Cheeky Watson eers dán verhoor

Watson buite die hof. Foto: Skermskoot/ANA-video/Twitter

Cheeky Watson, voormalige rugbybaas van die Oostelike Provinsie, se verhoor op aanklagte van bedrog en geldwassery sal in Augustus aangehoor word.

Die hof vir handelsmisdade in Port Elizabeth het die verhoor Vrydag tot 20 Augustus uitgestel.

Watson; Nadia Gerwel (51), voormalige assistentdirekteur van die Nelson Mandelabaai-metro se finansiële afdeling; Andrea Wessels (48), direkteur van Zeranza; en Mandisi Mkaza (54), voormalige direkteur van Laphum’ilanga Transport Services, staan tereg op aanklagte van bedrog en geldwassery ná ʼn langdurige ondersoek deur die Valke.

Die beweerde bedrieglike aktiwiteite het glo R12 miljoen beloop.

Watson en sy medebeskuldigdes het hulself verlede jaar Maart aan die polisie oorgegee en is tans op R2 000 borgtog elk uit.

Wessels het glo met Gerwel gekonkel om die metro te bedrieg op ʼn manier wat hulle onwettige toegang tot die kusdorp se geïntegreerde padvervoerdiens (IPTS) gegee het.

Die ondersoek het gevolg ná die metro-tesourie se goedkeuring van R208 miljoen vir die verbetering van die IPTS in die metro.

Die staat beweer Gerwel en Wessels het ʼn gebeurtenisbestuursmaatskappy, ESP Africa, gebruik om die geld te verduister. Toe dié maatskappy egter nie meer lewensvatbaar was nie, het die beskuldigdes glo op die rûe van Access Management, wat by die Nelson Mandelabaai-stadion dienste verrig, en die Oostelike Provinsie Rugbyunie (OPRU) gery.

In 2007 het die tesourie ʼn begroting van R208 miljoen vir die IPTS-stelsel goedgekeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Daan ·

Puke Watson se pa so baie te sê gehad en waarmee was hy toe al die tyd besig mee?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.