Chinese lanterns glo die oorsaak van urelange seereddingspoging

Argieffoto

Argieffoto

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het Donderdagaand ʼn urelange en vrugtelose reddingspoging in Port Elizabeth onderneem nadat Chinese lanterns vermoedelik verkeerdelik as noodfakkels aangesien is.

Ian Gray, NSRI-stasiebevelvoerder in Port Elizabeth, het gesê die reddingspan is omstreeks 20:00 na die strand by Summerstrand geroep nadat lede van die publiek glo noodfakkels oor die see gesien het. “Ons het ons seereddingsboot, Eikos Rescuer IV, uitgestuur terwyl die kusreddingspan op die strand die lug dopgehou het sodat hulle kon help om die rigting waarheen die reddingsboot moet gaan te bepaal,” het Gray gesê.

Volgens hom het hulle voortgegaan met ʼn uitgebreide soektog, terwyl ooggetuies by ʼn plaaslike restaurant gesê het hulle is oortuig dat dit wel noodfakkels was wat hulle gesien het. Lede van die NSRI-bemanning het ook van die strandgangers ondervra, waarna dit aan die lig gekom het dat ʼn groep mense op die strand tien Chinese lanterns die lug in gestuur het as deel van ʼn gedenkdiens.

“Omdat die oorspronklike ooggetuies so oortuig was dat hulle noodfakkels gesien het, wou ons seker maak dat daar nie wel iemand op die see in nood is en daar nie dalk net toevallig op dieselfde tyd noodfakkels en Chinese lanterns in die lug opgestuur is nie,” het Gray gesê. “Nadat die uitgebreide soektog egter geen tekens van iemand in nood of verlate bote op die see of voertuie langs die kus opgelewer het nie, en niemand as vermis aangemeld is nie, is die soektog afgelas. Ons gaan egter voort om die situasie te monitor.”

Gray het weer eens ʼn beroep op die publiek gedoen om nie Chinese lanterns in die lug in te stuur nie aangesien dit met noodfakkels verwar word, ʼn brandgevaar asook  ʼn gevaar vir lugvaartuie inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Annie ·

Volgens my, kan dit maar verban word in SA. Dit steek net plekke aan die brand en sorg net vir skade waar dit val. Ons moes al hoeveel veld brande of selfs eiendom van mense gaan blus deur die fakkels. Dit is mooi, ja, ek hou ook van die liggies in die lig, maar die nagevolge daarvan is baie groot en mense besef dit nie. Of gee selfs net nie om nie.

irene ·

Ja kommerwekkend wat aan gaan in wereld
chinese gaan ons land onder ons almal oorneem hulle is baie slim met alles

Divan Stroebel ·

Verban die goed! Dit rig nog boonop skade aan die omgewing. Ek al seevoëls dood gesien wat verstrengel word daarin. Mense besef nie die gemors val weer aarde toe nie. Weet nie hoe mense dit nog enigsins doen nie.

Dave ·

Die berig laat my onwillekeurig glimlag want dit herinner aan ‘n insident toe burgerradios die mode geword het. Aan die jongelinge wat nie weet waarvan ek praat, dit was ‘n kommunikasiemiddel tydens die vroeë sewentigs. Die Watchapp en BBM van toeka se jare.

Ek en ‘n vriend was besig met nagvlugte in Carletonville en het ‘n Beachcraft Bonanza gebruik wat ‘n heel gesofistikeerde vliegtuig is. Vanuit die lug het ons stringe en stringe karligte gesien wat ry na die vliegveld wat sowat 4, noem dit 5, kilos uit Carletonville is.

Ons het landingsligte in die vorm van lanterns uitgesit langs die aanloopbaan wat ons gebruik het en vanuit die lug het ons het gesien hoe die karre tot op die aanloopbaan ry! Ons het geweet dat ons vriende op die grond dinge sou hanteer, so ons het ‘n naderingsvlug gedoen en gesien hoe karligte met ‘n spoed geepad het net om vervang te word! Wel, toe ons land was daar darem geen karre op die aanloopbaan maar ons het geland en weer gestyg sonder om stil te hou. En sowaar, toe’s daar is weer ‘n spul karre op die aanloopbaan!

Toe ons weer land en stilhou, het die polisiebesamptes, ambulans- en brandweerpersoneel nader gestap en toe ons vir hulle lag het ‘n polisieman wat ek geken het, verduidelik dat die burgerradiomense ons gesien sirkel het oor die dorp en mekaar gekontak het met boodskappe dat ‘hier ‘n vliegtuig is wat wil land en ons moet gaan lig maak!’

Die lanterns langs die aanloopbaan en ons ‘touch and go’s’ waartydens ons nie stilgehou het nie maar weer gestyg het, het niks beteken vir die leke nie. Hulle het goed bedoel en was daar om dit uit te voer!

Ons het jare later steeds daaroor gelag maar nooit snedig nie. Ons het geweet die bedoeling was reg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.