Sheryl Cwele doen aansoek om korrektiewe toesig

Sheryl Cwele (Foto: SAPA)

Sheryl Cwele (Foto: Shan Pillay/SAPA)

Sheryl Cwele, veroordeelde dwelmhandelaar en eksvrou van die voormalige minister van staatsveiligheid, het ʼn hofaansoek gebring om op korrektiewe toesig vrygelaat te word.

Die departement van korrektiewe dienste het intussen reeds te kenne gegee dat hy die aansoek sal teenstaan. Cwele het Maandag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg verskyn waar sy in hofdokumente aangevoer het dat sy in aanmerking kom vir korrektiewe toesig, aldus die Daily News.

Volgens die koerant het Cwele vorige hofbeslissings voorgehou wat glo voorsiening maak vir die omskakeling van haar vonnis na korrektiewe toesig. Manelisi Wolela, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, meen dit is egter nie die geval nie. “Mev. Cwele kwalifiseer nie vir die omskakeling van haar vonnis nie, aangesien sy steeds ʼn paar jaar van haar vonnis in aanhouding moet uitdien.”

Cwele is die eksvrou van Siyabonga Cwele, die minister van telekommunikasie en posdienste en destydse minister van staatsveiligheid. Cwele en haar medebeskuldigde, Frank Nabolisa is in Mei 2011 in die hooggeregshof in Pietermaritzburg tot 12 jaar tronkstraf gevonnis vir dwelmhandel.

Cwele en Nabolisa het teen hulle vonnisse geappelleer waarna die hoogste hof van appèl hul vonnisse tot 20 jaar tronkstraf verhoog het. Nabolisa het die konstitusionele hof genader, wat bevind het dat die staat amptelik appèl moes aangeteken het voordat die appèlhof die vonnisse kon verander. Nabolisa se vonnis is terug verander na 12 jaar. Cwele het ook die konstitusionele hof genader en die hof het bevind dat sy dieselfde vonnis as Nabolisa moet kry.

Cwele het reeds sowat drie jaar van haar vonnis uitgedien. Die veroordeelde dwelmmuil Tessa Beetge, een van Cwele se vermeende slagoffers, het aan The Mercury gesê Cwele moet nog tronkstraf uitdien. “Cwele het agter die hele ding gesit, die reëlings en die planne. Dit sal regtig onregverdig wees.” Beetge is in 2008 tot agt jaar tronkstraf gevonnis nadat sy op ’n lughawe in Brasilië met 10 kg kokaïen betrap is. Sy het vyf jaar en 11 maande van haar vonnis uitgedien voor sy na Suid-Afrika teruggekeer het.

Cwele se aansoek Maandag is uitgestel tot ‘n datum wat nog bekend gemaak moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

christine ·

Laat sy sit vir haar termyn. Haar slagoffer het gesit. Voel niks vir die vrou as jy haar dit kan noem nie.sal dit waarskynlik kry ook en ons sal maar weer niks doen nie ne my slapgat volkie

marie viljoen ·

Sy moet maar haar vonnis uitdien vir haar misdade……sy het geweet wat sy gedoen het! Sy is mos nie dom nie of hoe?

humor ·

Nie gym nie dit is vir die vooraanstaande mense. Harde arbeid. Sit maar jou oortreding is meer strafbaar as moord.

Eduard ·

Ek hoop nie hier is weer a Shabier Shaike voorval nie .Dit gaan ons almal net weer die hoenders in jaag . SY MOET SIT NOG A PAAR JARE

Tascha ·

Nee wat Sheryl sit maar nog so ‘n paar jaar sodat jy goed kan nadink oor jou sondes! Die oomblik wat daai ‘vrou’ uit die tronk stap is dit net so goed as om te sê die reg-stelsel het gefaal en sy loop kaalvoet daaroor!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.