Chinese burgers vas vir mensehandel; skuld departement miljoene

boeie

(Argieffoto: SA Polisie)

Sewe Chinese burgers, vier mans en drie vroue, skuld die departement van arbeid en indiensneming bykans R7 miljoen nadat hulle verlede jaar in hegtenis geneem is vir beweerde mensehandel en die oortreding van die land se arbeidswette.

Die sewe beskuldigdes, Kevin Tsao, Chen Hui, Qin Li, Jiaqing Zhou, Ma Biao, Dai Junying en Zhang Zhilian, het Woensdag tydens hul aansoek om borgtog in die Johannesburgse landdroshof getuig.

Die sewe beskuldigdes is op 12 November tydens ʼn operasie van die departement se inspeksie- en handhawingsdienste (IES) in Gauteng, tesame met die polisie, binnelandse sake en die Valke in hegtenis geneem. Die inhegtenisnemings volg nadat die owerhede in kennis gestel is van die beskuldigdes se beweerde betrokkenheid by onwettige immigrasie en mensehandel.

ʼn Totaal van 91 Malawiese burgers, onder wie 37 kinders, is in die Beautiful City-fabriek in Johannesburg, wat die beskuldigdes bedryf het, gevind. Die Malawiese werkers is glo onwettig in die land ingebring.

In ʼn beëdigde verklaring wat die polisie by die hof ingedien het, is dit bekend gemaak dat die owerhede die beskuldigdes van ʼn skedule ses-misdryf wil aankla. Die beskuldigdes sal teregstaan op aanklagte van mensehandel, skuldslawerny, ontvoering en die rig van ʼn vuurwapen.

Adv. Michael Msiza, die departement se hoofinspekteur in Gauteng, het gevra dat verdere strafregtelike klagte teen die beskuldigdes ingedien moet word weens die oortreding van die arbeidswette.

Msiza het aan die hof gesê die beskuldigdes skuld die departement bykans R7 miljoen aangesien hulle onder meer versuim het om die nodige registrasies te doen, rekord te hou van inkomste, jaarlikse aanslae te betaal en nie bydraes betaal het vir vergoeding vir beroepsbesering en -siektes nie.

Die beskuldigdes het ook glo die Wet op Werkloosheidsversekering, die Wet op Basiese Diensvoorwaardes en die Nasionale Minimumloonwet oortree. Die hof het beslis dat ʼn boete of ʼn gevangenisstraf of albei opgelê kan word.

Dit het ook aan die lig gekom dat die beskuldigdes tydens hul borgtogaansoeke aangevoer het dat hulle in slegte gesondheid is. Lulama Kona van die Valke het gesê hulle was nie bewus van die “siekte” tydens die borgtogverhoor nie.

Die saak is tot 12 Februarie uitgestel wanneer die borgtogaansoeke sal voortduur. Die beskuldigdes bly in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Brakenjan

As hulle nie slange eet en die wêreld op ramp afstuur nie, dan bedryf hul in slawerny…

Werner

Hierdie mense kan bly wees ek is nie president nie, mensehandelaars sou summier die doodstraf ontvang, veral vir kinderhandel

Magda

Hulle is die mense wat dit die meeste doen, en behoort GEEN BORG TE KRY NIE – LEWENSLANK TRONKSTRAF VIR ALMAL en al hulle bates meot verkoop word asook verder ondersoek na enige familie lede van die beskuldiges om seker te maak hulle is wettig in die land. Goeie werk en hoop dit gaan nog verder uitgebrei word. Mense hander is n groot kopseer LANDWYD.

SomeOne

nou is daar ‘n klag van mense wat onwettig die land “ingesmokkel” is, daar bestaan dan geen grense en beheer daaroor nie ??????

Niné

Hulle kom uit n sosialistiese staat en dink hulle kan onder ons sosialistiese regering besigheid dieselfde as in hulle land bedryf, maar kapitalisme is al hoekom hulle hier is.