Christopher Panayiotou se pa tydens roof doodgeskiet

Costa Panayiotou ondersteun sy seun Christopher tydens ‘n vorige verskyning in die hof (Mei 2016) Foto: ANA

Costa Panayiotou (67) is in die vroeë oggendure Maandag in Uitenhage in die Oos-Kaap doodgeskiet.

Volgens sers. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, het Panayiotou pas sy winkel in Markstraat gesluit en was hy en ʼn werknemer op pad na sy motor toe hulle deur ʼn onbekende aantal mans aangeval is.

Panayiotou is deur een van die verdagtes geskiet en hy is op die toneel dood verklaar. “Die verdagtes het die werknemer in Panayiotou se motor ingeboender en van die toneel gevlug.” Die motor is later verlate in Motherwell gevind.

Panayiotou se werknemer is ook later ongedeerd gevind. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie het gesê meer besonderhede sal later bekend gemaak word.

Christopher Panayiotou is in November 2017 tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op sy vrou, Jayde.

Jayde is op die oggend van 21 April 2015 buite die Stellen Glen-sekuriteitsoord in Kabegapark ontvoer waar sy gestaan en wag het vir ʼn saamrygeleentheid werk toe. Haar liggaam is die volgende dag in ʼn afgeleë gebied naby die Kwanobuhle-township buite Uitenhage gevind. Sy is drie keer geskiet, twee keer in haar rug en een keer in haar kop.

Die staat het aangevoer Panayiotou wou sy vrou laat vermoor omdat sy vir hom finansieel ʼn las was. Dit het ook ná Jayde se moord aan die lig gekom dat Panayiotou in ʼn buite-egtelike verhouding betrokke was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andrew

Gaan ons binnekort ‘n verdere appel aansoek sien? Eers die ondersoekbeampte en nou sy pa??????

Francois le Cochon

Sjoe, dis baie erg. My vermoede is dat Christopher nog geld skuld aan iemand, en dat die persoon die geld van die pa wou he^. Die pa wou nie die geld gee.

Maria

Hierdie is nie n roof nie. Iets nie lekker in die storie nie mag die waarheid uitkom. Jammer.

Stella

En so draai,draai,,,die wiel!!

Mads

Ek wou ook eers se die wiel draai……..

Maar shame die arme pa kan nie help vir wat sy seun gedoen het nie.