Christoff Becker moet vir eers weer parool kry

Frikkie du Preez (L) en Christoff Becker op die dag toe hulle die eerste keer op parool vrygelaat is Foto: TimesLive

Frikkie du Preez (L) en Christoff Becker op die dag toe hulle die eerste keer op parool vrygelaat is Foto: TimesLive

Christoff Becker, een van die sogenaamde Waterkloof-vier, se regsverteenwoordiger het Vrydag bevestig dat die hooggeregshof in Pretoria gelas het dat Becker weer op parool vrygelaat moet word.

Jonatan Bouwer, ʼn prokureur by Potgieter, Penzhorn & Taute Prokureurs, het aan Maroela Media gesê die hooggeregshof in Pretoria het Vrydagoggend die bevel gemaak nadat Becker ʼn dringende aansoek gebring het.

Volgens Bouwer moet Becker op dieselfde voorwaardes vrygelaat word as toe hy op 11 Februarie vanjaar op parool vrygelaat is. Bouwer het gesê Becker se ma is op pad om hom by die Kokstad-gevangenis in KwaZulu-Natal te gaan haal.

Becker se aansoek om op parool vrygelaat te word is goedgekeur hangende ’n appèlaansoek. Sy regsverteenwoordigers het appèl aangeteken teen ’n hofbeslissing in September waarvolgens ’n vorige besluit van die paroolraad om sy parool terug te trek, nietig verklaar is. Daar is ook destyds beveel dat die saak weer na die paroolraad terugverwys moet word.

Becker, Frikkie du Preez, Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt, het in 2001 ʼn hawelose man in Pretoria doodgeslaan. Die vier is op 11 Februarie op parool vrygelaat en Becker en Du Preez is op 28 Februarie weer teruggestuur tronk toe nadat ʼn selfoonvideo aan die lig gekom het wat glo wys hoe Becker en Du Preez partytjie hou in die tronk. Becker is later na Kokstad oorgeplaas nadat ’n selfoon glo by hom gekry is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

koos ·

So baie moeilikhede vir ‘n onbesonne daad. Ek is so dankbaar dat Jesus my al die pad behoed het. Ek is nou 65 – so Jesus Jy moet asb nog net ‘n paar jaar hard werk vir my. Dankie Jesus.

Dave ·

Jakobus, as jy nie met meer respek kan kommunikeer met die God van die gode, die Koning oor die konings, moet jy nie ‘n platform toegelaat word. Die Meester werk nie vir jòu, jou aap. Wees dankbaar dat Hy in Sy genade, my en jou insluit by sy Groot en Ewige Plan.

skalla ·

Dave. Die oom is n aap se jy? Hier kom jy toe op die platform,en wys wie is die aap. As jy niks goed kan se nie, bly dan eerder stil.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.