerk waar die skietery gebeur hetnie.

V ·

Nou waar was die fotograwe om die Roof af te geneem die dag met sy inhegtenis neming.Dan kan mens nou sien wat aangaan.En hoekom gebruik die persoon juis die ou landsvlag en nie die nuwe lelike een nie.

Nico ·

As dit gemanipuleer is, wonder mens hoekom. En soos reeds gesê, dit maak nie saak of dit gemanupileer is nie. Dit rig net skade aan die Afrikaner.

EMK ·

Gamanipuleerd of nie, feit is die skade is gedoen. Nou gaan almal weer op die apartheid “bandwagon” spring en skree en as jy Afrikaans is/praat êrens oorsee wat hul wel die taal herken/verstaan sal jy skeef bekyk word. Soos alle Muslims na 09/11 bespoeg en belaster is al was hul onskuldig. ai tog…

tom eksdom ·

n Flag. In die hande van n idioot. Ons vergeet almal maklik dat hy Christene uit gemoor het.

mariska ·

op die selfie foto is die vlae op sy linker bors, op al die res van die fotos is dit op sy regter bors……what?????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.