Christopher Panayiotou, twee ander hoor hul lot

Christopher Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko in die hof (26 Oktober 2017). Foto: Raahil Sain/ANA

Christopher Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko, die mans wat skuldig bevind is in verband met die moord op Jayde Panayiotou op 21 April 2015, is Vrydag in die hooggeregshof in Port Elizabeth gevonnis.

Regter Dayalin Chetty het Panayiotou en Nenembe tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op Jayde. Nenembe is tot ‘n bykomende 15 jaar tronkstraf gevonnis vir roof met verswarende omstandighede. Sibeko is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir sameswering tot moord.

Christopher is op 2 November skuldig bevind aan die moord op sy vrou. Hy is ook skuldig bevind aan dwarsboming van die gereg. Nenembe, een van Panayiotou se medebeskuldigdes, is skuldig bevind op aanklag van moord, asook op ʼn aanklag van roof met verswarende omstandighede. Sibeko is skuldig bevind op ʼn aanklag van sameswering tot moord.

Christopher se suster, Kalleope, het Donderdag gepleit dat haar broer nie tot lewenslange tronkstraf gevonnis word nie. Sy het gesê hy is ‘n liefdevolle, omgee en medelydende persoon.

Jayde se suster, Tony Inggs, het vroeër ter strafverswaring getuig en gesê haar familie sal Christopher nooit vergewe nie. “Ek wil hê jy moet weet dat my ma, pa en ek jou nooit sal vergewe nie,” het ʼn emosionele Inggs gesê. “Die lafaards wat hier in die voorste ry sit sal nooit vergewe word nie.”

Jayde is op die oggend van 21 April 2015 buite die Stellen Glen-kompleks in Kabegapark ontvoer waar sy gestaan en wag het vir ʼn saamrygeleentheid werk toe. Haar liggaam is die volgende dag in ʼn “afgeleë gebied” naby die Kwanobuhle-township buite Uitenhage gevind. Sy is drie keer geskiet, twee keer in haar rug en een keer in haar kop.

Kapt. Gideon Olivier, ʼn ballistiese kenner, het tydens die verhoor getuig daar was ʼn ingangswond aan die linkerkant van Jayde se kop en ʼn uitgangswond aan die regterkant en “dit was definitief” die laaste skoot.

Jayde Panayiotou. Foto: Verskaf

Die staat het aangevoer Panayiotou was die meesterbrein agter sy vrou se moord en dat hy vir Luthando Siyoni betaal het om huurmoordenaars te kry om Jayde te vermoor. Volgens die staat het Nenembe vir Sizwe Vumazonke gehelp om die moord uit te voer. Sibeko het ook ʼn rol in die uitvoering van die moord gespeel.

Vumazonke is verlede jaar in aanhouding dood terwyl Siyoni ʼn getuie vir die staat geword het. Siyoni, ʼn artikel 204-getuie, gaan intussen ook moontlik vervolg word in verband met die moord op Jayde.

Die staat het aangevoer Panayiotou wou sy vrou laat vermoor omdat sy vir hom finansieel ʼn las was. Dit het ook ná Jayde se moord aan die lig gekom dat Panayiotou in ʼn buite-egtelike verhouding betrokke was met Chanelle Coutts wat as ʼn bestuurder by Panayiotou se OK Grocer gewerk het.

Coutts het tydens haar getuienis in die hof erken dat sy in ʼn buite-egtelike verhouding met Panayiotou betrokke was, maar het gesê sy het nie enige kennis gehad van die omstandighede wat tot Jayde se moord gelei het nie.

Een van die verdoemende bewyse teen Panayiotou was ʼn gesprek tussen hom en Siyoni wat tydens ʼn geheime polisieoperasie op video vasgevang is. In die video impliseer Panyiotou homself by sy vrou se moord deur herhaaldelik vir Siyoni te sê om hom nie te bel of te SMS nie omdat “hulle” sy oproepe dophou. Panayiotou vra ook vir Siyoni watter vrae die polisie aan hom gestel het en of daar gevra is of hy [Panayiotou] by die misdaad betrokke was.

Panayiotou sê in die video “hulle”, vermoedelik met verwysing na die huurmoordenaars, het nie Jayde se sakke en juweliersware gevat nie en nou lyk die moord soos ʼn “hit”. “So nou is hulle agter my aan en daarom kan ek jou nie net so voor mense sien nie, Thando,” sê hy.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Ora ·

Ek stem, gepaste vonnis. Watter doodsvrees moes deur daardie pragtige vrou se kop gegaan het. Intussen sit haar eie man soos n lafaard en wag vir die tyding.

Soos dit is ·

Hy is n ryk man wat sy vrou kon skei en kon aangaan met sy lewe. Hy het seker gedink dit gaan hom baie geld kos om te skei en daar is n goedkoper manier om van haar ontslae te raak. Dit wat hy gedoen het was brutaal en die angs wat sy moes beleef het in haar laaste oomblikke moes ondenkbaar gewees het. Ek hoop hy dink elke dag in die tronk daaraan.

kat ·

Mooi man- lekker in die tronk sit!!
Julle verdien dit!!! Julle gaan ou-mense daar uitkom – AS julle uitkom!!!!

Sarel Strydom ·

Uiteindelik. Ook iemand way alles probeer om los te kom. Lewenslank is te kort. Binne 10 jaar uit op parool.

Andre ·

Sarel ek praat onder korreksie, maar ek dink in SA beteken ‘n vonnis van ‘lewenslank’ dat die persoon ‘n minimum van 25 jaar in die tronk is. Dus geen parool voor oor 25 jaar nie.

LK ·

Dis ‘n jammerte die doodstraf is afgeskaf. Maar julle verdien nie eens die dood nie, so dis dalk beter dat julle tronk toe gaan. Jy het ook nooit so pragtige vrou se liefde en aandag verdien nie. Mag jy en jou mede-moordenaars alles in die tronk kry wat julle toekom, en nog meer…

Deloris ·

Jipeee uiteindelik…. geregtigheid het geskiet…. tjoekie is jou tuiste nou waar hy hoort …. wel gedaan.

Eish ·

Gou gaan oplees. Lewenslank beteken lewenslank, maar, jy kan na 25 jaar in aanmerking kom vir parool tensy uitgesluit deur die regter wat die vonnis opgelê het. Dus, die OK Grocer se kliënte, sal hom op die gouste in 2042 sien.

Christine ·

“Soos dit is” ek stem 100% saam met jou – ondenkbaar – hy het ‘n pragtige ander jong mens van ‘n lewe ontneem , hy verdien dieselfde.

C ·

Dit gaan Jayde nie terug bring nie en ook nie die hartseer vir diegene wat lief was vir haar beter maak nie, maar tenmiste kan die familie en vriende nou berusting kry en in hul privaatheid afskeid neem van die geliefde Jayde. Dankie aan Regter Chetty, ek glo hierdie uitspraak word deur almal verwelkom. Mag Christopher in sy eenaamheid berou kry oor wat hy gedoen het, en sommer sy makers ook. Hy verdien dit.

Las ·

Sy was vir hom ‘n ‘finansiële las’, nou is hy dit vir ons. Laat sy geld vir hom sorg.

zunette du toit ·

Regter Chetty jy het jou nie laat lei deur stories nie – die regte vonnis vir daai skurk wat sy vrou laat vermoor het.

Mielie ·

Nou kan hy lewenslank elke dag daaraan dink. Hoekom hy in die eerste plek met haar getrou het as hy dan lief was vir iemand anders. Ek kan nie verstaan hoe hy dit kon doen nie. Ek dink daar is baie meer as net die finansieele verpligting……..Soveel mense hartseer en verward gelaat.

Mad ·

Baie goeie nuus.
Nou het hy in elk n geval niks tyd oor met sy minnaares, soos hy beplan het, nie.

LMF ·

Wonderlike nuus hoop hul gaan n foto van Jayde teen sy ceeling opplak hy moet elke dag in haar pragtige gesig vaskyk ek hoop haar ouers en familie sal metertyd berusting vind en mag hy en sy handlangers kry wat hul toekom

Eben ·

Die doodstraf moet terug gebring word. Nou gaan ons betaal om hom te versorg in die tronk. Hulle moet dat die familie ten minste betaal vir die onkoste in die tronk.

Gideon ·

Ek se nogsteeds….as so n moordenaar vir so n lang tydperk gaan sit….vries sy bates en verkoop van dit sodat hy vir sy eie inkistes betaal of vat sy geld en skenk dit aan gepaste organisasies.

nh ·

Hy moes getrou het met die minnares en nie jade nie. Ek beskou sy pa as medepligtige. Hy het van als geweet. Terloops dit was n skoolkys gewees

Piet ·

Hy het n baie slim prokureur, wil nou appeleer dan kan hy nog geld van hom vat voordat hy lewenslank gaan sit. Hy hoort nie in die samelewing nie. Ons het nog sulke regters nodig, well done.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.