“Dit was my manier om vir hom dankie te sê en hierdie traumatiese ervaring agter my te sit,” het Danie De Wet (34) gesê. “Ek het baie uit die voorval geleer en self gesien hoe God wonderwerke verrig. Ek kan nou daardie getuienis lewer. Maar dit is ook ʼn hoofstuk wat ek nou wil afsluit.”
Maroela Media het vroeër berig van die skrikwekkende fratsongeluk toe De Wet van sy lies tot sy linkerskouerblad deur die koevoet deurboor is. Die ongeluk het by die Sibanye-goudmyn buite Carletonville in Gauteng plaasgevind waar De Wet as ingenieurstoesighouer en mynreddingswerker werk. Hy was besig om ʼn klep wat verstop geraak het, te ontblok, toe sy voet gly en die koevoet dwarsdeur sy lyf gesteek het.
De Wet is per helikopter na die Milpark-hospitaal geneem waar prof. Ken Boffard, ʼn trauma-chirurg, op hom geopereer het om die koevoet te verwyder. De Wet is bo alle verwagtinge 19 dae later uit die hospitaal ontslaan.“Vandag kon ek met die paramedici gesels wat my daardie dag hospitaal toe geneem het en hoor hoe hulle die voorval ervaar het en wat alles in die helikopter gebeur het. Ek kon ook vir prof. Boffard bedank dat hy my lewe gered het. Sonder hom het ek dalk nie so lig daarvan afgekom nie.” De Wet en sy vrou het ook ʼn foto-collage aan Boffard oorhandig met foto’s, uitknipsels en stories van die hele gebeurtenis.
“Hy kan die raam nou teen sy muur opsit en het klaar die koevoet, wat ons op ʼn gedenksteen laat plaas het, in sy spreekkamer gesit sodat al sy pasiënte dit kan sien,” het De Wet gesê. “Dit was die perfekte afsluiting. Hierdie ding is nou finaal verby.”
Prof Boffard, jy is ‘n ster! Ek dink De Wet en sy familie is die liewe HERE ewig dankbaar dat jy daar was om hom te help!! Dankie tog dat jy nie een van die professionele mense was wat al geëmigreer het nie!!