Chemiese brand laat Durban inwoners paniekerig, kort van asem

Foto verskaf deur Rescue Care

ʼn Brand wat Vrydagmiddag laat by ʼn fabriek in Durban uitgebreek het, het inwoners laat hoes en hulle kort van asem gelaat, aldus lede van die gemeenskap.

Die brand het by Hosaf plaasgevind, ʼn veselaanleg gebaseer in Mobeni, suid van Durban. Die maatskappy vervaardig poliëtileentereftalaat (PET)-hars en poliëstervesel.

Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, het gesê paramedici is omstreeks 16:00 na die fabriek ontbied. “Gelukkig het niemand beserings opgedoen nie, maar die brandweer en alle nodige rolspelers was op die toneel.”

Inwoners van die Bluff en Umbilo het teen 18:30 ʼn “sterk plastiekreuk” aangemeld, het Jamieson bygevoeg. Sterk wind het die dampe oor ʼn wye gebied versprei.

Inwoners, so ver as 10 km van die fabriek, het aan die African News Agency (ANA) gesê hulle het ook die plastiekreuk geruik.

Nomusa Dube-Ncube, KwaZulu-Natalse LUR vir ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake, het gesê ʼn “span kundiges” is ontbied om die gebied te ondersoek. “Ons is bewus daarvan dat die betrokke gebied onder lugbesoedeling deurloop, en talle persone ervaar asemhalingsprobleme. Dit kan nie normaal wees nie.”

Desmond D’Sa, wat in Jacobs bly en aan die hoof staan van die Suid-Durbanse gemeenskapsomgewingsalliansie (SDCEA), het gesê die brand en reuk is die gevolg van Dowtherm, ʼn verbinding wat in nywerheidshitteoordragstelsels gebruik word. “Ons oë en vel is hierdeur geraak. Ons oë het gebrand. Baie kinders is hierdeur geraak. Ou mense en babas is veral baie erg hierdeur geraak,” het D’Sa bygevoeg.

Volgens hom is die aanleg ná die voorval gesluit en SDCEA sal na verwagting met die bestuur van die maatskappy vergader.

ANA berig die voorval is ook aan die departement van omgewingsake voorgehou.

Robert Smith, ʼn inwoner van Berea, het gesê die reuk was “oorweldigend”. “Die reuk was só erg dat ons al die vensters moes toemaak. In ʼn stadium het ons oorweeg om die gebied vir die aand te verlaat. Ons monde was droog en ons hoë het gebrand. My vrou het ʼn erge hoofpyn gehad.”

Die brand volg ná ʼn chemiese storting Woensdag in Pietermaritzburg, wat ook onder die nasionale departement van omgewingsake se aandag gebring is. Groente-olie en bytsuur het glo in die Baynespruit-stroom ingelek en uiteindelik ook in die Msunduzi-rivier, en visse en vee het gevrek. Die skoonmaakbedrywighede het Vrydag voortgeduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Skyler. X ·

Glad nie net enige brand nie – PET wat brand stel dodelike gevaarlike gasse vry en kan hart en longsiektes veroorsaak!!! Jy sou nie gaap as jou familie hierdie moes inasem nie!

Strandloper ·

Mmmm seeker die selfde kader electrician wat die vloot se duikboot af gebrand het…

Gert van Wierdapark ·

Sjoe! Ons moet seker nie verwag dat omgewing sake vinnig uit hul blokke sal kom nie!? More is mos nog ‘n dag!

Anita ·

Niks verbaas my nie, hierdie is ‘n ramp maar hier waar ons bly in Gordonsbaai is die Munisipale dienste so sleg en word GIF met ‘n trekker gespuit, die werker is nie beskerm nie, ons weet nie watter sooort gif dit is nie en durf geen vensters oopmaak nie, as dit hier gebeur , hoe erg is die saak met die fabriek daar? daar is geen OMGEE meer in hierdie land nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.