Christo Bothma-verdwyning: ‘Bring die bewys dat hy dood is’

Amanda en Christo Bothma.

Die vrylating van ʼn gevangene in Mali verlede naweek kan dalk nuwe lig werp op die lot van die Suid-Afrikaner Christo Bothma wat in September 2018 spoorloos in dié land verdwyn het.

Bothma, ʼn Potchefstromer, en Kimar Akoliya, seun van die Indiese goudmynbaas Akoliya Patel, is in September 2018 in Burkina Faso as gyselaars geneem. Christo het vir Akoliya se pa as instandhoudingsbestuurder by ʼn myn gewerk.

Maroela Media het vroeër berig twee tussengangers, die een van Niger en die ander van Mali, het in Julie verlede jaar onafhanklik van mekaar aan die noodlenigingsgroep Gift of the Givers bevestig dat Christo reeds op 19 Junie in Mali dood is. Daar was egter geen fisieke bewyse nie.

‘n Inskrywing op sosiale media oor Akoliya se vrylating.

Amanda Bothma, Christo se vrou, het die afgelope week gesê Akoliya se vrylating kan dalk antwoorde verskaf op die nimmereindigende vrae oor haar man se verdwyning. Hoewel sy nog nie self met hom kon praat nie, het Akoliya se pa gesê die twee is ná ʼn voorval van mekaar geskei.

Volgens Patel het Christo ʼn vuurwapen by een van sy gevangenemers in ʼn struweling probeer afneem en is die twee gyselaars daarna nie meer saam aangehou nie.

Amanda sê dit is moontlik dat Christo vir Akoliya probeer beskerm het. “Ek weet nie wat in my man se kop aangegaan het nie, maar ek het van die begin af vir mnr. Patel gesê my man sal na sy seun kyk.”

Amanda het egter vrae oor bewerings dat Christo, hoewel hy Akoliya glo daagliks bemoedig het, sélf neerslagtig begin voel het. “As hy die seun dan so bemoedig het, waarom sou hy self terneergedruk word?”

Sy sê sy sou graag sélf met Akoliya wou gesels. “Ek gaan kans gee tot hy weer mens voel, maar ek wil bitter graag by hom hoor wat regtig aangegaan het. As ek net weet hoe Christo gevoel het, waaroor hulle gepraat het, wat hy gedoen het? Hulle het ses maande lank saam gelewe,” sê Amanda.

“Almal sê vir my ek moet aanvaar dat hy dood is. Ek weier. Hoe kan ek so iets aanvaar?

Christo en Amanda Bothma. (Foto: Facebook)

“Mense dink dalk ek is mal omdat ek dit nie wil aanvaar nie, maar mense kan dink wat hulle wil. Ek wil my man hê, of ek wil bewyse van sy oorskot hê voor ek enigiets glo,” sê Amanda vasbeslote.

“Ek glo nie dat hy dood is nie. Bring vir my die bewyse. Bring vir my die DNS-toetse. Bring vir my X-strale, bring vir my iets! Dán kan ek vir jou sê dit is my man.”

Amanda sê dr. Imtiaz Sooliman, verbonde aan Gift of the Givers, het die afgelope week weer gesê Christo is dood.

“Die res van die wêreld het besluit hy is dood, maar ons het nie afsluiting nie. Daar is nie genoeg bewyse om enigiets net te glo nie.”

Amanda het ná Christo se verdwyning ʼn Facebook-blad begin waar sy inligting oor die soektog na haar man deel. “Die mense op die groep praat my gereeld moed in. Hulle en my kinders hou my positief.

“Daar is selfs mense wat ek van geen kant af ken nie, wat my ondersteun. Soms, op ʼn dag wanneer ek regtig af voel, kry ek net ʼn boodskap van iemand wat sê ‘hou moed’. Ek waardeer elkeen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Piet Pompies

Dit klink net soos iets uit die movies…

ondersteun

@amanda
hou vas aan jou Here, Hy sal jou bystaan en moed gee
hou aan vrae vra tot jy ‘n besliste antwoord het
sk bid vir julle dat God julle sal bystaan in die tyd
sterkte