Chinese studente leer meer oor renosterbewaring in SA

Dr Liu Jing, Wang Wanqiao, Hu Kai, Hao Siqi in Hluhluwe-iMfolozi Park (Foto verskaf)

Studente van verskeie universiteite in China het die afgelope week besoek afgelê aan Suid-Afrika waar hulle meer geleer het oor natuur- en renosterbewaring.

Die studente het Suid-Afrika besoek in die lig van Wêreldrenosterdag wat Saterdag gevier is. Hulle sal na verwagting nou ook die inligting aan hul eie gemeenskappe oordra.

China is een van die grootste verbruikers van renosterhoring. Die inisiatief poog om verandering te bring en Afrika se natuurlike erfenis te bewaar.

“Ek was nie seker hoe ek gevoel het toe ons bo die renosterstrooptoneel in die helikopter gesit het nie,” het Hu Kai, ʼn student van Sjanghai, China, gesê. “Alles was deurmekaar. Ek was skaam en hartseer. Ons spesie is veronderstel om diere te beskerm. Wat ons hier doen, is nie reg nie.”

Die inisiatief gebruik die vaardighede van die Chinese jeug om verandering teweeg te bring as ʼn formele deel van hul universiteitskurrikulum. Dit is ʼn gesamentlike vennootskap tussen die Peace Parks Foundation en Tongji-universiteit.

Die groep het vanjaar Hluhluwe iMfolozi-park in KwaZulu-Natal besoek, wat as die geboorteplek van die renoster bekend staan. Studente het met kenners gesels wat al jare lank in die bewaringsbedryf werk. Hulle het gehoor van die koste wat aangegaan word om stropery teen te staan, die opofferings wat dit behels en die beloning wanneer diere gered word.

“Dit is ʼn geleentheid vir hulle om die Suid-Afrikaanse bosveld te besoek en hulself vertroud te maak met renosterbewaring. Hulle kry ʼn groter begrip en waardering daarvoor wat uiteindelik ʼn impak maak op die aktiwiteit waarby hulle in China betrokke is,” het Brad Poole, uitvoerende hoof van Peace Parks, gesê.

Jabulani Ngubane, bestuurder van Ezemvelo-park in die iSimangaliso-vleilandpark, het gesê hy is dankbaar om te sien hoe mense van China se persepsies verander, veral die jeug. “As jy ʼn ware belegging wil maak, is dit waar jy moet begin,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Charles ·

Wat ñ uitstekende inisiatief om die voortbestaan van die renoster te verseker!!

De Villiers ·

Ek stem 100% met jou saam, Charles. Gebruik die kundiges onder hulle om die ware feite aan die huidige Chinese bevolking en die nageslag oor te dra, veral nadat hulle praktiese ondervinding daarvan hier in SA opgedoen het.

zoom zoom ·

As hulle die “kutsus” slaag dan kry elkeeen van hulle seker 2 renosterhorings om saam huistoe te neem.

Gatvol ·

Stuur hulle bietjie Gansbaai toe om te sien hoe word perlemoen gestroop vir smokkel na hulle toe. Meskien kan hulle ook help om die miete dat perlemoen ‘n seksstimulant is smoor

Snowball ·

Een van die dae bestuur dié kundiges ons natuurbewaring en parke ook. Another foot in the door…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.