Chemie-vraestel ‘billik met vrae wat uitdaag’

chemie

Foto: Hans Reniers/Unsplash.com

Die tweede wetenskapvraestel was regverdig, maar het ook heelwat vrae bevat wat meer dinkwerk van matrikulante sou geverg het.

Leerders het landwyd Maandagoggend gesit om die chemievraestel te skryf.

Hugo Vermeulen van die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Wetenskap-onderwysersvereniging (Weto) meen die vraestel was billik en as leerders hulle voorbereiding gedoen het, behoort hulle goed in die vraestel te presteer.

“By die kort vrae was daar twee vrae waaroor leerders bietjie sou moes dink, maar die lang vrae was ook baie redelik. Indien leerders by die organiese chemie hulle teorie en reaksietoestand goed geken en onthou het wat hulle tydens die eksperiment van die bereiding van esters gedoen het, behoort hulle regtig baie goed te vaar,” sê Vermeulen.

“Verder was die vraag oor tempo van chemiese reaksies interessant gevra. Leerders sou dit nie moeilik gevind het indien hulle die tabel goed bestudeer het nie.”

Vermeulen sê dit is net die Kc- konstante vragie wat ’n uitdaging aan leerders sou stel.

“Die laaste vraag by sure en basisse is ook weer ’n vraag wat die leerders bietjie sou uitdaag. Redoksreaksies is regtig nie moeilik gevra nie en die vraag oor elektrolise is basies die teorie vir die suiwering van koper. Die kunsmisvragie is ook weereens billik gevra.”

Fisika-vraestel was “makliker as rekordeksamen”

Daarenteen het baie van die matrikulante wat Vrydagoggend die fisikavraestel afgelê het, gesê hulle voel die eindvraestel was makliker as die vraestel wat hulle in die rekordeksamen teëgekom het.

“Die vraestel was regverdig en ek het genoeg tyd gehad om klaar te maak. Dit was vir seker beter as die rekordeksamen,” het JJ Bouwer, ʼn matrikulant aan die Hoërskool Erasmus in Bronkhorstspruit, gesê.

Wessel Gertzen, nog ʼn matrikulant aan dié skool, meen ook die vraestel was beslis makliker as in die rekordeksamen, maar hy het steeds met vraag twee gestoei. Die vraag het met Newton se tweede wet verband gehou. Om dié vraag te beantwoord moes leerders diep delf om inhoud van die gr. 11-sillabus te onthou.

“Leerders sê dit was die lekkerste vraestel wat hulle nog geskryf het. Dit was gevra soos hulle gewoond is en waarvoor hulle voorberei het,” het ’n fisiesewetenskap-onderwyser aan Oos-Moot in Pretoria gesê.

Vermeulen reken die vraestel was ook op peil, maar nie maklik nie. “Leerders wat nie met fyn begrip die vrae deurgelees het nie, sou maklik uitgevang kon word. Die vrae is egter van so ’n aard dat leerders met gemak sal kan deurkom, indien hulle deur die jaar hard gewerk het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Chemikus Fisikanes ·

Ek glo beide toetse was billik, mits jy die beginsel van die vraag verstaan.

Daar was wel vrae waarmee jy maklik uitgevang kon word, as jy nie mooi lees nie en oorhaastig is. Veral by die kort vrae.

Organiese chemie was heel billik en waarskynlik die maklikste in die toets.

Die reaksietempo vraag was heel billik en die berekening met die tabelwaardes was heel eenvoudig.

Die Kc-som by ewewig was agterstevoor om gevra en dus moes jy bietjie buite die boks dink.

Die moeilike stoigiometrie vrae waarvan hierdie berig praat, stem ek nie mee saam is uitdagend nie. As daar ‘n vermenging van stowwe is met ‘n beperkte reaktans is die som veel moeiliker.

Elektrochemie was maar soos altyd gevra.

Kunsmis was veel makliker gevra as die vorige jare.

Van onderwyser (mag nie skool naam noem)

Madeliena van der Dingering ·

Ek dink dis toets was billik, mits jy mooi kon lees. Fisika wel makliker as Chemie… SOOS gewoonlik.

Baphomet ·

Ek stem heeltemal saam, Dingering. Net bly chemie is uiteindelik verby.

Sharon Smith ·

Maroela Media
Waarom word daar net kommentaar/terugvoer gegee oor matriek Afrikaans, Wiskunde en Wetenskap eindvraestelle.
Sal terugvoer oor ander vakke ook wardeer.
Dankie
Graad 12 ma

Baphomet ·

Wel, daar was ook daai hele ding met die engelse vraestel. Maar ja, ander vakke sou ook waardeer word

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Sharon

Baie dankie vir jou navraag!
Maroela Media is ʼn klein maar gedugte nuusspan en probeer so wyd, asook gebalanseerd oor alle nuusgebeure berig as moontlik. Ons moet ons energie fokus om hierin te slaag en het hierdie jaar besluit om onsself toe te spits om terugvoer te verskaf oor sekere vakke soos wiskunde, Afrikaans en wetenskap. Verder sal die span beslis ook berig oor enige probleme met vraestelle soos byvoorbeeld die klagtes wat daar oor die eerste vraestel van Engelse addisionele taal was.

Ouers en matrikulante is natuurlik ook altyd welkom om Maroela Media direk op hoogte hou van hoe sake met die onderskeie vraestelle verloop het.
Verder sal ons beslis volgende jaar kyk hoe ons, ons nuusdekking hieroor moontlik verder kan uitbrei.

Sterkte met jou kind se eksamen!

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Beelzebub ·

If everyone is doing it, i might as well join.

Die vraestel was great by the way. Ek was n idiot by vraag 7 gewees maar oh well

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.