Checkers wil al hoe meer welvarende kopers lok

Checkers hoop om al hoe meer welvarende kopers te lok. (Foto: Shoprite Holdings)

Die kleinhandelreus Shoprite wat ook winkels soos Checkers, Checkers Hyper, LiquorShop en Usave bedryf, wil sy klantebasis in die afdelings vir troeteldiere, babas, gesondheid en skoonheid toenemend uitbrei.

Die winkelgroep mik boonop daarna om al hoe meer klante in die boonste marksegment vir Checkers-winkels te teiken met ʼn groter fokus op afdelings wat meer welvarende klante lok.

Checkers se plan om winkels op te knap en veral te fokus op vars produkte en waarde toegevoegde afdelings, help die kleinhandelaar om veld te wen in die middel tot boonste segment van die mark.

Checkers, wat Checkers Hyper insluit, het nou 271 winkels, waarvan agt oor die afgelope ses maande opgeknap is en vyf nuwe supermarkte die afgelope ses maande geopen het.

Altesame 12 nuwe PetShop Science-winkels en een Little Me-babawinkel is in dieselfde tydperk geopen. Nog 20 van dié niswinkels word beoog.

Pieter Engelbrecht, uitvoerende hoof, het Dinsdag die winkelgroep se jongste syfers bekend gemaak. Dit toon verkope van R9,1 miljard vir die ses maande wat eindig op 2 Januarie 2022. Verkope was boonop R8,3 miljard meer as in die eerste helfte van die 2021-boekjaar.

Die groep se algehele verkope het met 10,1% gestyg tot R22 miljard.

Die groep se pryse het in die ses maande met net 2,6% gestyg en die 23,1 miljoen klante wat deel is van Shoprite en Checkers se Xtra Savings-beloningsprogram, het R4,5 miljard in die ses maande-tydperk gespaar.

Talle winkels nog gesluit

Verskeie van die winkelgroep se winkels bly steeds gesluit ná verlede jaar se gewelddadige oproer, met Shoprite en Usave wat die kwaaiste in die plundering deurgeloop het. Altesame 126 Shoprite- en Usave-winkels is in die geweld geraak, maar albei kettinggroepe het verstommend vinnig herstel en gesamentlike groei van 7,3% vir die tydperk getoon.

Afsonderlik het Shoprite en Usave se verkope met onderskeidelik 6,8% en 12,1% toegeneem.

Shoprite het nou 527 winkels en het tien nuwes in die afgelope ses maande geopen. Nog 18 behoort voor die einde van die jaar te open. Usave het 395 winkels en het 11 nuwe winkels geopen en nege gesluit. Vyf van dié winkels sal weens die oproer permanent gesluit bly, maar Usave beoog om nóg 29 nuwe winkels teen die finansiële jaareinde in Junie vanjaar te open.

Drankwinkels

Checkers Sixty60, die handelaars se aflewerings-app, groei steeds uitstekend. (Foto: Shoprite Holdings)

Checkers Sixty60, die handelaars se aflewerings-app, groei steeds uitstekend en klante kan nou van 266 winkels (in vergelyking met 233 winkels ʼn jaar tevore) inkopies bestel. Met dié program kan klante hul kruideniersware binne 60 minute by hul deur laat aflewer.

Verkope by LiquorShop het met 49,8% toegeneem nadat vroeëre streng afsonderingsmaatreëls wat drankverkope beperk het, opgehef is. Die inperking het handelsdae in die betrokke tydperk van 182 tot 132 verminder.

In November verlede jaar is LiquorShop Online geloods. Skaars en duur drankies wat nie gewoonlik in winkels te kry is nie, is op die aanlyn platform vir tuisaflewering beskikbaar.

LiquorShop spog nou ook met 28 nuwe winkels en een drankwinkel is permanent weens verlede jaar se oproer gesluit. LiquorShop het die tydperk afgesluit met altesame 555 winkels en beoog om nog 27 winkels teen die einde van Junie te open.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Pietertjie ·

Die meer welvarende groep mense is besig om ál kleiner te word.

Suzette ·

Jys so reg. Het altyd Checkers besoek tot so 5mnde terug. Sedert ek begin rond kyk het, is my maandelikse inkopies soms tot R2000 minder. Vergelyk gerus julle sal verbaas wees

Jan Maer ·

Ek verskil van jou, as jy wisnkopies jaag ja, maar mandjie vir mandjie is Checkers goedkoper as PnP, Ek is nie seker is dit omdat dit ‘n Family store is nie,

VaalDonkie ·

Checkers het beter kaas en wyn as Woolworths. Ek weet dis nie al waarin rykes belangstel nie, maar dis definitief iets wat in hul guns tel.

JL ·

Dalk eerder daaraan werk om hulle “online shopping app” te kry om behoorlik te funksioneer. Nie almal loop in winkels rond nie. Die app het baie goed gewerk en sedert begin Feb kan nie eens hulle IT afdeling probleme oplos nie.

Gerda ·

Kalahari Mall in Upington se Checkers lewer baie swak diens. Daar is nooit ʼn trollie binne-in die winkel nie en hopeloos teveel betaalpunte is onbeman. Kla help ook nie.

Dana ·

Ons plaaslike Checkers sal hul vleisprodukte moet opknap. Al paar keer vrot vleis by hul gekoop. En wanneer mens daar instap ruik mens net vis!!!!

Susan ·

Die kafee by ons het verskeie produkte ( selfde brand) wat goedkoper is as Checkers !!

Stephen ·

Met “welvarend” bedoel hulle seker die karre wat die kopers ry, want geld is daar nie. Ons ondervind elke dag hoe die middelklas bevolking sukkel om finansieel kop bo water te hou.
Neem die sluit van ou gevestigde besighede en die werksverliese as gevolg van disinvestreing in rekening, dan kom mens agter hoe haglik die ekonomie werklik daar uitsien.
Dit is nie alles die skuld van Covid nie. Die “useless” regering het groot skuld daarin. Sopas verneem van n aanleg van 75 miljoen SAR wat sluit in SA omdat die buitelandse eienaars wat bekend is aan ons, nie meer aan die eise van die vakbonde kan voldoen nie.
Ons kleinkinders sal eendag nog hoor dis alles Covid se skuld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.