China het ‘begrip’ vir SA besluit om burgers te repatrieer

China se ambassadeur in Suid-Afrika, Lin Songtian (Foto: Jonisayi Maromo/ANA)

Die Chinese ambassade in Pretoria sê hy het “begrip” vir Suid-Afrika se besluit om weens die dodelike Covid-19-virus (oftewel die koronavirus) sy burgers te laat repatrieer.

“Die besluit is verstaanbaar, gegewe die kommer en angstigheid van [Suid-Afrika se] burgers en hul families wat spruit uit die maand lange kwarantyn in ʼn stad ver weg van hul tuisland,” het die ambassade Vrydag in ʼn verklaring gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdag aangekondig dat 132 Suid-Afrikaners in Wuhan na Suid-Afrika teruggebring gaan word. Wuhan is geleë in die Hubei-provinsie en word beskou as die episentrum van die dodelike virus.

Die mense is sedert die uitbreking van die virus in afsondering gehou.

Die oorblywende 67 Suid-Afrikaners daar het volgens die presidensie aangedui dat hulle nie gerepatrieer wil word nie.

Die virus is nog nie by enige van dié Suid-Afrikaners gediagnoseer nie en geeneen van hulle toon enige simptome van die siekte nie. Wanneer hulle in Suid-Afrika aankom, sal hulle as voorsorgmaatreël wel 21 dae lank in kwarantyn gehou word.

Die ambassade sê hy waardeer Suid-Afrika se voortgesette steun aan en solidariteit met China.

“Ons wil ons dankbaarheid betuig aan alle Suid-Afrikaners en studente in China, insluitende diegene wat nou terug na Suid-Afrika gebring word, vir hul begrip, samewerking, steun, opofferings en bydraes tot ons beheer- en voorkomingsmaatreëls teen die pandemie in China.

“Hulle vriendskap, broederskap en solidariteit in dié moeilike tyd is getoets en die Chinese regering en sy mense sal dit koester.”

Die virus is intussen by twee Suid-Afrikaners wat as bemanningslede op die passasierskip Diamond Princess werk, gediagnoseer. Hulle word behandel, maar gaan eers toegelaat word om te reis sodra die nodige magtiging daarvoor gegee is, het die departement van gesondheid Vrydag gesê.

Daar is altesame 12 Suid-Afrikaners op die skip.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan Venter ·

Dis nogal lekker om te lees dat Suid-Afrika my tuisland is.

Cherokee ·

re ‘Die oorblywende 67 Suid-Afrikaners daar het volgens die presidensie aangedui dat hulle nie gerepatrieer wil word nie.’
Hulle sien dus eerder kans vir die korona virus as die anc & eff virus.

Jaco ·

Ek sal ook eerder aanbly in ‘n land waar NET ‘n virus my lewe bedreig en niks anders nie. Daars 100% wet en orde in China
SA in teenstelling is van die misdadigste lande in die wêreld, met ‘n anti-wit regering wat aanvalle op wit mense stilswyend toelaat en wit mense keer om werk te kry NET omdat hulle wit is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.