Charlotte Maxeke-hospitaal steeds gesluit

Groot skade is aangerig tydens ‘n brand by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg (April 2021) (Foto: Twitter)

Die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg is steeds vir pasiënte gesluit nadat ʼn brand twee weke gelede in dié hospitaal uitgebreek en groot skade aangerig het.

Die pasiënte wat ná die brand na ander hospitale oorgeplaas is, sou verlede naweek na die Charlotte Maxeke-hospitaal teruggekeer het. Die hospitaal sou aanvanklik net vir sewe dae gesluit gewees het.

Maroela Media het vroeër berig die hospitaal is op 17 April gesluit nadat ʼn brand langer as ʼn dag daar gewoed en groot skade aangerig het. Meer as 800 pasiënte is na 17 ander mediese fasiliteite regoor Gauteng oorgeplaas. Die brand het op 15 April in ʼn apteek se pakkamer uitgebreek en byna 12 uur lank gewoed voordat brandbestryders dit in bedwang gebring het.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur die departement van gesondheid word alle operasies uitgestel totdat die hospitaal weer in volle werking is. Pasiënte wat dringend ʼn operasie moet ondergaan word aangeraai om na hul naaste hospitaal te gaan vir hulp.

Motalatale Modiba, woordvoerder van die departement, sê alle pasiënte wat geskeduleer is vir ʼn keisersnee by die Charlotte Maxeke moet ʼn dag voor die beplande operasie aanmeld by die Discoverers-gemeenskapgesondheidsentrum in Florida-Wes in Johannesburg.

Alle voorgeboortedienste word in die Rahima Moosa- hospitaal in Coronationville in Johannesburg aangebied.

“Alle ginekologiese operasies sal in die South Rand-hospitaal in die suide van Johannesburg plaasvind. Ginekologie-afsprake sal in dieselfde hospitaal plaasvind. Hierdie pasiënte sal gekontak word en nuwe afsprake sal geskeduleer word,” sê Modiba.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, en dr. Phophi Ramathuba,.LUR vir gesondheid, by die FH Odenhaal-hospitaal in Modimolle (Foto: Limpopo Department of Health, Facebook)

Volgens die departement sal alle oftalmologiedienste by die St. John-ooghospitaal naby die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto aangebied word. Pasiënte wat vooraf onkologie-behandeling bespreek het, kan Woensdae en Vrydae ook by dié hospitaal aanmeld. Pasiënte wat hematologiese behandeling verlang, kan by hierdie hospitaal se hermatologiese kliniek aanklop.

Pasiënte was hemodialise benodig, sal dit by die Helen Joseph-hospitaal ontvang.

“Pasiënte wat chroniese medikasie moet kry, kan hul voorskrifte na die naaste hospitaal of kliniek neem en hul voorskrifte daar kry.”

Intussen het dr. Zweli Mkhize, die minister van gesondheid, die FH Odendaal-hospitaal in Modimolle (Nylstroom), Limpopo, besoek nadat daar Dinsdag vroegoggend ʼn brand in die Covid-19-saal uitgebreek het. Twee pasiënte het tydens die brand gesterf.

Neil Shikwambana, woordvoerder van die departement van gesondheid in Limpopo, het gesê die brand het tussen 02:30 en 04:00 in die Covid-19-saal uitgebreek en personeel het geskarrel om die pasiënte betyds na veiligheid te neem en het ook met brandblussers die brand probeer blus.

Altesame 23 pasiënte is gered en na die nabygeleë Modimolle MDR-hospitaal geneem.

Mkhize het Donderdag tydens sy besoek die personeel bedank vir hul dapper pogings om die brand so gou in bedwang te bring en pasiënte se lewens te red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Blikke

Sal sekerlik ook nou jare vat om weer operasioneel te kry en natuurlik sal die budget by verre oorskry wees!!! Se maar net wat aan die orde van die dag is.

Antoinette

Waar is die dae toe provinsiale hospitale bestuur was deur mediese spesialiste wat as superintendente bekend gestaan het, en alle kennis gehad het van die bestuur, onderhoud, finansies ens. van die hospitaal. saam met ‘n streng matrone wat geen nonsens geduld het nie, en die dinges uit al die werknemers, insluitend die superintendent, verskrik het, en die hospitaal met ‘n ysterhand regeer het, En alles het seepglad verloop. Nou word ‘n tjomma as bestuurder aangestel en alles word opgefoeter – en wat het van die matrones geword. Die dik verpleegpersoneel wat ek nou deesdae al telkemale gesien het in die… Lees meer »

Tiptol

Lekker geleenthede vir vet tenders.

Sarel

Brand brand en alles brand en niemand weet hoekom nir