Charlotte Maxeke-hospitaal nou nóg later oop

Groot skade is aangerig tydens ‘n brand by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg (April 2021) (Foto: Twitter)

Die heropening van die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg se onkologie-eenheid is wéér uitgestel – dié keer tot volgende maand.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, waarnemende minister van gesondheid, het aanvanklik die versekering gegee dat die eenheid begin vandeesweek sal heropen nadat ’n brand meer as twee maande gelede dele van die hospitaal verwoes het.

Die onkologie-eenheid sal egter nou eers op 5 Julie heropen.

Volgens Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, word die vertraging toegeskryf aan die ontbrekende voldoening aan vereistes om ʼn besettingsertifikaat van die stad Johannesburg te ontvang. Dit sluit in bouplanne wat ontbreek sowel as branddeure wat vervang moet word.

Kubayi-Ngubane het Maandag gesê ingenieurs is tans besig om nuwe bouplanne vir Charlotte Maxeke-hospitaal op te trek. Die minister het apartheid die skuld vir die ontbrekende bouplanne gegee.

Volgens Kubayi-Ngubane lyk dit asof die oorspronklike bouplanne nooit bestaan het ​​nie weens “apartheidsregulasies” wat behels het dat sekere geboue tot nasionale sleutelpunte verklaar is en nooit hul planne by munisipaliteite hoef te registreer het nie, berig EWN.

Kubayi-Ngubane het egter toegee dat daar sedert die aanvang van demokrasie 27 jaar gelede meer as genoeg tyd was om nuwe bouplanne op te stel.

Bloom wil nou weet waarom die Johannesburgse stadsraad nie op die bouplanne en branddeure tydens vorige brandveiligheidsinspeksies aangedring het nie.

“Hulle het nie vroeër hul werk gedoen nie en nou gebruik hulle tegniese hindernisse as verskoning, wat die gebruik van broodnodige hospitaalbeddens verhoed.

Maroela Media het vroeër berig die Charlotte Maxeke-hospitaal is op 17 April gesluit nadat ʼn brand langer as ʼn dag daar gewoed en groot skade aangerig het. Meer as 800 pasiënte is na 17 ander mediese fasiliteite regoor Gauteng oorgeplaas. Die brand het op 15 April in ʼn apteek se pakkamer uitgebreek en byna 12 uur lank gewoed voordat brandbestryders dit in bedwang gebring het.

Dié hospitaal kan meer as 1 000 pasiënte hanteer. Sowat 800 van die hospitaal se pasiënte moes sedert die brand by ander instellings opgeneem word.

Bloom sê nou hy ontvang sedertdien elke dag oproepe van kankerpasiënte wat bekommerd is oor hul behandeling. “Dit is ʼn saak van lewe of dood vir hulle.

“Ons benodig ook die 120 waakeenheidbeddens in die hospitaal om Covid-19-pasiënte se lewens te red, aangesien ander hospitale sukkel om die tsoenami van Covid-19-pasiënte die hoof te bied.”

Volgens Bloom behoort Gauteng se premier, David Makhura, noodmaatreëls te tref om te verseker dat die Charlotte Maxeke-hospitaal so gou moontlik funksioneer.

Maroela Media het ’n navraag aan die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling gerig om meer duidelikheid rakende die heropening van die onkologie-eenheid te bekom en wag nog op terugvoer.

Die departement van gesondheid het navrae vanoggend na dié departement verwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vettiemaragartos

Gaan soek die planne by Jan van Riebeeck. Miskien steek hy dit weg! Patete!!

Ja wat

Aai Jan Van Riebeeck weer jou skuld ag nee man.

Anton

Was belangriker om die naam te verander as om die planne te kry en onderhoud te doen ????

Saartjievandiebosveld

In die ou bedeling sou die hospitaal nie so erg gebrand het nie…want dit wat moes werk sou gewerk het…en… die hospitaal sou binne ‘n week weer gefunksioneer het

Misky

Ons lag soms en grap oor die hele ‘apartheid’ storie wat altyd skuld vir alles kry, maar dis nou nie meer snaaks nie en mense se lewens is op die spel. Hulle gaan 100 jaar van nou seker steeds dieselfde, afgesaagde rympie sing!!!!