Chemie-vraestel ‘billik met vrae wat uitdaag’

chemie

Foto: Hans Reniers/Unsplash.com

Die tweede wetenskapvraestel was regverdig, maar het ook heelwat vrae bevat wat meer dinkwerk van matrikulante sou geverg het.

Leerders het landwyd Maandagoggend gesit om die chemievraestel te skryf.

Hugo Vermeulen van die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Wetenskap-onderwysersvereniging (Weto) meen die vraestel was billik en as leerders hulle voorbereiding gedoen het, behoort hulle goed in die vraestel te presteer.

“By die kort vrae was daar twee vrae waaroor leerders bietjie sou moes dink, maar die lang vrae was ook baie redelik. Indien leerders by die organiese chemie hulle teorie en reaksietoestand goed geken en onthou het wat hulle tydens die eksperiment van die bereiding van esters gedoen het, behoort hulle regtig baie goed te vaar,” sê Vermeulen.

“Verder was die vraag oor tempo van chemiese reaksies interessant gevra. Leerders sou dit nie moeilik gevind het indien hulle die tabel goed bestudeer het nie.”

Vermeulen sê dit is net die Kc- konstante vragie wat ’n uitdaging aan leerders sou stel.

“Die laaste vraag by sure en basisse is ook weer ’n vraag wat die leerders bietjie sou uitdaag. Redoksreaksies is regtig nie moeilik gevra nie en die vraag oor elektrolise is basies die teorie vir die suiwering van koper. Die kunsmisvragie is ook weereens billik gevra.”

Fisika-vraestel was “makliker as rekordeksamen”

Daarenteen het baie van die matrikulante wat Vrydagoggend die fisikavraestel afgelê het, gesê hulle voel die eindvraestel was makliker as die vraestel wat hulle in die rekordeksamen teëgekom het.

“Die vraestel was regverdig en ek het genoeg tyd gehad om klaar te maak. Dit was vir seker beter as die rekordeksamen,” het JJ Bouwer, ʼn matrikulant aan die Hoërskool Erasmus in Bronkhorstspruit, gesê.

Wessel Gertzen, nog ʼn matrikulant aan dié skool, meen ook die vraestel was beslis makliker as in die rekordeksamen, maar hy het steeds met vraag twee gestoei. Die vraag het met Newton se tweede wet verband gehou. Om dié vraag te beantwoord moes leerders diep delf om inhoud van die gr. 11-sillabus te onthou.

“Leerders sê dit was die lekkerste vraestel wat hulle nog geskryf het. Dit was gevra soos hulle gewoond is en waarvoor hulle voorberei het,” het ’n fisiesewetenskap-onderwyser aan Oos-Moot in Pretoria gesê.

Vermeulen reken die vraestel was ook op peil, maar nie maklik nie. “Leerders wat nie met fyn begrip die vrae deurgelees het nie, sou maklik uitgevang kon word. Die vrae is egter van so ’n aard dat leerders met gemak sal kan deurkom, indien hulle deur die jaar hard gewerk het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chemikus Fisikanes

Ek glo beide toetse was billik, mits jy die beginsel van die vraag verstaan. Daar was wel vrae waarmee jy maklik uitgevang kon word, as jy nie mooi lees nie en oorhaastig is. Veral by die kort vrae. Organiese chemie was heel billik en waarskynlik die maklikste in die toets. Die reaksietempo vraag was heel billik en die berekening met die tabelwaardes was heel eenvoudig. Die Kc-som by ewewig was agterstevoor om gevra en dus moes jy bietjie buite die boks dink. Die moeilike stoigiometrie vrae waarvan hierdie berig praat, stem ek nie mee saam is uitdagend nie. As daar… Lees meer »

Madeliena van der Dingering

Ek dink dis toets was billik, mits jy mooi kon lees. Fisika wel makliker as Chemie… SOOS gewoonlik.

Sharon Smith

Maroela Media
Waarom word daar net kommentaar/terugvoer gegee oor matriek Afrikaans, Wiskunde en Wetenskap eindvraestelle.
Sal terugvoer oor ander vakke ook wardeer.
Dankie
Graad 12 ma

Beelzebub

If everyone is doing it, i might as well join.

Die vraestel was great by the way. Ek was n idiot by vraag 7 gewees maar oh well