China al meer aggressief in Afrika betrokke

Vlag van China. Argieffoto

China se buitelandse beleid in Afrika is regstreeks besig om al meer ingrypend te raak, het prof. Theo Neethling van die departement politieke studies en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) Donderdag gewaarsku.

Neethling het in Pretoria ʼn referaat gelewer tydens die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se politieke wetenskap- kollokwium.

Hy het uitgewys dat China sedert die ontstaan van die Verenigde Nasies (VN) tot in 2013 nie regstreeks by vredesoperasies betrokke wou raak nie, maar dat Chinese weermagpersoneel tans in Mali en Suid-Soedan diens doen, dat China ʼn groot belang uitgespreek het in vredesmag-aktiwiteite in Suid-Soedan en dat daar deesdae ʼn Chinese weermagbasis in Djiboeti in die Horing van Afrika aan die Golf van Aden is.

Dit is die eerste Chinese militêre basis buite Asië in eeue.

“Daar is tans sowat 2 500 Chinese soldate as deel van vredesoperasies in Afrika ontplooi, wat meer is as die gesamentlike bydrae van Frankryk, Rusland, die VSA en Brittanje,” het Neethling gesê.

Hy meen die rede is die groot geldelike beleggings wat China in Afrika gemaak het, en wat beskerm moet word. Dit sluit in hulp op logistieke, mediese, ingenieurs- en vervoergebied. Sigbare voorbeelde sluit in die hoofkantoor van die Afrika-Unie in die Ethiopiese hoofstad Addis Ababa, wat deur China gebou is.

Daar is ook al meer Chinese in Afrika woonagtig, tot dié mate dat daar blykbaar nou al meer Chinese as Duitssprekendes in Namibië is.

China het sedert die ontstaan van die VN in 1946 altyd van “sagte mag” (om die Joseph Nye-definisie te gebruik) gebruik gemaak, met ʼn doktrine van die respektering van soewereiniteit en die beginsel van nie-inmenging in die huishoudelike sake van ander lande, aldus Neethling.

Tans is China egter ʼn opkomende supermoondheid en ook Afrika se grootste handelsvennoot, met die gevolg dat die Chinese groot impak maak op die Amerikaanse invloedsfeer in Afrika en selfs die tradisioneel sterk Franse invloedsfeer binnedring.

So het China byvoorbeeld in 2013 aangebied om weermagpersoneel offensief in die ooste van die Demokratiese Republiek van die Kongo aan te wend, hoewel die VN se keuse eerder op Suid-Afrika geval het.

In Mali, wat in die Sahara geleë is, word Chinese infanteriesoldate wel met groot sukses ingespan teen Toareg-rebelle.

Ook in die olieryke Suid-Soedan is 700 Chinese soldate sedert 2014 ontplooi, het Neethling gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

marous ·

Alles is verkwansel in ruil vir ‘n teerpad hier en ‘n brug daar. Dis nou tyd om op te eis – Titanuim in Mosambiek se duine , Koper in Zim. Steenkool in SA . Interresant dat die Chinese se winkels nie deurloop waneer suid afrika se opgeswepenes begin brand nie …

Casper Labuschagne ·

Sjina het ‘n klein militêre basis aan die ooste van Zimbabwe, kwansuis om hul belange in diamantmyne daar te beskerm. Op die oomblik dui die beperkte grote van die basis wat basies uit barakke, diensgeboue en ‘n paradegrond dat dit wel gaan oor beskerming van Sjinese belange, maar wie weet, sulke goed word selde kleiner.

Daar was ‘n dag hierdie week waar die ganse bladsy drie van die plaaslike Volksblad bestaan het uit slegs berigte oor die dood maak van leeus vir Sjinese medisyne en die doodmaak van donkies sodat donkievelle na Sjina uitgevoer kan word. Daar is al slagplase opgerig waar net leeus geslag word en honderde leeus is al geslag. (Terloops hierdie slagting onder leeus is die direkte uitkoms van die groenes wat die trofeejag van leeus deur kampanjes op sosiale media grootliks verongeluk het.)

piper ·

ja die mense is orals en doen besigheid orals. hier by ons bank hulle nie al hulle geld nie en betaal nie belastings dis waarom in die laaste tyd klomp sjinese beroof was van hulle kontant. in . vir hulle part hoop ek hulle beleggings in djiboetie is veilig. ek weet van besighede wat alles(miljoene) daar verloor het deur dat die regering alles net gevat het.

bgj van der westhuizen ·

Chinese gee baie geld uit in afrika en hulle gee niks vir niks sal begin trug vra wag maar en kyk koop myne en ander besighied op en maak toe en ons moet dan goed koop wat n china gemaak is

Kannaland ·

Neem kennis van hierdie belangrike artikel. Ek dink ons moet goeie vriende met die Chinese word.

chrisjan ·

Ek stem saam. Ek woon en werk in China en het nog net welwillendheid van hulle ervaar. As ons meer uitryk na hulle, kan dit n groot verskil maak.

Slegs ter inligting ·

Die berig laat my dink aan ‘n opmerking wat ek van iemand, wat baie meer in die politiek belangstel as ek, gehoor het; die Sjinese het ‘n 80jaar plan om Afrika oor-te-vat, in ekonomie (besighede) asook eiendom besit; wanneer die 80jr plan begin het weet ek nie. Volgens BBBEE word die Sjinees as Swart geklassifiseer, slegs ter inligting.

Kannaland ·

Die plan werk baie goed en ek skat nog 30 jaar max, dan is ons in n volgende koloniale era.

White Rhino ·

Die Chinese is ‘n gevaar vir S A – hulle is hier om ons uit te buit. Wat sit hulle terug in SA?
Neewat hou verby – hier gaan nog groot probleme met hulle ook kom – wag maar en sien.

Katerina ·

Mense kan my nou maar kruisig maar ek wens die Chinese wil Suid Afrika eenvoudig net oorvat en annekseer. Dit kan tog nie Moontlik erger wees as die toestand waarin ons nou leef nie,en mag dalk baie witmense red wat onder die huidige misdaad-skrikbewind moet lewe en STERWE. NIKS is erger as die lewe as n witmens onder hierdie regering nie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.