Dit kan nog sowat drie weke duur voordat die laaste problematiese chemiese vrag aan boord die NS Qingdao in die see gestort word. Dié skip lê tans by die Saldanha-hawe aan die Weskus voor anker.
Maroela Media het vroeër berig dat die NS Qingdao noodgedwonge in Oktober verlede jaar die Durban-hawe moes verlaat toe dit giftige uitlaatgasse begin vrystel het. ’n Noodstortingspermit is destyds van die departement van bosbou, visserye en omgewing verkry om die vrag chemikalieë in die see te stort. Die tipe chemikalieë wat gestort word, is skynbaar nie gevaarlik nie.
Die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) sê dit is een van die mees intense, delikate en tydrowende vragbeheerprosesse wat owerhede in ʼn lang tyd moes onderneem.
Die vaartuig sou van Sondag af weer sy bedrywighede op ʼn voorafbepaalde ankerplek voortsit.
“Die proses verloop op ’n veilige en goed gekoördineerde wyse en goeie vordering is gemaak,” het Samsa Vrydag in ʼn verklaring gesê.
ʼn Groot gedeelte van die chemiese vrag is reeds vandeesmaand gestort en na die Vissershok-afvalbestuursterrein vir hoogs gevaarlike afval gestuur. Afvalwater sal ook in tenks gepomp word en na dieselfde afvalbestuursterrein gestuur word.
Samsa sal oor ongeveer drie weke ʼn inspeksie uitvoer om te bepaal of dit veilig is vir die skip om sy tog na Brasilië voort te sit met die oorblywende vrag aan boord.
Die vrag word ongeveer 250 km van die kus aan St. Helenabaai gestort in water van meer as 3 km diep, nadat die vaartuig se eienaars, aangestelde omgewingspesialiste, die departement en Samsa ’n ooreenkoms bereik het.
“Omgewingspesialiste, in samewerking met die departement, moniteer die kus- en seegebied voortdurend om enige bedreigings vir die mariene omgewing te bepaal. “Satellietbeelde het tot dusver geen onmiddellike aanduidings van ʼn skadelike uitwerking op die omgewing of seelewe getoon nie,” het Samsa gesê.
Dit bestaan uit ʼn mengsel van natriummetabisulfiet, magnesiumnitraat-heksahidraat, byt-gekalsineerde magnesiet, elektrodepasta, monoammoniumfosfaat, ystersulfaatmonohidraat, sinksulfaatmonohidraat, dikalsiumfosfaat, watervrye natriumsulfiet en kalsiumchloried.
Die ondersoek na die oorsaak van die giftige gasse wat in Durban vrygestel is, duur tans voort. Dit sal na verwagting 12 maande neem om af te handel. “Die eienaar van die vaartuig gaan voort om met alle owerhede saam te werk en het alle uitgawes tot dusver met betrekking tot hierdie operasie gedek.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
3 Kommentare
Chemiese stof wat gif gas afskei maar dit is skadeloos. Maak dit sin ? Ek dink nie so nie. Hoe kan enige chemiese stof in die oseaan gestort word ? Daar gaan verseker negatiewe gevolge as gevolg daarvan wees.
Geen onmiddelike aanduiding nie???
Niemand kan dus bepaal wat Langtermyn Effek gaan weet nie???
Wat? Skade? Nog nooit gesien nie, edelagbare!