Cholera: Waterprobleme in Hammanskraal kom al jare

water_argief

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Die cholera-uitbreking in Hammanskraal is geen verrassing vir diegene wat al vir jare lank sê dat Tshwane sy waterveiligheid moet opskerp nie.

Verskeie politieke partye pak die skuld vir die uitbreking op die DA-geleide koalisie in die metro en sê sy versuim om basiese dienste te lewer het nou menselewens gekos.

“Die DA-geleide koalisie in Tshwane kon nie in die mees basiese, tog belangrikste, mensereg voorsien nie en dit het nou tragiese gevolge gehad,” het die EFF in Gauteng uitgevaar.

“Die inwoners van Hammanskraal word al jare lank aan vuil water onderwerp en hul reg tot skoon water en sanitasie is grootliks ondermyn. Die water wat by die krane uitkom, kan wissel van geel tot bruin, en soms word ontlasting ook in die water opgemerk.”

Die EFF sê die waterprobleme is die gevolg van die Rooiwal-afvalwatersuiweringsaanleg “wat nie behoorlik werk nie en die foutiewe Temba-watersuiweringsaanleg”.

“Die water- en rioolinfrastruktuur is in gedrang gebring, wat gelei het tot rioollekkasies wat waterbesoedeling veroorsaak.”

Altesame 15 mense is al dood weens die cholera-uitbreking en tientalle ander het sedert verlede week by die Jubilee-distrikshospitaal met simptome van diarree, maagkrampe en braking aangemeld. Die departement van water en sanitasie het intussen gesê hy gaan sy pogings verskerp om die uitbreking in bedwang te bring.

Volgens die departement is die bestaande tegniese span kundiges in waterdienste en regulasies uitgebrei sodat hulle aan ʼn geïntegreerde model kan werk om die uitbreking te stuit. Die span sal direk saam met die nasionale en provinsiale departement van gesondheid en die Tshwane-metro werk om die watergehalte van waterbronne soos krane en watertenkwaens te ondersoek, asook om die oorsaak van die cholera-uitbreking te identifiseer.

Verdere watergehaltetoetse sal ook op drinkwaterbronne gedoen word.

Die metro het onlangs toetse gedoen by verskeie reservoirs, brandkrane, laerskole, klinieke en ander plekke wat water van die Temba-waterbehandelingsaanleg ontvang. Dit is intussen bevestig dat daar geen mikrobiologiese smetstowwe bestaan wat dui op E. coli of fekale koliform wat met die cholera-uitbreking verbind kan word nie.

Vingers gewys

(Argieffoto)

Die ANC in Gauteng het vroeër gesê hoewel cholera nie in sekere aanlegte gevind is nie, is dit duidelik dat die plaaslike regering die oorsaak van die krisis is.

Lesego Makhubela, woordvoerder van die ANC in die provinsie, sê die begin van die huidige cholera-uitbreking kan jare teruggeneem word. In 2021 is daar besluit om die Temba-watersuiweringsaanleg te sluit weens die agteruitgang van watergehalte omdat toerusting onklaar geraak het.

Duisende inwoners is in ʼn waterkrisis gedompel en dit het tot ingryping van die Menseregtekommissie (MRK) en die nasionale regering gelei.

Die MRK het ná ʼn ondersoek bevind dat Tshwane se varswaterbronne besoedel word met “onbehandelde en gedeeltelik behandelde riool” wat ʼn verwoestende uitwerking het “weens ʼn versuim om die afvalwatersuiweringswerke in Pretoria in stand te hou”.

Die MRK het in dié verslag gemaan dat mense en diere wat van die water drink, kwesbaar is vir siektes soos bilharzia, cholera en hepatitis.

Die NFP sê gegewe die huidige stand van sake is dit nodig dat die metro Hammanskraal as ʼn rampgebied verklaar.

“Die gebied moet alle staatshulp ontvang en verskillende staatsdepartemente en private rolspelers moet ingryp,” sê Canaan Mdletshe​​, sekretaris-generaal van die party.

“Ons pleit by politieke partye om nie die situasie in Hammanskraal ʼn politieke speelbal te maak nie. Menselewens gaan verlore en medemenslikheid moet nou seëvier. Ons wil graag sien dat inwoners hulp kry en dit moenie net vir politieke veldtogte gedoen word nie.”

Miljoene rand kwyt

Die politieke party GOOD sê die situasie stuur af op ʼn humanitêre krisis wat vir ewig aan die leiers van die Tshwane-metro, asook die ANC en die DA-geleide koalisie gaan kleef.

“Die koalisie is die afgelope paar jaar in beheer van die metro en was deeglik bewus van die situasie in Hammanskraal,” sê Sarah Mabotsa, ʼn GOOD-raadslid in Tshwane.

Volgens GOOD is daar reeds sowat R300 miljoen aan die Rooiwal-watersuiweringsaanlegprojek bestee, maar nog niks is gedoen om dit te voltooi nie; inteendeel “die probleem het net vererger en het nou tot die cholera-uitbreking gelei”.

“Die voorgestelde begrotingstoewysing vir die 2023-’24-boekjaar gaan boonop onvoldoende wees om die projek af te handel.”

Tshwane se burgemeester, Cilliers Brink, het in sy eerste stadsrede gesê daar gaan onder meer op die waterprobleme in die stad gekonsentreer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

JohanEtz ·

Ai tog.
Ek dink as die astronmiese fondse wat met Pretoria se naamsverandering gepaard gegaan het, eerder op opgraderings, uitbreiding en onderhoud van bv waternetwerke spandeer gewees het….
Wie was toe aan beheer????

Miena ·

My huishulp is van Hammanskraal. alhoewel sy by ons inbly in die week is haar 02 seuns nog tuis. Hulle koop maar water om die dors te les of kos mee te maak. Dit is n absolute walglike gebeurtenis wat hier afspeel. Maak nie saak of dit wit, bruin, swart of gemeng is nie. Mens, dier, kostuine, grond, boom en blom het water nodig. Suiwer water wat geskik is vir gebruik sonder enige nagevolge. n Basiese reg van die samelewing. Ag nee wat – woorde ontgaan my nou ek gaan liewer stilbly nou want ek is besig om opgewerk te raak.

Mariana ·

Dis lagwekkend dat die ANC vinger wys. Kyk net hoe lyk dit waar hulle in beheer is. Die hele gemors het sy oorsprong juis by die ANC. DA is oor die algemeen beter met sulke probleme en los gewoonlik ook probleme op. Maar ja dit moet iemand se skuld wees solank dit net nie die ANC is nie. Pateties

Petra ·

DA koalisie is nou eers in beheer. Hierdie riool en water probleme kom al lankal aan. EFF moet maar stilbly!

JohanR ·

Moet lekker wees om nou die DA te blameer. Hoeveel jare het die ANC nie Pretoria op gemors nie. Enige iemand wat oorgeneem het gaan sukkel on ANC breek reg te maak. ANC moes liewer ‘n paar straat naam veranderings gelos het en iets aan Hammanskraal se water gedoen het.

Johann ·

Altyd die pokitieke speel bal eerste. En altyd die vingerwys. So asof die EFF en ANC trots kan wees op hulle “suksesse”? Maar: dis beslis iets wat al lankal kom. Personeel by ons bevestig in detail oor hoe lank die water al vuil is.

Nicholaas ·

Ek stel voor dat as die situasie opgelos is moet hul n ondersoek las na wie verantwoordelik is vir die gemors van die wat voorheen in beheer was en laat hul aan die pen ry vir moord.

Faraway ·

Wie het ooit kon dink dat ons water moet koop om te drink omrede kraan water ONVEILIG is vir mense gebruik
Dis eintlik waar ons Land se probleme begin het!!!

marius ·

Hierdie is net die begin . Tot die see is vrot daarvan. Covid gaan soos ‘n graad R konsert lyk in vergelyking wat vir die hool gaan kom.

skurweberg ·

Die moontlikheid van ‘n Mafia-beplande-krisis kan nie uitgesluit word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.