Christopher Panayiotou dalk eers dán verhoor

Christopher Panayiotou tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: ANA

Christopher Panayiotou tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: ANA

Christopher Panayiotou kan moontlik meer as ʼn jaar agter tralies wees voor hy verhoor word vir die beweerde huurmoord op sy vrou, Jayde.

Panayiotou is Vrydag in die Port Elizabeth-landdroshof borgtog geweier. Adv. Terry Price, Panayiotou se regsverteenwoordiger, het tydens die borgtogaansoek gesê die hofrolle is oorvol en dat sy kliënt tot die laaste maande van 2016 sal moet wag om verhoor te word.

Landdros Abigail Beaton het in haar uitspraak gesê sy het die bewyse in geheel sowel as die argumente en regspraak wat aan haar voorgelê is, oorweeg. Sy het gesê die beskuldigde staan tereg op ʼn skedule ses-aanklag en dat die onus dus op hom gerus het om te bewys waarom dit van belang is om hom op borgtog vry te laat. “Hy het nie daarin geslaag om dit te doen nie,” het Beaton gesê.

Panayiotou het sy kop in stilte laat sak toe Beaton haar uitspraak gelewer het en nie ʼn woord gesê toe hy terug na die aanhoudingselle geneem is nie. Jayde se familie het hardop “ja” uitgeroep en hul hande in die lug gegooi nadat Beaton die aankondiging gemaak het.

Staatsaanklaer Marius Stander het tydens Panayiotou se borgtogaansoek aangevoer dat die staat ʼn baie sterk saak teen Panayiotou het en die motief vir die moord op Jayde kan bewys. Stander het aangevoer dat Panayiotou sy vrou laat vermoor het aangesien hy nie haar en sy minnares finansieel kon onderhou nie. Stander het ook aangevoer dat Panayiotou ʼn vlugrisiko is.

Price het intussen nog nie aangedui of hulle gaan appelleer teen Beaton se beslissing nie. Beaton sal aanstaande Vrydag die volle redes vir haar besluit in die hofrekord inlees.

Panayiotou het glo sy werknemer, Thando Siyoli, betaal om die huurmoord van sy vrou te reël. Siyoli het as uitsmyter gewerk by ʼn nagklub wat Panayiotou besit. Siyoli het glo vir Sizwezakhe Vumazonke genader om die moord uit te voer. Panayiotou het na bewering R70 000 vir die moord betaal, waarvan Vumazonke R40 000 ontvang het en Siyoli R30 000.

Klik hier vir alle vorige berigte oor die Jayde Panayiotou-saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karen ·

Geen simpatie met n man wat sy eie vrou uitlewer aan barbare om vermoor te word nie. Hoop by het net ellende vorentoe.

Dave ·

Die jaar wat hy gaan sit voor hy gevonnis word moet net nie afgetrek word van sy finale vonnis.

Ronel ·

Ek stem saam Dave!!! Hy moet sit en besef wat hy gedoen het, maar sulke mense dink ek het nie eers n gewete nie, het hy vir een oomblik aan haar gedink die vrees en angs wat sy daai oggend moes beleef het…. my hart breuk vir haar famielie. Ek is ook n moeder van n volwasse vrou en kan nie my lewe in sien sonder haar nie.. Onse Vader is met jou..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.