Charlotte Maxeke selfs nóg later oop weens diefstal

Só het dit verlede maand nog by die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese- hospitaal gelyk. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die ongevalle-eenheid van die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese- hospitaal (CMJAH) staan al byna ’n jaar lank gesluit en sal danksy diewe nou nóg later heropen.

Dié eenheid was veronderstel om volgende Maandag – 11 maande nadat ’n brand by dié Johannesburgse staatshospitaal uitgebreek het – te heropen en die las op nabygeleë hospitale te verlig.

Die heropening word nou egter verder vertraag nadat koperpype, meer as 500 m se elektriese kabel en nuwe elektriese verdeelborde onlangs by die hospitaal voete gekry het.

Dít ten spyte daarvan dat daar R40 miljoen per jaar aan hospitaalsekuriteit bestee word, sê Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid in Gauteng.

“Hoe is dit moontlik dat groot voorvalle van diefstal steeds by hierdie hospitaal voorkom?” wil Bloom nou weet. Koperpype ter waarde van R30 miljoen is verlede jaar ná die brand ook by die hospitaal gesteel.

Bloom versoek nou dat die betrokke sekuriteitsmaatskappy afgedank word en ʼn ondersoek van stapel gestuur word om te bepaal of enige werkers van die hospitaal betrokke was.

Die jongste voorval van diefstal by die hospitaal is “rampspoedig” aangesien ander staatshospitale nie in staat is om ongevallepasiënte te behandel wat veronderstel is om by CMJAH behandel te word nie.

Pasiënte wag verlede maand in die ongevalle-eenheid by die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die naburige Helen Joseph-hospitaal is op breekpunt met pasiënte wat dae lank in gange deurbring voordat hulle in ʼn saal opgeneem word.

Maroela Media het onlangs berig mense wat by Helen Joseph se ongevalleafdeling oorslaap, het met 500% toegeneem sedert CMJAH se ongevalleafdeling en psigiatriese eenheid se deure gesluit is.

Die gebrek aan ruimte by die Helen Joseph-hospitaal het gevolglik in ʼn “katastrofe” ontaard. Psigiatriese pasiënte word in enige kamer en beskikbare hoek ingebondel en hulle kan tot ʼn week lank op ʼn bed in ʼn saal wag.

Medici steier ook onder die ekstra werklas.

Kwara Kekana, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, sê alle personeel van CMJAH is aanvanklik na die Helen Joseph-hospitaal gestuur nadat die hospitaal sy deure moes sluit.

“Alle kategorieë personeel is ontplooi nadat die hospitaal gesluit is. Namate dienste weer hervat is, is personeel na CMJAH teruggeroep om hierdie dienste te lewer. CMJAH-personeel is ook na ander fasiliteite, veral in die Ekurhuleni-distrik, ontplooi waar groter getalle pasiënte ondervind is,” sê Kekana.

Volgens haar val altesame 14 hospitale in die CMJAH-groepering en personeel word ingevolge kliniese behoeftes ontplooi.

Medici kla dat hulle nie net sukkel om voor te bly weens die groter getal pasiënte nie, maar ook om voor te bly met genoeg voorraad, en Kekana sê benewens menslike hulpbronne het die departement ook ander toerusting soos beddens, ventilators, dialise-masjiene, medisyne en persoonlike beskermingstoerusting na die hospitaal gestuur.

“Die wagtyd vir beddens verskil van departement tot departement, maar omdat die Helen Joseph-hospitaal ʼn groter opvangsgebied het, veral vanuit die middestad, het dit in alle departemente toegeneem. Die departement onder die meeste druk is psigiatrie, waar pasiënte wat wag op beddens op enige gegewe tyd tot tussen 30 en 40 pasiënte toeneem.”

  • Lees al Maroela Media se berigte oor die Charlotte Maxeke-hospitaal en die las op naburige hospitale soos Helen Joseph hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Genis

Liewe genugtig het die ANC geen skaamte nie?

Andre

Viva ANC, kyk net hoe bekwaam is die ras

Johann

En dis die NASIONALE GESONDHEIDS STELSEL standaard wat die ANC najaag?

Pablo

Alles val inmekaar danksy die ANC se onbekwaamheid en korrupsie. O! ek het vergeet dis alles apartheid se skuld.

Blikkies

Die eers Johannesburg Algemene Hospitaal of beter bekend as ‘Jo’Burg Gen’ watter teken van voortuigang en trots met die beste toerusting ter wereld met wereld klas diens, nou net ‘n hoop as as gevolg van die onbekwame ANC regering. Dit is nou om van skaam te kry. En die naby gelee Hopitaal waarna hulle verwys was bekend as die JG Strydom Hospitaal, nog ‘n Afrika trots met hoogs opgeleide personeel, alles is nou tot niet, nog n ANC opgevrotte nalatenskap.