Cholera-sterfte aangemeld

(Argieffoto: Bret Kavanaugh/Unsplash)

Die eerste cholera-verwante sterfte in Suid-Afrika is Donderdag deur die departement van gesondheid bevestig.

Die pasiënt was ’n 24-jarige man van Benoni en die vyfde bevestigde cholera-geval in die land.

Volgens Foster Mohale, woordvoerder by die departement, is die man met erge diarree in die Tambo-gedenkhospitaal opgeneem waar bevestig is dat hy cholera onder lede het. Hy is ’n paar dae later in die hospitaal dood.

Sy liggaam sal na KwaZulu-Natal vir sy begrafnis geneem word. Die departement sal met die man se naasbestaandes oor veilige begrafnismaatreëls skakel om die verspreiding van die siekte te voorkom. Hy het geen plaaslike of internasionale reisgeskiedenis gehad nie.

Maroela Media het vroeër berig dat die eerste drie gevalle einde Januarie en begin Februarie in Johannesburg aangeteken is. Die derde pasiënt is die eggenoot van die eerste bevestigde pasiënt en die swaer van die tweede bevestigde pasiënt. Hy het siek geword nadat die twee susters cholera tydens ’n onlangse besoek aan Malawi opgedoen het.

Mohale sê die vierde bevestigde geval is ’n 28-jarige man van Alexandra wat ook geen reisgeskiedenis het nie.

“Die pasiënt het hom by die Edenvale-hospitaal aangemeld nadat hy vier dae lank diarree en braking ondervind en swak gevoel het.

“’n Monster is geneem en die pasiënt is met voorgeskrewe medikasie huis toe gestuur. Hy is versoek om terug te keer hospitaal toe nadat sy uitslae positief was. ’n Uitbrekingreaksiespan het ondersoek ingestel en die man se huis en werkplek besoek.”

Die departement het Donderdag weer gesê dat cholera hoofsaaklik deur besmette en besoedelde water versprei word.

Mense kan die siekte opdoen deur dié water te drink of indirek deur besmette kos te eet.

Simptome sluit in braking, diarree, ontwatering en tamheid.

Die departement moedig mense aan om veral hul hande gereeld te was om oordrag te voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

whatever ·

Dit is nie snaaks nie. Huidiglik is dit ook nou nie die geval dat die munisipaliteite veel gepla is oor die kwaliteite van ons water nie.
Welkom in Afrika

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.