Christo Wiese eis R59 miljard van Steinhoff

Christo Wiese (Foto: ANA)

Die Suid-Afrikaanse miljardêr Christo Wiese het Donderdag ʼn eis van R59 miljard teen Steinhoff International Holdings ingestel in verband met kontantbeleggings wat sy Titan Group in 2015 en 2016 in Steinhoff gemaak het.

Wiese het miljarde rand in beleggings verloor toe die Steinhoff-aandeleprys skielik verlede jaar getuimel het weens “rekenkundige onreëlmatighede” wat ook die einde van die uitvoerende hoof, Markus Jooste, se loopbaan beteken het. Wiese het daarna as voorsitter bedank.

Die maatskappye eis die kansellasie van die ooreenkoms in 2015 met Steinhoff International Holdings (Edms) Bpk ingevolge waarvan hulle ingeskryf het op aandele in Steinhoff na laasgenoemde se verkryging van Pepkor Beperk van sy aandeelhouers. Hulle eis nou terugbetaling van daardie inskrywingsbedrag.

Die tweede eis hou verband met die Titan-groep se kapitaalinspuiting in 2016 in Steinhoff om laasgenoemde in staat te stel om sy skuldverpligtinge na te kom ten tyde van sy verkryging van Mattress Firm in die VSA.

Wiese se prokureurs het in ʼn brief, wat by die dagvaarding ingesluit is, gesê Wiese is oortuig dit is in die belang van alle belanghebbers in Steinhoff dat ʼn herstrukturering van die groep op regverdige en billike terme moet geskied. Wiese het gesê na sy mening besit die Steinhoff-groep ʼn aantal uitstekende ondernemings, die meeste waarvan in 2015 van Pepkor verkry is. “Hierdie [ondernemings] beskik almal oor die potensiaal om in ʼn geherstruktureerde Steinhoff voort te gaan om waarde vir alle aandeelhouers en eisers te skep.”

In die begeleidende brief word gesê dat hoewel daar op die dagvaardings opgevolg sal word, is die eisers bereid om, indien so ooreengekom, nie verdere stappe te doen nie indien samesprekings met ʼn redelike kans op sukses so gou moontlik gereël kan word.

Wiese het gesê sy groep sal saam met ander eisers en aandeelhouers werk om seker te maak dat Steinhoff steeds as ʼn volhoubare maatskappy bly voortbestaan. Dit sal egter beteken dat die huidige skuld geherstruktureer moet word. Hierdie moontlikheid is gegrond op die voortgesette uitstekende prestasie van die Steinhoff Africa Retail (Star)-groep (waarin die meeste van die oorspronklike Pepkor-besighede ondergebring is) en waarvan Steinhoff tans die beherende aandeelhouer is.

“Baie van die ander besighede in die Steinhoff-groep beskik ook oor goeie potensiaal en ek is sterk van mening dat alles moontlik gedoen moet word om die groep so gou moontlik te herstruktureer,” het Wiese gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Natan ·

Botsing van belange? Mnr Wiese was voorsitter van Steinhoff en moet ook verantwoordelikheid aanvaar vir die Steinhoff probleme. Eintlik dagvaar hy homself. Kan nie brood aan beide kante gebotter wil hê nie. Sy plan vir herstrukturering mag werk, maar as direkteur van Steinhoff kan hy dit intern doen. Hierdie aksie van hom is om sy wil in Steinhoff af te dwing soos ‘n nie-amptelike voorsitter. Eerste stap sal wees om oop kaarte met beleggers te speel sodat sakevertroue opgebou word en die aandeelprys kan verbeter tot baie se verligting. Steinhoff besit goeie markwaarde. Wat het van Markus Jooste geword?

Eugene ·

Laat die publiek maar eers hulle geld terug kry en daarna die betrokke direkteure

Eish ·

Dat n mens nou op jou oudag met so n kraaines moet sit om los te wikkel.
Ek wonder tog of dit nie maar raadsaam is om op jou oudag indien jy bevooreg is om finansieël onafhanklik af te tree, nie maar net in raadgewende hoedanigheid aan te bly of beter nog, liefs jou toe te spits op filantropiese kwessies nie. Hierdie onnodige stress gaan verseker jou lewensverwagting knou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.