Christo Landman oorlede

Dr. Christo Landman op sy 70ste verjaardag. Foto: Facebook.

Dr. Christo Landman op sy 70ste verjaardag. Foto: Facebook.

Terwyl alle oë Donderdagaand op die chaos in die parlement in Kaapstad gerig was, is die Afrikaanse politieke leier, dr. Christo Landman, skielik oorlede.

Willie Spies, regsverteenwoordiger en besturende direkteur van Hurter Spies, ʼn familievriend, het Vrydag aan Maroela Media gesê Landman is omstreeks 18:30 in Pretoria in die ouderdom van 70 jaar dood. Hy het vermoedelik ʼn hartaanval gehad.

“Ek sal hom altyd onthou as ʼn goeie vriend,” het Spies gesê. “Hy het nooit ophou dink aan maniere hoe Afrikaners in Suid-Afrika vry, gelukkig en voorspoedig kan wees nie.”

Spies het ʼn kort oorsig van Landman se loopbaan gedeel.

Landman was vir dekades in diens van die departement van buitelandse sake. Sy laaste pos, tot einde 1993 was as hoof van die Suid-Afrikaanse missie in Berlyn kort voordat die Suid-Afrikaanse Ambassade uit Bonn na Berlyn terugverskuif is.

Hy is in April 1994 verkies tot ’n lid van die provinsiale wetgewer vir die Vryheidsfront. Na die 1999 verkiesing het hy homself voltyds toegewy aan die totstandkoming van die Kommissie vir die Bevordering van Regte van Godsdiens- Kultuur en Taalgemeenskappe, kragtens artikel 185 van die grondwet. Ná die oprigting van die kommissie was hy vir vyf jaar ’n kommissaris daarvan.

Landman het ook deeltyds by die Afrikaanse Protestantse Akademie gedoseer en was ook gereeld as programdeelnemer by Radio Pretoria se programme, Klankkoerant Joernaal en Uit die Hoed, betrokke.

“Hy het hom die laaste aantal jare voltyds toegewy aan pogings om die Afrikanergemeenskap te organiseer in ’n kultuurraad wat as instelling van die burgerlike samelewing Afrikanerbelange kan verteenwoordig,” het Spies bygevoeg.

Landman laat sy vrou Marietjie, drie kinders en vyf kleinkinders agter.

Begrafnisreëlings sal binnekort bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

david ras ·

My innige simpatie aan die Landman gesin.
Christo se heengaan is ‘n reuse verlies vir alle Afrikaners.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.