Cheeky Watson: Verhoor begin toe nié vandag

Cheeky Watson en sy medebeskuldigdes Maandag 20 Augustus in die hof. Foto: ANA.

Cheeky Watson, voormalige rugbybaas van die Oostelike Provinsie, en sy drie medebeskuldigdes se verhoor op aanklagte van bedrog en geldwassery is Maandag in die Port Elizabeth handelsmisdaadhof uitgestel.

Watson, Nadia Gerwel (51), voormalige assistentdirekteur van die Nelson Mandelabaai-metro se finansiële afdeling, Andrea Wessels (48), direkteur van Zeranza, en Mandisi Mkaza (54), voormalige direkteur van Laphum’ilanga Transport Services, staan tereg op aanklagte van bedrog en geldwassery ná ʼn langdurige ondersoek deur die Valke.

Die beweerde bedrieglike aktiwiteite beloop glo R12 miljoen.

Wessels het glo met Gerwel gekonkel om die metro te bedrieg op ʼn manier wat hulle onwettige toegang tot die hawestad se geïntegreerde padvervoerdiens (IPTS) gegee het.

Watson en sy medebeskuldigdes het hulself verlede jaar Maart aan die polisie oorgegee.

Die vier het Maandag met ʼn leër prokureurs in die hof verskyn. Die verhoor sou na verwagting vandag begin het, maar die regsverteenwoordigers van die beskuldigdes het egter twee aansoeke gebring.

Watson se regspan het gevra dat Watson se saak geskei word van dié van die ander omdat hý net op twee aanklagte tereg staan vergeleke met die medebeskuldigdes se meer as 40 aanklagte.

Landdros Lionel Lindoor het dié aansoek egter van die hand gewys en gesê dit sal nie in die belang van geregtigheid wees om ʼn aparte verhoor vir Watson te hê nie.

Intussen het Mkaza, Wessels en die Zeranza-maatskappy se regspan gevra vir uitstel omdat hulle beweer daar is dokumentasie uitstaande in die dossier wat aan hulle verskaf is.

Lindoor het vir hulle uitstel gegee tot 2 Oktober om die dokumentasie te finaliseer en voor te berei vir die verhoor.

Die ondersoek na die beweerde bedrog het gevolg ná die metro-tesourie se goedkeuring van R208 miljoen vir die verbetering van die IPTS in die metro.

Die staat beweer Gerwel en Wessels het ʼn gebeurtenisbestuursmaatskappy, ESP Africa, gebruik om die geld te verduister. Toe dié maatskappy egter nie meer lewensvatbaar was nie, het die beskuldigdes glo op die rûe van Access Management, wat by die Nelson Mandelabaai-stadion dienste verrig, en die Oostelike Provinsie Rugbyunie (OPRU) gery.

Die verhoor sal nou na verwagting in Desember begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

IK ·

Die meeste van dit wat met jou gebeur is maar eintlik jou eie toedoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.