Chemiese storting in KZN skoongemaak

Giftige stowwe het in die see beland nadat die aanleg tydens die oproer aan die brand gesteek is. (Foto: Carol Booth/Facebook)

Die reuse- chemiese storting by ʼn aanleg van United Phosphorus Limited (UPL) in Cornubia, KwaZulu-Natal, wat tot die vrekte van duisende visse en ander seediere gelei het, is vandeesweek suksesvol skoongemaak.

Die UPL het bevestig dat meer as 100 personeellede van ʼn spesialis- chemiese opruimingsmaatskappy onverpoos gewerk het om die besmette water en strome skoon te maak.

Groot hoeveelhede onkruiddoders, swamdoders en plaagdoders het in Julie vanjaar in die see beland toe oproermakers onder meer die UPL-aanleg in Durban aan die brand gesteek het tydens die sogenaamde Zuma-onluste.

Luidens ʼn verklaring op UPL se webwerf het spesialisspanne van omgewingsingenieurs, hidroloë en akwatiese ekoloë nou al die grootste deel van die besmette water en sedimente uit strome verwyder. ʼn Poging om die oorblywende besmette water te behandel sal na verwagting binnekort van stapel gestuur word.

“Planne word ook beraam om die betrokke rivier- en vleilandstelsels te rehabiliteer sodat dit weer ʼn funksionele en gesonde habitat kan wees,” lui die UPL se verklaring.

Volgens die maatskappy het monsters wat kort ná die onluste van die lug rondom die aanleg geneem is, gedui op hoë vlakke van stof, ammoniak en sulfaatdioksied wat tydens die brand in die lug vrygestel is. Besoedelingsvlakke het egter sedertdien aansienlik gedaal en die gehalte van die lug is weer op ʼn aanvaarbare vlak. Die vlak van chemikalieë in die water rondom die aanleg was ook nooit onaanvaarbaar hoog nie, maar word voortdurend gemonitor.

ʼn Veelparty-ondersoekspan wat saamgestel is om die storting te ondersoek, se verslag oor die storting is byna afgehandel.

Dié verslag sal teen die einde van September bekend gemaak word.

“UPL sal voortgaan om alles in sy vermoë te doen om die betrokke gifstowwe uit die omgewing te verwyder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Tiptol

Die boosdoeners het nie eers ‘n idee wat hulle aangevang het nie.