Chris Chameleon nou beskermheer van FAK-liedjietuin

Dr. Danie Langner FAK Besturende Direkteur en Chris  Chameleon in die FAK liedjietuin

Dr. Danie Langner FAK Besturende Direkteur en Chris Chameleon in die FAK liedjietuin

Chris Chameleon, bekende musiekkunstenaar en akteur, is deur die FAK benoem as die nuwe beskermheer van die FAK-Liedjietuin.

Die FAK se liedjietuin is by sy kantoor op die Voortrekkermonumentterrein op 10 Oktober 2013 aan die publiek bekend gestel om aan Afrikaanse musieklegendes erkenning te gee. Die behoefte om ’n Afrikaanse liedjietuin uit te lê het ontstaan toe verskeie Afrikaanse kunstenaars soos Christa Steyn, Lucas Maree en Louis van Rensburg tydens die samestelling van die FAK-Sangbundel Volume II oorlede is. Die gedagte is geopper dat daar nêrens ’n plek is waar Afrikaanse kunstenaars onthou word vir die reusebydrae wat hulle lewer ten opsigte van die uitbou en ontwikkeling van Afrikaans nie.

Daar is 165 naamrose van Afrikaanse kunstenaars en liedjies in samewerking met Ludwig’s Roses aangeplant in die tuin met granietplate wat die Afrikaanse liedjies se lirieke ten toon stel. Van die gaste wat by die opening was, is onder andere Mimi Coertse, Rina Hugo, Johan van Rensburg, Anneli van Rooyen, Lance James en Karla du Plessis.

Chris Chameleon het met sy bekoorlike verhoogpersoonlikheid en sy vier-oktaafstem bekend geraak as ’n musikale fenomeen wat hom verskeie toekennings besorg het. Hierdie toekennings sluit onder andere vyf Suid-Afrikaanse Musiektoekennings (SAMAs), ’n Erepenning van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en dubbel platinum CD’s in. In 2007 het Chris ook die FAK-toekenning vir Besondere Kultuurprestasie ontvang en is vier van sy liedjies in die nuwe FAK-Sangbundel Vol. II opgeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.