Chileense toeris verdwyn spoorloos in SA

Dessie Rechner van die organisasie Pink Ladies het ’n nuwe pamflet gemaak met foto’s wat Slavko Yaksic met kort hare wys soos hy gelyk het toe hy laas gesien is.

ʼn Chileense rugsakreisiger se familie is siek van bekommernis nadat hy ʼn week gelede nie sy vlug uit Suid-Afrika huis toe gehaal het nie.

Slavko Andro Yaksic Besoaín (29), ook bekend as Kaka, is laas op 24 September by die Melusi-Christengemeenskap op Dundee in KwaZulu-Natal gesien. Die direkteur van die sentrum, past. Peter Hambidge, sê Yaksic het Donderdagaand 20 September daar opgedaag.

“Ons werk eintlik met hawelose mense. Hy was dus nogal ʼn buitengewone besoeker,” het Hambidge Woensdag aan Maroela Media gesê, “maar ek het gesê hy kan die nag by ons oorslaap, want ek wou nie hê dat hy buite oornag nie.”

Hambidge sê die idee was dat Yaksic die volgende môre weer sou vertrek nadat hy uitgerus het ná sy staptog daarheen, maar eindelik het hy tot die Maandag gebly. “Ek het nie probleme met hom ervaar nie en gemeen ons kon hom slaapplek en kos gee.”

Hambidge vertel hy het uit sy gesprekke met Yaksic afgelei dat hy in ʼn stadium met Hare Krishnas deurmekaar was. “Ons is ʼn Christensending, maar ons oordeel nie mense op grond van hul geloofsoortuigings nie.”

Met sy aankoms by Melusi het Yaksic rastalokke gehad, maar tydens sy verblyf op die sendingstasie het iemand sy donker hare kort afgeskeer. Toe hy daar weg is, het hy ʼn bokbaard gehad, vertel Hambidge.

“Hy het gesê hy is op pad Bergville toe omdat hy dol is oor klein dorpies. Toe hy my vertel van sommige plekke waar hy al in Suid-Afrika oorgebly het, het ek hom gewaarsku dis onveilig om so deur ons omgewing te reis.”

Maar Yaksic het Hambidge verseker hy het nog nie een keer op sy reis deur die land bang gevoel nie. “Hy het gesê hy glo solank ʼn mens vriendelik en goedhartig is, sal ander jou ook so behandel.”

Slavko Yaksic. Foto: Facebook

Hy het Melusi verlaat met sy “baie duur” kamera by hom en ʼn volledig toegeruste rugsak met onder meer kruideniersware, ʼn gasbrander en ʼn tent daarin.

Hambidge sê hy het glad nie ʼn goeie gevoel oor wat van Yaksic kon geword het nie.

Toe hy by die sentrum weg is, het hy ʼn gestreepte wynrooi-, bruin-en-geel top gedra by ʼn oranje “hippie”-langbroek, blou hemp en Crocs.

Sy ma, Patricia Besoaín, wat in Santiago woon, het intussen in trane op Chileense televisie van sy verdwyning vertel en gesê die familie is siek van bekommernis. Hul laaste kontak met hom per WhatsApp was op Dinsdag 25 September. Blykbaar is hy nog op 1 Oktober op Dundee gesien.

Yaksic was veronderstel om verlede Woensdag van Johannesburg af via Brasilië huis toe te vlieg, maar het nooit op die OR Tambo-lughawe opgedaag nie.

Twee lede van IRS Forensic Investigations, Chad Thomas en Jarod Paul, het Dinsdag van Johannesburg af na Memel in die Suid-Vrystaat en Newcastle, Dundee, Tugela Ferry, Greytown en Mooirivier gereis om na Yaksic te soek, maar sonder welslae.

Yaksic en sy meisie het in Augustus met vakansie na Suid-Afrika gekom, maar sy moes op 10 Augustus terug by die werk wees. Omdat hy ekstra tyd gehad het, het hy besluit om ʼn rugsakreis deur die land te onderneem, het sy oom Paul Quiroz aan TimesLive gesê.

Patricia Besoaín, Yaksic se ma, het op Chileense TV in trane vertel hoe bekommerd hulle oor y verdwyning is.

Dessie Rechner van die organisasie Pink Ladies, wat vermiste mense probeer opspoor, sê ʼn privaat speurder het Dinsdag begin soek. ʼn Kennis het die saak by Norwood in Gauteng aangemeld omdat dit al persoon was met wie sy ouers uit Chili kontak kon maak.

Sy pa was Woensdag op pad na Suid-Afrika. Rechner sê sy werk nou saam met die polisie op Dundee. Chili se ambassade het haar genader en sy werk saam met hulle ook.

Rechner wag nou dat sy pa opdaag, maar het intussen ʼn nuwe pamflet gemaak met foto’s van sy kortgeskeerde hare en oor die hele provinsie asook in vier aangrensende provinsies versprei. Interpol is ook betrokke.

Sy vertel Yaksic het sy skootrekenaar en kitaar op Jozini, ook in KwaZulu-Natal, gelos om later te gaan haal. Blykbaar was hy onderweg daarheen om dit te gaan haal op pad Johannesburg toe, maar het nooit daar uitgekom nie.

ʼn Beloning is uitgeloof vir enige inligting wat daartoe kan lei dat Yaksic opgespoor word. Bel Dundee se speurders by 034 299 9700 of Pink Ladies by Pleidooi 072 214 7439, wat ook ʼn WhatsApp-nommer is.

Maroela Media kon ondanks verskeie pogings nie kommentaar by die polisie oor die saak kry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Uitkyk ·

Baie jammer om hiervan kennis te neem en voel vir die familie. Ons vertrou dat daar spoedig positiewe nuus sal wees. Miskien het ek op Maroela gemis maar lees wel op Britse koerant van Hannah Cornelius se gruwelike geval.

pa se kind ·

Hoe raak mense net weg? Buitelanders wat nie die gevare van ons land ken nie.

Hoe nou....... ·

Hoekom is ons verras oor so iets – daars dan nie eers plaasmoorde nie.

legens ·

Met die priesters , profete , kardinale , biskoppe en pastore wat so die nuushoofberigte deesdae haal met hulle wangedrag , sou die ondersoek eers daar begin word .

AttieNo1 ·

Ai ek hoop hulle vind hom lewendig. Dit gese moet ek byvoeg die dom houding van” as jy vriendelik en goedhartig teenoorander is sal hulle so teenoor jou wees” is gevaarlik. Lank terug was daar n man wat wou bewys dat n beer jou vriend kan wees as jy positiewe gedagtes het nou ja toe eet die beer hom, Wilde diere is nie jou maats nie en om mense te wantrou is n natuurlike instink.

Johnnie ·

Dis wat nou gebeur as iemand nie na goeie raad luister nie want die pastoor het hom gewaarsku dis baie gevaarlik om te stap in die kriminele land van ons. Hoop hulle vind hom en dat hy nog lewe.

Stomgeslaan ·

Ek vind dit hard om te verstaan hoe enige oorsese toeris hoegenaamd in Suid-Afrika sou wou kom toer. Lees hulle nie koerante nie of wat?

Estelle ·

“Ons” president en sy maatjies vertel dan dis glad nie gevaarlik in SA nie. Lê maar nog ñ toeris se waarskynlike moord voor ou Cyril se deur.

JK ·

Wat laat jou dink SA is enigens in ons nuus diekant? vir wat, sa het niks met ons te doen nie.

AndreD ·

Hierdie is Suid-Afrika…….. NO BACKPACKERS PLEASE!!!!!………dis selfmoord. Dit nog met ‘n baie duur kamera. Ek bid vir hom.

Eish ·

” Hy het gesê hy glo solank n mens vriendelik en goedhartig is, sal ander jou ook so behandel.”
Eish!!

bgj van der westhuizen ·

wel dit is goed om in mense te glo maar nie in suid afrika nie hulle sal jou dood maak vit 10 sent lewe in die land is baie goed koop

KL ·

net soos die Saffas self moet doen. SO hoekom boer die “boere” nog? hy’s n uitlander en weet nie van die helhool wat SA is nie.

Deon ·

Ek is sommer vies vir die man!! So hy reken vriendelikheid is die paspoort tot vrede in SA!! Jammer maar jy moes na raad luister. Duisende mense wat vermoor word was net goed!!
Buitelanders dink baie keer hulle is slim en luister nie vir mense wat weet en al deurgeloop het nie!

anton ·

Jammer maar ek is n realis en ek dink hy is klaar vermoor!!!
Kan nie glo mense doen nie hulle huiswerk behoorlik voordat hulle enige spesifieke land besoek nie!!!
Jy is dan nie eers veilig in jou eie tronk hier in die land nie, wat nog as jy n ”Backpacker” is.
Voel jammer vir sy naasbestaandes.

Hoe nou....... ·

Dans mnr CR dans rondom die een………En behoede jou as die persoon iets oorgekom het in die veilige land van ons.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.