Chirurg kry koevoet wat man deurboor

Danie de Wet en sy vrou, Lizl. Foto: Facebook

Danie de Wet en sy vrou, Lizl. Foto: Facebook

Die man van Johannesburg wat opslae gemaak het nadat ʼn 1,8 meter lange koevoet dwarsdeur sy lyf gesteek het, het Vrydag die koevoet aan die trauma-chirurg wat sy lewe gered het, oorhandig.

“Dit was my manier om vir hom dankie te sê en hierdie traumatiese ervaring agter my te sit,” het Danie De Wet (34) gesê. “Ek het baie uit die voorval geleer en self gesien hoe God wonderwerke verrig. Ek kan nou daardie getuienis lewer. Maar dit is ook ʼn hoofstuk wat ek nou wil afsluit.”

Maroela Media het vroeër berig van die skrikwekkende fratsongeluk toe De Wet van sy lies tot sy linkerskouerblad deur die koevoet deurboor is. Die ongeluk het by die Sibanye-goudmyn buite Carletonville in Gauteng plaasgevind waar De Wet as ingenieurstoesighouer en mynreddingswerker werk. Hy was besig om ʼn klep wat verstop geraak het, te ontblok, toe sy voet gly en die koevoet dwarsdeur sy lyf gesteek het.

Foto: Facebook

Foto: Facebook

De Wet is per helikopter na die Milpark-hospitaal geneem waar prof. Ken Boffard, ʼn trauma-chirurg, op hom geopereer het om die koevoet te verwyder. De Wet is bo alle verwagtinge 19 dae later uit die hospitaal ontslaan.

“Vandag kon ek met die paramedici gesels wat my daardie dag hospitaal toe geneem het en hoor hoe hulle die voorval ervaar het en wat alles in die helikopter gebeur het. Ek kon ook vir prof. Boffard bedank dat hy my lewe gered het. Sonder hom het ek dalk nie so lig daarvan afgekom nie.” De Wet en sy vrou het ook ʼn foto-collage aan Boffard oorhandig met foto’s, uitknipsels en stories van die hele gebeurtenis.

“Hy kan die raam nou teen sy muur opsit en het klaar die koevoet, wat ons op ʼn gedenksteen laat plaas het, in sy spreekkamer gesit sodat al sy pasiënte dit kan sien,” het De Wet gesê. “Dit was die perfekte afsluiting. Hierdie ding is nou finaal verby.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Prof Boffard, jy is ‘n ster! Ek dink De Wet en sy familie is die liewe HERE ewig dankbaar dat jy daar was om hom te help!! Dankie tog dat jy nie een van die professionele mense was wat al geëmigreer het nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.