Cheeky Watson dán verhoor oor bedrog

Watson buite die hof. Foto: Skermskoot/ANA-video/Twitter

Cheeky Watson, voormalige rugbybaas van die Oostelike Provinsie, se datum vir verhoor op aanklagte van bedrog en geldwassery is vasgestel.

Watson en sy drie medebeskuldigdes, Nadia Gerwel (51), Mandisi Mkaza (54) en Joeleen Andrea Wessels (48), se verhoor sal in Julie volgende jaar begin en is vir vier weke op die hofrol geplaas.

Die datum is Vrydag in die hof vir kommersiële misdade in Port Elizabeth bepaal, waarna verrigtinge uitgestel is vir finale opdragte en ʼn voorverhoorkonferensie.

Watson, Gerwel, voormalige assistentdirekteur van die Nelson Mandelabaai-metro se finansiële afdeling, Wessels, direkteur van Zeranza, en Mkaza, voormalige direkteur van Laphum’ilanga Transport Services, staan tereg op aanklagte van bedrog en geldwassery ná ʼn langdurige ondersoek deur die Valke.

Die ondersoek het gevolg ná die metro-tesourie se goedkeuring van R208 miljoen vir die verbetering van die geïntegreerde padvervoerdiens (IPTS) in die metro. Die Valke se voorlopige ondersoek dui daarop dat die verdagtes ʼn bedrag van R12 miljoen vir eie gewin gebruik het. Die staat beweer Gerwel en Wessels het ʼn gebeurtenisbestuursmaatskappy, ESP Africa, gebruik om die geld te verduister. Toe dié maatskappy egter nie meer lewensvatbaar was nie, het die beskuldigdes glo op die rûe van Access Management, wat by die Nelson Mandelabaai-stadion dienste verrig, en die Oostelike Provinsie Rugbyunie (OPRU) gery.

Hulle het hulself in Maart vanjaar aan die polisie oorgegee. Die vier is later op borgtog van R2 000 elk vrygelaat. Hulle moes hul paspoorte inhandig en moet dus toestemming van die ondersoekbeampte kry om na die buiteland te reis.

Watson het in Februarie sy bedanking as president van die Opru ingedien. Die Opru is reeds langer as ʼn jaar onder administrasie van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru).

IPTS word tans as die stad se grootste korrupsieskandaal beskou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Milogeisha ·

Net R12 miljoen vir eie gewin aangewend en hulle word vervolg. Wat van ander openbare figure wat baie meer vir eie gewin aangewend het………

Chris.l ·

Dit is nou rerig om van te KOTS steel 12 miljoen en borgtog van R2000 daar is mense wat minder gesteel het
en baie meer borg moes betaal of vir maande in die tronk gesit het.

Henk ·

wanneer ondersoek die valke die OPRU onder Watson se geldsake?

Neels ·

Cheeky en sy seun Puke is ewe sleg. Nooit van enige van die 2 gehou nie, maar nou ja, slim vang sy baas een of ander tyd ….

bloues ·

Vandat die makker en sy seun (wat nie op n rugbyveld hoort nie) weg is het die Kings se rugby sommer baie verbeter

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.