Cheverné: Dokters se vrese bevestig

Cheverné Duvenhage (Foto: Facebook)

Cheverné Duvenhage, ʼn gr. 8-leerder van Hoërskool Driehoek wat net meer as twee weke gelede in die tragedie by dié skool ernstig beseer is, sal Maandag ʼn derde operasie aan haar maag ondergaan nadat sy nóg ʼn terugslag beleef het.

Elardus Duvenhage, Cheverné se pa, het Maandagoggend aan Maroela Media gesê sy het wel infeksie opgedoen soos dokters gevrees het ná die tweede maagoperasie.

Cheverné het sowat ʼn week gelede ʼn operasie aan haar maagwand ondergaan toe die eerste operasie nié so suksesvol soos verwag verloop het nie. “Haar maagwand is lyk my te dun om te heg en het weer geskeur. Dokters het nou ʼn maasstof ingesit en haar weer toegewerk,” het Elardus voorheen aan Maroela Media gesê.

Cheverné is verlede week fyn gemonitor vir enige teken van infeksie wat waarskynlik kan voorkom wanneer ʼn pasiënt ʼn tweede operasie moet ondergaan.

“Sy hét toe ʼn wondinfeksie opgedoen. ʼn Mens se maag het glo verskillende lae. Haar dokter sal vandag die boonste laag van haar maag weer oopmaak om die oorsprong van die infeksie op te spoor en dit skoon te maak,” het Elardus vanoggend gesê.

Hy vertel dat Cheverné se dokter haar wond ná vandag se operasie vir eers nié sal toewerk nie, maar oop los sodat hospitaalpersoneel die wond kan dophou.

Volgens Elardus het verpleegsters Sondag Cheverné se wond skoongemaak toe hulle ʼn rooierigheid om haar naeltjie opmerk. “Die dokter sê daar is ʼn kans van 90% dat dit slegs ʼn lokale infeksie is. Ons hoop en bid en glo dat dit maar net ʼn oppervlakkige infeksie is. Ons sal egter eers ná vandag se operasie weet. ”

Ondanks die infeksie gaan dit in die omstandighede goed met Cheverné. Toetse van haar buik en longe het bevestig dat sy wel stadig maar seker herstel. Sy kry ook tans ʼn reeks antibiotika om die infeksie onder beheer te hou. Haar infeksietelling het sedertdien afgeneem, vertel Elardus.

Cheverné is egter steeds onder verdowing en aan ʼn ventilator gekoppel in die waakeenheid van ʼn hospitaal in Alberton. “Sy is kriewelrig en beweeg te veel. Haar dokter wil haar so stil moontlik hou, veral met ʼn maagwond,” verduidelik hy.

Die 13-jarige se longe sukkel om op hul eie asem te haal en daarom is Cheverné steeds aan die ventilator gekoppel. “Hulle het die ventilator ʼn bietjie afgestel. Hulle begin haar darem al van die masjien speen. Sy het wel nog ʼn entjie om te gaan,” sê Elardus.

Hy vermoed dat Cheverné nog lank onder verdowing gehou sal word veral ná haar jongste terugslag.

“Dit is maar altyd moeilik om jou kind so te sien. Maar ons vertrou dat dokters die beste vir Cheverné doen. Verdowing is nou die beste.”

Elardus vertel dat Cheverné se geliefdes hulle gedurende haar tyd in die hospitaal al meer touwys gemaak het met die mediese terme en masjiene. “Ons weet nou hoe al die masjiene werk en hou haar hartklop en temperatuur dop. Dít lyk goed.”

Hy sê dat Cheverné ook weer kleur in haar gesig gekry het en rustig lyk. “Ons noem haar maar ons slapende skoonheid,” sê hy met ʼn glimlag.

Maroela Media het vroeër berig Cheverné is beseer toe ʼn loopbrug by haar skool op 1 Februarie ineengestort het. Die 13-jarige meisie is na ʼn hospitaal in Alberton gevlieg waar sy met inwendige beserings en ʼn gebreekte voet opgeneem is. Cheverné het onder meer bloeding in haar buik gehad nadat haar maagwand tydens die voorval geskeur het. Altesaam 20 cm van haar derm moes ook verwyder word en sy het vier breuke in die brug van haar linkervoet opgedoen.

Vier leerders van Hoërskool Driehoek het in die tragedie gesterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Stella barnard ·

Amen Jesus maak di meisikind gesond..raak haar liggaam aan. Danki Koning Jesus

Anita ·

Ons bid dat Liewe Jesus sy hand oor jou hou en jou weer gesond sal maak. Baie sterkte aan die mamma,pappa en famielie. Julle is in ons gebede!

Penelope ·

Baie sterkte vir jou en jou hele familie. Ons hoop dat jy spoedig sal herstel.

Katie de Villiers ·

Sterkte Cherverné weet Jesus hou jou handjie styf was. Alles kan nou net goed gaan. Sterkte met die herstel pad. Baie liefde en geduld vir Mamma en Pappa.

Carina ·

Ons neem outoriteit in die Magtige Naam van Jesus oor jou hele liggaam en spreek LEWE en GENESING oor jou!! ??

Kleintjie Joubert ·

AMEN!!!! Carina
In Jesus Naam, Here hou haar styf vas!!!
Vir mamma en pappa ook ASB!!

Hannelie ·

Ek dink elke liewe dag aan haar. Mag jy gou gesond word, ons bid vir jou en jou gesin. Sterkte liewe Cherverné.

Elsabie ·

Baie sterkte aan almal. Cervernè, jy bly in my gebede meisiekind!

Lee ·

Ons bid almal vir haar. Ek kyk die hele tyd op Driehoek se Gebedsgroep fb page of daar nie ‘n verbetering al is nie. Baie sterkte aan die ouers en sterk wees Chervernè ons weet jy gaan 100% herstel xx

Zettie ·

Sou ook graag wou weet hoe dit met die ander kindertjies gaan wat seergekry het en moontlik nog aansterk?

Nadia ·

Ek wil ook weet hoe dit met almal gaan, Ek dink elke dag aan al die kinders en ouers onderwysers almal. Maroela kan julle asb ‘n opvolg doen oor die ander kinders ook asb.

Beterskap ·

Ek wens die jong mens alle sterkte toe. En ek bid vir jou genesing. En ek bid vir jou familie vir versterking. Mag julle deurgedra word. Jy het nie verdien wat met jou gebeur het nie.

JAN ·

Ons kyk OP waar ons hulp vandaan kom. Sterkte en seënwense vir u.
Vraag, : buikwond of maagwond?
Gastric or abdominal ? Ag sommer net nuuskierig. My ondervinding is dat die beste dokters agter gebly het. Belowe. Hulle doen skitterende werk …mits hulle toegelaat word.

Wilma ·

Ons bid vir genesing. Tragedie bly in ons koppe. Sterkte vi almal.

Jerry ·

Baie sterkte aan die hele familie. Glo jy sal binnekort ten volle herstel. Wonder hoekom infeksie beheer so moeilik is deesdae. Kan nie onthou dat dit jare terug so was nie. Ek vra die vraag want my eie familie sit met so n probleem op die oomblik

Elsa ·

Ons gebedes sal nie ophou oor haar volkome herskep en herstel nie, asook die Driehoek Skool , kinders, onderwysers en ouerhuise…ons vertrou ons Vader in die Hemel vir slim drs met wysheid

Salome ·

baie sterkte poppie, jy is my gebede so ook jou ouers wat elke dag langs jou bed waak…Liewe Jesus hou jou styf vas in sy hand…..

Gesiggie ·

Klou vas aan jul geloof… hou aan Bid, en Glo en weet ons dien n wonderlikke God… Sterkte aan die ouers wat deur al die seer moet gaan en aan jul pragtigge dogter, mag Jesus jou genees sodat jy weer jou jong lewe kan geniet en kan getuig van Sy wonderwerke.

TN ·

Dankie aan haar dokters ; doen alles wat julle kan , wat julle studies en harde werk daarna in julle ingeskerp het . As dit nie goed genoeg is nie het julle jul bes gedoen en sal niks anders haar genees nie . Sterkte !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.