Chris Chameleon sê hy weet goed wie se kind hy is, al het hy sy pa laas gesien toe hy drie weke oud was en is sy pa intussen oorlede.
Die sanger het die afgelope ruk ʼn herrie veroorsaak toe hy in ʼn inskrywing op Facebook geïnsinueer het die ontslape minnesanger Bles Bridges is sy pa. Hy het vertel hoe dit voel om sonder ʼn pa groot te word en gesê hy wens mans wil pa staan vir die kinders wat hulle verwek.
Die sanger het Vrydagoggend ʼn meer as 44 minuut lange video in die sosiale media gedeel waarin hy eers uitwei oor die mag van die sosiale media. Twintig jaar gelede het net mense met agtergrond of talent blootstelling aan die kollig gekry; nou kan enigeen bekend raak deur hul uitlatings op platforms soos Facebook, het hy gesê.
Hy herhaal sy renons in mans wat kinders maak, maar nie pa wil staan vir hul kroos nie. Dan vertel hy van sy eie kinderjare toe hy weliswaar nie elke oomblik bewus was van sy afwesige pa nie, maar af en toe die helder besef ervaar het dat sy pa nie daar was vir hom nie.
“Ek weet dat ek die afgelope week baie ongewild by mense geword het,” erken hy dan, “en ek weet dat ek in die komende tyd ook baie ongewild gaan bly by baie van daai mense.”
Hy vermoed ook dat hy ongewild gaan wees by mense “wat eintlik eers van my gehou het”.
Chameleon sê as dit die prys is wat hy moet betaal om mense so ver te kry om krities te lees, het hy vrede daarmee. “As ek dit weer kon gedoen het, sou ek, maar dalk net hier en daar iets ʼn bietjie anders gedoen het.”
Oor Bridges, wat natuurlik nié sy pa is nie, skerts hy: “Ek het net liefde vir Bles. Ek gim op sy musiek.”
Hy sê sy ma was een van net vier mense wat hy geken het in dié saak. “Die bommetjie het al gebars, toe vat ek haar eenkant toe en sê vir haar: ‘Ma, dis wat gebeur het.’ En ek verduidelik vir haar presies wat ek nou vir julle vertel.
“En sy sê: ‘Ek gee nie om nie. Ons weet mos wat gebeur het. Jy weet mos wie jou pa is.’”
Ek het niks anders as waardering vir my pa nie.
Dan sê Chameleon: “My pa is Dawid. Ek het ʼn halfsuster en ek het niks anders as waardering vir my pa nie. Ek wens ek kon hom ken, maar soos ek dit sien en glo, gaan ek hom eendag ontmoet en ek sien uit daarna.”
Hy vra sosialemediagebruikers moet “rondkyk” en hul kommentaar “ʼn bietjie inhou sodat ons in ʼn veiliger wêreld kan leef. Mense sit agter ʼn skerm en sê goed vir mense wat hulle nooit in hul gesig vir hulle sal sê nie.”
Die gedagte om ʼn “waarheidbom” in die sosiale media te laat bars, het reeds vyf maande gelede by hom onstaan nadat hy ʼn “onthulling” ervaar en gewonder het wat hy daaromtrent kan doen, maar hy sê nie wat die onthulling was nie.
Wie dink jy is jy, Chris Chameleon?
Heelparty aanhangers lewer opbouende kommentaar op sy video, maar minstens een is nie ingenome nie. “En intussen het jy nie omgegee hoeveel seer jou pos oor Bles Bridges vir Leonie en [Sunette] en hulle families veroorsaak het nie? En jy dink die ‘mense het in die pos gelees wat hulle ‘wou’ terwyl JY insinuasies gemaak het?
“Wie dink jy is jy, Chris Chameleon, om met mense se lewens en gevoelens te speel? Skud maar net my kop en gaan verby. Jy het GROOT skade berokken deur te lieg. Jou kredietwaardigheid as kunstenaar het ’n knou in my opinie gekry… En ja, jy het gelieg. Jy het dit laat klink asof jy jou pa NOOIT geken het nie … Jy wou hê die wereld moet vir jou jammer voel en nou?”