Chemiese storting aan Weskus eindelik afgehandel

Die vaartuig NS Qingdao. (Foto: Samsa)

Suid-Afrikaanse gesondheid- en omgewingsowerhede het eindelik die storting van die chemiese vrag aan boord die vaartuig NS Qingdao aan die Weskus afgehandel.

Owerhede spook al vir maande om die tonne chemikalieë in die see te stort nadat die einste vaartuig noodgedwonge verlede jaar die Durban-hawe moes verlaat toe sy vrag chemikalieë giftige uitlaatgasse begin vrystel het.

Die skip lê tans by die Saldanha-hawe aan die Weskus voor anker.

“Die NS Qingdao het nou die storting van sy chemiese vrag voltooi, wat die stortingsoperasie wat in Oktober van stapel gestuur is, tot ʼn einde bring,” het die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) gesê.

ʼn Groot gedeelte van die vrag is reeds verlede maand met behulp van 1 000 vullishouers na die Vissershok-afvalbestuursterrein vir hoogs gevaarlike afval gestuur. Potensiële besmette water is ook op dieselfde terrein mee weggedoen.

Die res van die vrag is in die see gestort nadat ʼn noodstortingspermit vroeër van die departement van bosbou, visserye en omgewing verkry is. Dié vrag is skynbaar nie gevaarlik vir mariene lewe nie.

Volgens Samsa hou hy steeds ʼn wakende oog oor die seegebied waar die chemikalieë gestort is, maar daar is nog nie tekens dat die seelewe deur die storting geraak is nie.

“Tot op hede is geen bedreigings vir die seelewe geïdentifiseer nie en omgewingsmonitering wat onder andere satellietbeelde insluit, sal voortgaan.”

Samsa het ook bevestig dat die ondersoek na die oorsaak van die onstabiliteit van die chemiese vrag steeds voortgaan, maar maan dat die ondersoek minstens nog 12 maande kan duur. Daarna sal die volledige verslag aan Samsa gestuur word.

“Die vaartuig is steeds onderhewig aan verskeie inspeksies en herstelwerk en sal nie toegelaat word om voort te vaar na die volgende bestemming totdat sy seewaardigheid bevestig word nie,” sê Samsa.

“Samsa en die departement het ʼn ooreenkoms met die vaartuig se eienaars bereik om ʼn mediumtermyn- tot langtermynomgewingsmoniteringsprogram (EMP) te implementeer. Die program sal nie net enige onmiddellike impak aanspreek nie, maar ook enige toekomstige impakte moniteer en versag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

Dit gee gifgasse af, maar dit is nie gevaarlik vir die seelewe nie…. Maak dit sin ?

annie ·

… en wie is betaal vir die voorreg? Duidelik was dit die hoofdoel van die skeepseienaar om iewers sy giftige nie-giftige vrag te ontlaai. Mens kan raai dis ‘n ou laai van die groep om kamma in die nood te raak en dan iemand se guns te wen. Afrika is ‘n maklike prooi vir sulke hulpies.

Paul ·

1000 vragte word by Vissershok geberg vir giftige materiaal.. maar die chemicals in die see is nie??? Hoe is dit??? Eish

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.