Cholera: Watersituasie in SA ʼn ‘tikkende tydbom’

(Foto: Andres Siimon / Unsplash)

Indien die water- en rioolprobleme in Suid-Afrika nie dringend opgelos en reg bestuur word nie, sal dit binnekort ʼn teelaarde vir allerlei waterdraende siektes soos cholera wees – al dui die jongste uitbreking van dié siekte dalk nie nou op ʼn nasionale krisis nie.

ʼn Waterkenner sê Suid-Afrika sal met ʼn veel groter krisis as Eskom en beurtkrag sit, indien die regering nie dringend aandag skenk aan die land se watersuiweringsaanlegte nie.

“Ek sê nie Suid-Afrikaners moet nou paniekerig raak nie, maar ons moet ook nie ons koppe in die sand wegsteek nie. Ons sit op ʼn tikkende tydbom,” het Benoit le Roy, hoof van die Suid-Afrikaanse Waterkamer, aan Maroela Media gesê.

“Rioolaanlegte werk nie. Die oplossings is eenvoudig, maar dit verg optrede.”

Cholera nie nou rede tot paniek

Gautengers was vandeesweek op hol ná vals gerugte dat kraanwater in dié provinsie met cholera besmet is. Dit volg nadat ses cholera-gevalle, waarvan een sterfte, die afgelope maand deur die departement van gesondheid in die land bevestig is. Al ses gevalle is in Gauteng aangemeld, waarvan net twee mense ʼn reisgeskiedenis gehad het.

Dr. Angelique Coetzee, algemene praktisyn en voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, sê sy dink nie mense hoef bekommerd te wees oor die aantal cholera-gevalle wat nou aangemeld is nie, maar dat dit wel belangrik is vir mense wat ernstige diarree en ontwatering ondervind om dringend by ʼn dokter of hospitaal uit te kom.

Sy sê dat veral mense met ʼn verswakte immuunstelsel vatbaar is vir siektes soos cholera. Die probleem vererger in landelike of armer gebiede waar mense nie dringend by ʼn mediese praktisyn kan uitkom nie, infrastruktuur gebrekkig is en waar gemeenskappe van besmette water gebruik maak.

“Die behandeling van cholera is eintlik nie ingewikkeld nie. Dis baie belangrik om vloeistowwe aan mense met cholera te gee sodat hulle nie verder ontwater nie. Dit word ook met ander medikasie behandel. Die probleem is dikwels dat mense wat ernstig siek word, nie betyds by ʼn hospitaal uitkom nie.

“Baie mense is egter asimptomaties en weet nie eens dat hulle cholera het nie.”

Coetzee sê dit is baie belangrik om jou hande deeglik en gereeld te was, nie water te sluk wanneer jy in riviere of damme swem of bad nie, en om te alle tye dam- of rivierwater te kook indien dit jou enigste waterbron vir drink- en kosmaakdoeleindes is.

Die bakterieë kan selfs oorgedra word wanneer groente of vrugte met besmette water afgespoel word, of wanneer kos in dié water voorberei word.

Cholera in kraanwater

Le Roy sê hoewel hy nie in dié stadium bekommerd is oor die veiligheid van drinkwater in die provinsie nie (wat deur Randwater voorsien word), moet die regering en munisipaliteite uiters dringend aandag aan rioolaanlegte en watergehalte in die land gee. Cholera is immers ʼn waterdraende bakterie en baie van die land se waterbronne word gereeld met riool besmet. Die probleem tree dus in wanneer mense water direk uit damme en riviere drink of dit gebruik om mee te kook of te was. Grondwaterbronne kan soms ook besmet wees en moet eers gekook word.

“Boorgatwater is nie veilig tensy dit getoets word om te sien of dit aan SANS 241-standaarde voldoen nie. Dit moet ook chloordosering hê om ʼn blywende ontsmettingsmiddel in die afleweringstelsel te hê.”

Maroela Media het vroeër berig dat slegs een uit elke vyf (20%) rioolsuiweringswerke in Suid-Afrika afvalwater op ʼn voldoende wyse suiwer. Dit kan eindelik ook die gehalte van kraanwater beïnvloed.

Daar waar maatskappye wat drinkwater voorsien egter nie die veiligheid van dié water kan verseker nie, is hulle volgens wet verplig om lede van die publiek in te lig.

Foto ter illustrasie. (Foto: Verskaf)

Die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit het juis Dinsdag ʼn waarskuwing uitgereik dat inwoners water moet kook voordat hulle dit gebruik aangesien wydverspreide wateronderbrekings die metro genoop het om boorgatwater in die stelsel te gebruik.

Meer bewusmaking nodig

Benewens gebrekkige infrastruktuur, blyk bewusmaking oor siektes soos cholera ook ʼn probleem te wees.

Le Roy benadruk dat ʼn groot deel van die bevolking dikwels van waterbronne soos damme en riviere gebruik maak om in te bad en kos te maak, wat die risiko’s van siektes soos cholera verhoog. Sommige mense gebruik ook rioolwater vir onder meer besproeiing, wat baie gevaarlik kan wees.

Hy meen daar moet dus ook meer bewusmaking en onderrig oor cholera (en ander waterdraende siektes) en die verspreiding daarvan wees, maar benadruk dat die regering – veral op munisipale vlak – dringend hul sokkies moet optrek om wanfunksionele rioolstelsels te herstel. Lede van die publiek moet ook druk op die regering uitoefen om dié verantwoordelikheid na te kom.

“Die regering moet aanspreeklik gehou word. Rioolaanlegte moet eenvoudig werk. Geld, kundigheid, hulpbronne en beter sisteme is eenvoudige oplossings vir ʼn verwikkelde probleem. Maar niks word deur munisipaliteite gedoen nie,” het Le Roy gesê.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elize ·

Dis hulle eie skuld. Leef soos varke. Waar het jy gesien jy bollie in jou eie drinkwater????? Die land lyk en ruik soos ‘n vullishoop. Natuurlik gaan ons siek word.

Asgat ·

Die spesifieke areas waar die Cholera uitgebreek het was vir 6 weke sonder enige water. Baie was gedwonge om die rivier water te gebruik. Ek bly in Benoni en ons het al vir 2 weke sonder water gesit. Na n’ groot gestoei is water tankers geplaas….. wie toets daai water wat in die water tankers is? Ons het al gesien hoe pype oor n’ muur by Korsmans “bird sanctuary” gegooi word en die water daar uitgetrek word in water sak tanks??? Waar vat die munisipaliteit dit?

Belinda ·

they can just as well admit – hierdie land is in sy dinges in… alles waaraan die government raak, is klaar die afgrond in. Binnekort gaan ons soos daai Mad Max mense lewe..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.