Chemikalie-storting in Centurion lei tot padsluiting

Wierdaweg is gesluit by Selbournelaan. Foto: CCC

Wierdaweg is gesluit by Selbournelaan. Foto: CCC

ʼn Gedeelte van ʼn besige pad in Centurion is Woensdagmiddag vir verkeer gesluit nadat een of ander chemikalie in nagenoeg dertig 200 liter-dromme onwettig in ʼn veld naby die N14-snelweg gestort is.

Hannes du Buisson, woordvoerder van die Centurion Concerned Citizens (CCC)-veiligheidsgroep, het aan Maroela Media gesê die M10 (Wierdaweg) is gesluit tussen Selbornelaan en Ashwoodrylaan nadat mense aan die chemikalie blootgestel is.

“Na wat verneem word, het rondlopers op die ysterdromme afgekom en dit oopgemaak. Hulle het die inhoud uitgegooi om moontlik die dromme as skrootmetaal te verkoop,” het Du Buisson gesê. Hy het gesê CCC het klagtes ontvang dat die gas wat deur die chemikalie afgeskei word, mense duiselig en naar maak.

Die Tshwane-nooddienste is na die toneel ontbied om ondersoek in te stel. Die nooddienste het die gebied vir veiligheidsdoeleindes afgesper. Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het aan Maroela Media gesê die brandweer is omstreeks 13:00 ontbied.

“Ons het dadelik toetse op die produk gedoen en dit het nie giftig getoets nie. Ons weet egter nog nie wat die produk is nie, dit sal in ʼn laboratorium vasgestel moet word,” het Pieterse gesê. “Dit het ʼn teeragtige kleur en bestendigheid, en dit skei moontlik ammoniak af.”

Pieterse het benadruk dat die aanvanklike ondersoek daarop dui dat die chemikalie nie ʼn onmiddellike gevaar vir mense in die omgewing inhou nie. “Ons wag vir beamptes van omgewingsake om verdere toetse te kom doen en die gebied op te ruim, dan sal die gebied behoorlik gerehabiliteer moet word.” Hy het inwoners aangeraai om ʼn huisdokter te besoek as hulle nie goed voel nie.

Pieterse het gesê die gebied is berug vir onwettige stortings. “Dit is glad nie bekend wanneer die dromme daar gestort is nie, en dit sal ondersoek word. Ons doen ʼn beroep op mense om dadelik die metropolisie of omgewingsake in kennis te stel as hulle ongerymdhede daar opmerk,” het hy gesê.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici het twee mense behandel wat dampe van die mengsel ingeasem het. “Die mans het op die toneel behandeling ontvang en het nie hospitalisering nodig gehad nie,” het Meiring gesê.

Die pad is teen 15:45 weer vir verkeer oopgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wat-ek-lees ·

Sowat 6000 liter oftewel 6 ton. Iemand moes dit gesien het maar deesdae loop mense met oogklappe soos karperde en wil nie betrokke raak. Slegs wanneer hulleself hulp benodig dan . . .

Treurig ·

Probeer om ‘n insident by die Metro polisie aan te meld as en wanneer hulle jou oproep beantwoord gaan hulle jou 9 uit 10 keer se om die sapd te kontak en as jy dit doen gaan die sapd geniuse jou weer terug verwys na die Metro polisie.

Eliza-beth ·

Die plek is “berug vir onwettige storting” ? So hoekom is daar nie kameras om oortrders af te neem om die tipe dinge vorentoe te verhoed nie? Vang die oortreders en maak ‘n voorbeeld van hulle. Mense het geen idee wat se langdurige uitwerking sulke dinge op die mens en die natuur mag hê nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.