Cheverné ontvang onverwagse nuus

Cheverné Duvenhage (Foto: Facebook)

Cheverné Duvenhage, die gr. 8-leerder van Hoërskool Driehoek wat in die tragedie by dié skool ernstig beseer is, het oor die naweek nóg ʼn operasie ondergaan.

Dié operasie was egter nie aan haar maag soos verwag nie, maar aan haar bekkenbeen.

“Dokters het agtergekom dat haar bekkenbeen ook gebreek is en kon dit Saterdag regmaak,” vertel Elardus Duvenhage, Cheverné se pa.

Elardus het aan Maroela Media verduidelik dat Cheverné se bekkenbeen aan weerskante van waar die bekken by die laerug bymekaarkom, gebreek het. “Ek dink die fokus was heeltyd op Cheverné se maag.

“Haar dokters het ʼn klein dowwe strepie op haar x-strale gesien, maar vermoed dat dit maar net gekraak was. Hulle het toe later na die vorm van haar bekkenbeen gekyk en agtergekom dat dit eintlik gebreek is en oop lê.”

Ondanks die onverwagse nuus gaan dit in die omstandighede goed met die 13-jarige Cheverné wat steeds in die waakeenheid van ʼn hospitaal in Alberton aansterk.

Elardus vertel dat hoewel Cheverné se maagwond steeds oop is en daagliks dreineer word, dit nog net twee keer in teater skoongemaak is. Dít volg nadat dokters aanvanklik gesê het dat dit elke twee tot drie dae skoongemaak moet word.

“Haar dokter is tevrede met haar vordering. As alles goed gaan, gaan hy môre die wond toemaak en die veloorplanting doen.”

Elardus het voorheen verduidelik dat Cheverné ʼn veloorplanting oor die wond op haar maag sal ontvang. Die prosedure gebeur egter baie vinniger as wat daar aanvanklik verwag is.

Cheverné is ook wakker, van die ventilator gehaal en beleef nié ondraaglike pyn nie. Dokters beplan om ook môre die trageapypie uit te haal en af te sper sodat sy met haar geliefdes kan praat.

“Sy lyk gelukkig. Sy glimlag en blaas vir ons soentjies. Ons sal seker ʼn beter idee kry oor hoe dit werklik met haar gaan noudat sy uiteindelik met ons kan praat. Sy kon voorheen net met handgebare kommunikeer,” verduidelik Elardus.

Elardus vertel dat dit ook in die omstandighede beter met hom gaan sedert hy verlede week met Maroela Media gesels het. “ʼn Ou kom maar terug in jou roetine en vat dit dag vir dag. Ek is net dankbaar.”

Dit is meer as ʼn maand terug wat dié tragedie hom afgespeel het en Cheverné beseer is toe ʼn loopbrug by haar skool op 1 Februarie ineengestort het. Cheverné het onder meer bloeding in haar buik gehad nadat haar maagwand tydens die voorval geskeur het. Altesaam 20 cm van haar derm moes ook verwyder word en sy het vier breuke in die brug van haar linkervoet opgedoen.

“Ons is net dankbaar vir waar ons nou trek. Ons het van die begin af geglo sy gaan ten volle genees word. Ons het glad nie die operasie aan haar bekken verwag nie, maar ons bly glo sy gaan op die ou einde 100% persent herstel. Al vat dit langer as wat ons verwag het,” sê Elardus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

honourable member ·

Sterkte julle. Ons vertrou dat sy ten volle gaan herstel.

Sanché Vermaak ·

Liewe Cheverné: ons sit jou gebreekte lyfie saggies neer in God se Helende en Genesende Hande. Ons laat Sy wil met jou geskied. Sterkte klein vegter en ons weet God is in jou hart daarom kan dit net goed en beter gaan. Liefjou. Ons bid vir jou en jouse mense. God Bless

Melanie Viljoen ·

Dagsê julle
Ek hoop rerig ek is verkeerd, maar ek het op hoërskool driehoek se gebeds groep gelees dat cherverné se pa in n motor ongeluk was.

Ekke ·

Hi Melanie. Ek het dit ook vanoggend gelees. Die duiwel is vreeslik besig en kyk net hoeveel meer ‘n mens kan dra.

Leser ·

Melanie Viljoen…ek hoop van harte dat jy verkeerd gelees het…Werklikwaar.
Weet iemand of dit so is?

Bernard ·

Dit was haar stiefpa, nie Elardus. Geen erntige beserings nie

Wie weet ·

Byt vas hoop als sal beter word met tyd sterkte en ons bid vir jou

Hennie ·

Goeie genade na hoe lank kom hulle dit nou eers agter wat se pyn moes dit nie gewees het nie . Dokters ?????????. Vasbyt hoor en sterkte

Elsa ·

Ons gebedes sal jou dra regdeur hiersie pas van volkome herstel en genesing

WIEBO ·

Bly haar dokters is nie my dokters nie!!! Dis al weke dat sy in die hospitaal is, en kom nou eers agter daar is ander fout! Swak. Hoop sy herstel gou onder ander dokters se behandeling!

Rb ·

Mense ek glo nie dit is nalatigheid nie. Jul moet besef dat sy krities was van dag een af. Sy was in sedasie geplaas en diè belangrikste was om haar te stabiliseer. Inwendige beseerings is baie traumaties. Sò sy was nie in erge pyn agv die bekken breek. En glo nie die spesialiste sou die Bekken vroeër gedoen het nie.

IK ·

WIEBO, sy het veelvuldige beserings opgedoen. Goeie dokters begin by die beserings wat jou dood kan veroorsaak.

JC ·

Ek bid vir spoedige herstel en genesing. Ons gebede met jou. Jy is nie alleen nie. Jesus is met jou. Van Australia.

James ·

Sterkte kind ons bid vir jou en jou ouers en die Driehoek gemeenskap! Vasbyt kind jy is een van die dae daaruit!

Marianne ·

Hierdie prag kind is ‘n ENGEL KIND Jesus dra haar in Sy hande, Hy is in beheer, ek is vas oortuig dat sy 100% sal genees. Dat haar lewe ‘n getuienis van God se wonderwerke is, is ongetwyfeld. Ons bid vir jou poppie.

Will ·

Elke greintjie beterskap is wonderlike nuus waarvoor ons die Groot Geneesheer loof! Ons bid steeds vir volle herstel en vir geduld, krag en onderskraging vir die ouers? Sterkte hier vanuit die VSA.

IK ·

Sterkte Cheverné en mag die Vader met jou wees want dis daar waar ware vertroosting lê. Ek sien jy word aanhoudend Cherverné genoem.

Bets ·

My bekken was op 2 plekke gebreek.
Solank jy nie beweeg is daar nie pyn nie, maar dis loutere hel wanneer jy beweeg.
Die dogter was onder sedasie en het nie beweeg nie, daarom het hulle dit nie agter gekom, terwyl haar magie prioriteit was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.