Charlie: Foefie of demoon?

'n Skermskoot uit die video onderaan die berig.

‘n Skermskoot uit die video onderaan die berig.

ʼn Okkulte “speletjie” raak tans gewild onder tieners. Dit het egter ouers, onderwysers, skoolhoofde, die polisie en geestelike leiers op hol en pogings word aangewend om die gier in die kiem te smoor.

Met die “speletjie” gebruik deelnemers ʼn stuk papier waarop twee ja’s en twee nee’s in teenoorstaande kwadrante van die papier geskryf is. Twee potlode word dan in ʼn kruis op mekaar gebalanseer waarna die “gees” van Charlie, ʼn sogenaamde Meksikaanse demoon, opgeroep word bloot deur “Charlie, Charlie” te roep. “Charlie” se gees sal dan allerlei vrae beantwoord deur die boonste potlood na ja of nee te “beweeg”.

Wetenskaplikes en mense wat self ondersoek ingestel het, skryf die beweging van die potlode aan swaartekrag toe wat met die geringste stampie of lugbeweging kan skuif.

Tog het die toenemende gewildheid van die speletjie, veral by skole in die Oos-Kaap, rolspelers genoop om op te tree. Die polisie, skole en die departement van onderwys in dié provinsie het vandeesweek spesiale byeenkomste gehou om leerders teen die gevare van die “speletjie” te waarsku.

Dit volg nadat ʼn aantal leerders aan John Walton Senior Secondary School in Uitenhage histeries geraak het toe ʼn muur by die skool omgeval het terwyl van die leerders vir “Charlie” vrae gevra het.

Die departement het gesê hy beskou die speletjie as ernstig en het amptenare opdrag gegee om die neiging te ondersoek.

Volgens past. Morné Spies van die AGS Christelike Sentrum in Despatch is die speletjie egter nie so onskuldig soos wat dit voorkom nie.

“Die antwoord lê in die vraag: Wat was die bedoeling met die gebruik daarvan?”, het hy in ʼn verklaring gesê.

“So nuuskierig as wat jong mense tog maar is, is die groot rede dat hulle maklik in die strik val om deel te hê aan hierdie speletjie juis om vas te stel of dit werklik waar is. Ongelukkig kom hul nuuskierigheid met ʼn duur prys, in dié geval die moontlikheid van demoniese besitneming.”

Spies het gesê elke geval is anders en daarom sal die uitwerking van die speletjie anders wees vir elkeen. “Vir party kan dit dalk voel na ʼn mors van tyd. Ander ontwikkel ʼn diep vrees vir die onbekende en in erger gevalle kan sommige mense geprikkel word tot dieper deelname aan die geestelike dimensie.”

Hy het gesê Charlie-Charlie is gegrond op dieselfde konsep as glasie-glasie en die ouijabord. “Dit het te doen met die geestelike en om daarmee kontak te maak. Gee die duiwel ʼn pinkie, dan vat hy sommer die hele hand.”

Spies het gesê tieners moet aangemoedig word om alle kontak met sulke tipe speletjies te vermy en hul vriende van die waarheid te vertel. “Dit is ons as kerkgroepe, skole en ouers se verantwoordelikheid om almal bewus te maak van hierdie sataniese speletjie wat die duiwel so onskuldig laat voorkom.”

Hier is een van vele video’s wat op YouTube gelaai is wat die speletjie as ʼn foefie afmaak.

Bron: RDM News Wire

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Sumerie ·

Mens krap waar dit nie jeuk nie ! Die kinders hou vir hulle besig met nonsens.

Elfie ·

Jip, ongelukig IS dit so dat kinders nuuskierig is en se mens MOENIE dan wil hulle juis. Mens moet dit alles as grappe afmaak en vertel dat iemand die goed effens blaas of tafel stamp sodat die potlode moet beweeg en dis blote onsin. Hoe meer mens dit afmaak as onsin en dat enigeen wat die pot twak glo onnosel is en voor gelag moet word, hoe meer sal hul hopelik besluit dis nei die moeite werd nie. Mense wees betrokke by jul kinders en sorg dat jul weet waar hul is te alle tye en wat daar aangaan. as hulel graag na huise gaan waar nie ouerlike toesig is nie dan kan sulke nonsens aangevang word. Laat hul liefs by jou kom kuier en maak dit lekker met baie koeldranke en koekies en goete en dan ky jy ooghou oor almal.

Marius ·

Baie gevaarlike speletjie! Kinders moet die regte leiding kry in hierdie verband. Gaan lees gerus Efesiers 6, ons is voortdurend in stryd met demoniese magte. Mense wat hiervoor val, gaan net dieper in die put sak.

Elfie ·

Jip, ongelukig IS dit so dat kinders nuuskierig is en se mens MOENIE dan wil hulle juis. Mens moet dit alles as grappe afmaak en vertel dat iemand die goed effens blaas of tafel stamp sodat die potlode moet beweeg en dis blote onsin. Hoe meer mens dit afmaak as onsin en dat enigeen wat die pot twak glo onnosel is en voor gelag moet word, hoe meer sal hul hopelik besluit dis nei die moeite werd nie. Mense wees betrokke by jul kinders en sorg dat jul weet waar hul is te alle tye en wat daar aangaan. As hulle graag na huise gaan waar nie ouerlike toesig is nie dan kan sulke nonsens aangevang word. Laat hul liefs by jou kom kuier en maak dit lekker met baie koeldranke en koekies en goete en dan kan jy ooghou oor almal.

Lou ·

Mens moet krap om seker te maak kinders hou hulself nie op met die tipe nonsens nie en dan aksie neem. Ek krap gereeld om juis seker te maak daar is nie snaakse dinge aan die gang met my kinders nie. In die tye vandag het ouers nie n keuse nie. Daar is so baie dinge daar buite wat hulle kan beinvloed. Ok, dit beteken ook nou nie dat jy jou kind soos n porselein pop moet oppas nie. Vir n kind om n selfoon te hê is n voorrreg, nie n reg nie. Bly aan krap. Dit is wonderlik as jy jou kind se vertroue het en hulle jou alles vertel. Gelukkig speel my kinders oop kaarte, maar dan moet ek dit ook op die regte manier hanteer, juis om daardie vertroue daar te hou.

nig ·

Mens moet dit maar as twak probeer afmaak. Waarvoor sal ‘n Meksikaanse demoon tog nou weet wat hier aangaan en wat laat hulle dink die “demoon” kan Engels verstaan in elk geval? Dis maar wat mens dalk onder hul moet tuis bring.

Melt Olckers ·

Waarom is die Polisie betrokke? Is daar ‘n misdaad gepleeg? Indien die Polisie betrokke is, is dit 1). ‘n magsmisbruik van die SAPD deur geestelike leiers en 2). Grondwetlike oortreding van Vryheid van Geloof. In elk geval is hierdie tipe speletjies in elk geval bog stories.

DMC de Koker ·

Die teen Okkulte eenheid is ontbind maar… Daar is ‘n Eenheid vir gevaarlike geloofspraktyke in sy plek gebring. Die polisie het die volste reg om dit te ondersoek.

Melt Olckers ·

In elk geval krap die onderwysers nou weer waar dit nie jeuk nie. Onderwysers moet onderwys gee, nie geestelike berading nie.

Weezie ·

Dit is deur sulke kommentaar dat ons land is sy Chops is! dis vandat God uit ons skole geneem is dat kinders moor, verkrag en steel! Die onderwysers is ons kinders se ander ouers, want ons kan nie heeltyd daar wees nie. Mr. gaan eerder op jou kniee boet!

Paul ·

Die kinders moet meer tyd in die fisika-klas deurbring. Uitstekende geleentheid vir die wetenskap-onderwysers om te verduidelik hoe werk friksie en hefboomkragte.

Die friksie tussen die potlode wat so gebalanseer word, is so min, en die hefboomkrag van die kleinste asempie op die boonste potlood so groot, dat dit sal beweeg selfs al beweeg jy net jou arm daar naby deur die lug, of jy praat en daardie uitaseming kom ‘n paar oomblikke later by die potlode uit.
Doen dit sonder die papier, of skryf allerhande grappighede op die papier neer, en toets weer.

Ai, dat mense so bygelowig kan wees oor die eenvoudigste kulkunsies is erg.

Lees gerus: https://en.wikipedia.org/wiki/James_Hydrick
“Hydrick confessed … that he had developed his trick in prison, and that he had not learned it from a Chinese master as he originally claimed. Hydrick confessed, “My whole idea behind this in the first place was to see how dumb America was. How dumb the world is.””

PIXIE ·

My oorlede ma het haar gewrigte op ‘n klein rottang tafeltjie geplaas en die tafel vrae gevra. Sy het bv. gevra hoeveel kinders gaan my dogter kry? dan het die twee tafelpote die verste van haar, een of twee keer gelig. Glo my ek kry nou nog die koue rillings as ek daaraan dink maar as kinders het ons vreeslik gelag daaroor. Dit was groot sports. Ons het altyd gedink dit is my ma wat die tafel so druk om die pote te laat lig. Wanneer die tafel pote nie beweeg nie is die antwoord NEE of GEEN. Tot eendag het my ma so ‘n erge hoofpyn gekry dat ons inderhaas hospitaal toe moes jaag en die dokter aan diens het genoem hy kry niks fout nie maar het genoem: JULLE SPEEL MET GEVAARLIKE DINGE STAAK DIT DADELIK. Ons het nooit weer sulke ‘tafel vrae speletjies gespeel’ nie. Wees gewaarsku dit is nie ‘n twak storie nie dit is die duiwel en sy demone wat jou aanval as jy hulle net ‘n kans gee. Bly weg van dit want dit is gevaarlik. Ek is 67 jaar oud en praat nie strooi nie. Groetnis.

Bridgette ·

Melt lyk my jy het ondervinding van die speletjie ! Hoekom so op jou perdjie spring !!!!!

Ans ·

Dis als nonsens. Dit was n bemarking plooi van n nuwe film wat verlede jaar vrygestel is. Hulle het die Charlie Charlie game gebruik om die film te adverteer. Daar is geen waarheid of geestelike dinge hierby betrokke nie.

Melt Olckers ·

Bridgette, ek het nog nooit die of enige soortgelyke speletjie gespeel nie. Ek glo net dit is bog. Dit werk nie werklik nie. James Randy het navorsing oor dit gedoen en bevind dat dit nie werklik werk nie.
Ek is ook ‘n voorstaander van Vryheid van Geloof, en glo dat Onderwysers en die Polisie uit hierdie tipe ding moet uitbly, want die Staat mag nie inmeng in ander mense se godsdiens beoefening nie. Dit is ‘n Grondwetlike oortreding.
Ek was op skool gedreig met Kobus Jonker (Donker Jonker, Kolonel Ghostbuster), wat destyds die Polisie se Okkulte Eenheid behartig het, omdat ek fantasie verhale gelees het. Ook het hy ‘n neiging gehad om tieners met Outisme te brandmerk as Sataniste net oor hulle gedrag. Ja, ek is Outisties.

Riana ·

Ek is van Uitenhage en ja dit het die kinders op hol. Meeste is maar net nuuskierig waaroor die hoohaa gaan. Ek het my dogter mooi verduidelik dat daar wel so ding bestaan soos demone en geeste maar dat as jou geloof in God sterk genoeg is, jy jou nie sal ophou met hierdie dinge nie. Gelukkig is sy nie een om agter maats aan te gaan nie en haar opvoeding en Christenskap van so aard dat ek kan vertrou sy my raad sal volg en dinge sal uitlos. Geloof in God begin in die ouerhuis. Daar behoort net een Gees te wees wat jy behoort te vrees, Die Heilige Gees.

Paul ·

Sit die potlode in ‘n windstil, toe vertrek (maak skrefies langs kosyne ook dig!) op ‘n soliede, vaste oppervlak (‘n tafel is nie goed genoeg nie, eerder ‘n soliede vloer, hoewel dit ook deur vibrasies geaffekteer kan word) en sit heeltemal doodstil en praat met ‘n masker oor jou mond en jou kop weggedraai van die potlode. (Of nog beter, staan buite die vertrek en kyk deur die venster.)

Die potlood sal nie beweeg nie.

Dis die geringe vibrasies wat uitaseming tydens spraak en/of liggaamsbewegings gepaard gaan wat die potlood laat beweeg.

Dis eenvoudige fisika op standerdsesvlak, mense.

Sollie ·

Paul, ek wens alle onnies en ds en wie nog wil tog net jou kommentaar LEES en die kinders wys hoe interessant fisika ens is en hoe dinge regtig werk. Mense glo maklik enige bog.

Werklikheid ·

My kind het vandag amper selfmoord gepleeg by die skool as gevolg van die speletjie. Het vandag vir die eerste keer daarvan gehoor.Hy is n stil kind en dit het vandag uit gekom as hy dit nie wil saam speel nie dan attack hul hom tot hy saam speel.Hy het teenoor n pastor dit herken vandag hy wou my nie se want hy weet ek is gekant teenoor sulke dinge en hy wou nie moeilikheid he verder by skool nie, want hy weet ek sou daarna toe gegaan het om dit uit te klaar.Sy reaksie aan my was ek moenie saak verder vat hul het geleerdheid nodig kom ons bid eerder net vir hulle, die Here sal met hul werk.

Sollie ·

Werklikheid – dis intimidasie en geboelie en jy kan dit NIE net los nie. Gaan saam met die pastoor na die skoolhoof, jou kind hoef nie te weet jy gaan nie.

Tascha ·

Jong daar’s ‘n lieflike Engelse spreekwoord wat sê dat wanneer jy oor enigiets twyfel jy jouself liewer daarvan moet weerhou. Dieselfde geld hier bo – daar is slegs EEN wat die toekoms ken die vyand werk op die dinge van jou verlede want hy self ken nie die toekoms nie. Hierdie speletjie is gevaarlik want mens jy gee die vyand outoriteit oor jou lewe. Weerhou jou liefs van die tipe goed en wees eerlik met jou kinders. Dit is ‘n keuse wat hulle self moet maak maar ten minste sal hulle dan ‘n ingeligte een maak.

tina ·

Ek haal Koning Dawid van die bybel se woorde in een van sy psalms aan. Hy vra die volgende VRAAG en gee sommer die ANTWOORD ook: “Waarmee sal ‘n jongeling sy pad suiwer hou, deur dit te HOU NA U WOORD ( bybel ). Wel, ons leef in ‘n era waar mense nie meer ‘n Godvresende lewe lei. Die spreekwoord lui: He who plays with fire shall burn by fire.

Paul ·

Die outeur van Psalm 119 is onbekend. Al die psalms in die Bybel is nie deur Dawid geskryf nie.
Dit kan moontlik Dawid gewees het, of iemand heeltemal anders.

Cindy ·

Ag regtig, ek kan net lag vir mense wat dink die speeletjies is realiteit. Net soos “yes, no, maybe”. DIT IS HOE JY DIE STOKKIE IN DIE PAPIER TOEDRAAI en ja, ek het sulke speeletjies al gespeel. Ek is 28 en die demone het nie my siel oorgevat nie… Raai wat, ek lewe ook nog.

DMC de Koker ·

Onthou daars ‘n verskil tussen demonies besete en demonies belas te wees.

DMC de Koker ·

Kommerwekkend hoeveel mense in hulle kommentare dit wil afmaak as bog. Nie noodwendig op grond daarvan of die speletjie waar is of nie maar eerder dat mens iets kan afmaak as bog en dis die einde van dit. Ongeloof is stadig maar seker om oor Suid-Afrika en die wêreld in te dryf. In my gees weet ek die wortel van hierdie ding is vrot.

Loeis ·

Maroela Media, dink julle dis baie verantwoordelik om ‘n demonstrasie van hoe dit gedoen het, te publiseer?

Sune van Heerden ·

Dagsê Loeis

Kyk gerus na die hele video – die “speletjie” word as ‘n foefie afgemaak en in die video verduidelik hulle presies wat hulle gedoen het om die potlood te laat “beweeg”. Soortgelyke video’s is ook vrylik op die internet beskikbaar, enigiemand wat dit graag wil sien hoef bloot ‘n vinnige Google-soektog te doen of YouTube oop te maak om nog video’s te sien.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.