Cholera-uitbreking in Hammanskraal eis reeds 12

(Argieffoto: pixabay)

Die departement van gesondheid het ʼn uitbreking van cholera in Hammanskraal bevestig.

Twaalf mense, onder wie ʼn driejarige kind, het reeds gesterf en altesame 19 cholera-gevalle is bevestig.

Die bevestiging van die uitbreking kom nadat minstens 95 mense sedert verlede Maandag by die Jubilee-distrikshospitaal met simptome van diarree, maagkrampe en braking aangemeld het. Die stoelgangmonsters van 19 pasiënte is getoets, met laboratoriumuitslae wat cholera bevestig.

Nomantu Nkomo-Ralehoko, LUR vir gesondheid in Gauteng, het die hospitaal Sondag saam met Rina Marx, burgemeesterskomiteelid vir gesondheid in die Tshwane-metro, besoek om te verseker ingrypings word gedoen om die kapasiteit by die hospitaal te versterk.

Die departement het twee bykomende sale beskikbaar gestel om pasiënte te hanteer wat nie dadelik met hul aankoms by die Jubilee-hospitaal opgeneem kan word nie.

“Ons het bykomende hulpbronne ingetrek, wat insluit mediese en verpleegpersoneel van omliggende hospitale en plaaslike klinieke om aan die groeiende behoefte aan mediese sorg te voldoen,” sê Nkomo-Ralehoko.

Bykomende linne is ook van die provinsiale wassery laat kom om die ekstra beddens dadelik beskikbaar te stel.

Die LUR het ʼn hernieude beroep op mense gedoen om voorsorgmaatreëls te tref en behoorlike handhigiënestandaarde te handhaaf, terwyl bewusmakingsveldtogte oor die siekte voortduur.

“Dit is ook belangrik dat mense nooit water uit onveilige bronne soos riviere, damme en strome drink nie, mits dit gekook of ontsmet is.”

Die Tshwane-metro het intussen ʼn kennisgewing uitgereik waarin inwoners van Hammanskraal gevra word om nie kraanwater te drink nie. Die stad het watertenkwaens met drinkwater by die hospitaal en in omliggende gebiede ontplooi.

Die departement beraadslag ook met die nasionale departement van water en sanitasie en die departement van behuising om die munisipaliteit met waterinfrastruktuur- en ander verwante kwessies te help.

Tshwane sal intussen maatskaplike werkers ontplooi om geraakte gesinne by te staan.

Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane, sal die hospitaal ook Maandagoggend besoek en het sy medelye met die 12 pasiënte wat gesterf het, se families betuig.

Die EFF het intussen gesê Hammanskraal gaan al jare lank gebuk onder watertekorte en -besmetting.

“Ten spyte van beloftes van die plaaslike owerhede om die probleem te pak, ly inwoners steeds onder ʼn gebrek aan toegang tot skoon en veilige drinkwater.

“Die DA-geleide administrasie het versuim om die behoeftes van die inwoners van Hammanskraal te prioritiseer en het sy verantwoordelikheid om basiese dienste, soos die lewering van skoon water, na te kom,” sê Obakeng Ramabodu, EFF-leier in die Tshwane-streek.

Daar was die afgelope paar jaar verskeie berigte van waterbesmetting in Hammanskraal weens rioolstortings en ander omgewingsfaktore, sê hy.

“Die gebrek aan toegang tot skoon water het ʼn noemenswaardige uitwerking op die daaglikse lewe in Hammanskraal. Inwoners moet elke dag ure spandeer om water van veraf bronne te gaan haal, of moet staat maak op duur gebottelde water.

“Dit neem tyd van werk en ander belangrike bedrywighede en plaas ʼn onnodige las op reeds kwesbare gemeenskappe,” sê Ramabodu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jack ·

Die gevolg van baie jare se agteruitgang.Verwyder die ANC en die probleme sal ook minder word.Die nuwe DA burgermeester gaan sy hande vol he om jare lange se probleme te begin uitsorteer.

Hennie ·

En so word ons net nog een van die vele mislukte “demokrasieë” in Afrika

Bytjienw ·

Dis wat gebeur as mense in posisies aangestel is wat nie bevoeg of opgelei is om die werk te doen nie. Almal wil die “job” en voordele wat daarmee saamgaan hê, maar niemand wil die werk doen nie.

Nettie ·

Sjoe. Dis baie hartseer. Innige simpatie met die 12 families, veral met die kindjie se afsterwe. Dis so onnodig. Ek hoop die gemeenskap word nou gehelp en dat die uitbreking van cholera gestop kan word.

Allop ·

Tipies van die A N C beleid :Dokter die simtome maar los nie die probleem op nie (Maak seker die hospitaal is gereed vir nog gevalle) maar die water bly besmet

sarah ·

Dit is Baie baie hartseer om te hoor van hierdie aaklige tragedie!!!!
Waar moet mense water gaan kry om te drink as dit veronderstel is om die krane te wees!
Die toestande is haglik alreeds en ons as mense van hierdie land is nie eers geregtig op suiwer water!
wie kan water kook as die krag af is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.