Cilliers Brink: Burgemeester wat sélf moue oprol

Cilliers Brink (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

ʼn Jaar nadat Cilliers Brink die warm stoel van die koalisieregering in die Tshwane-metroraad ingeneem het, is die buffel gekwes, maar moet dit die doodskoot kry, sê hy. Dié buffel, sê Tshwane se eerste burger, is die ANC-regering.

Twaalf maande gelede het Brink onderneem om die hoofstad se geldsake te stabiliseer, energie-onafhanklikheid te bou en dienslewering te verbeter. Hulle vorder, maar hy besef Pretoria is nie Kaapstad nie en verandering gaan nie oornag kom nie, sê Brink aan Maroela Media.

Ná sy verkiesing was die belangrikste om die bestuur te verander; daarsonder sou die kultuur nie verander nie.

Onder sy voorganger, Randall Williams, is Johann Mettler as munisipale bestuurder aangestel. Mettler is ʼn man met ʼn goeie baanrekord; iemand wat opgestaan het teen korrupsie en onbekwaamheid in die Nelson Mandelabaai-metro.

“Ongelukkig het die koalisie van korrupsie hom daar uitgedryf, maar hulle verlies was tot ons voordeel.”

Brink sê sonder ʼn top-amptenaar kan dinge onmoontlik reggeruk word. “ʼn Munisipale bestuurder het enorme invloed en mag. Jy moet iemand met integriteit aanstel.”

Sewe van die metroraad se agt topbestuurders, is aanstellings van buite die raad. Dit was ʼn lang proses, maar ʼn nuwe bestuur was die eerste stap. Hy sê dit klink dalk maklik, maar die metroraad het al die aanstellings gedoen waar die koalisie “papierdun” is.

“Jy kan die beste planne in die wêreld hê, maar soos Peter Drucker [bestuurskonsultant, opvoeder en outeur] sê: ‘Culture eats strategy for breakfast’.

“Ons het enorme politieke storms die hoof gebied om tot hier te kom. Ons het sleutelbesluite geneem: ʼn nuwe finansiële herstelplan, herbouing van die belastingadministrasie-kapasiteit, tariewe wat kostes reflekteer, redelike koste, akkurate vermeerdering van dienste, akkurate rekeninge, om dispute vinnig te besleg en baie aggressiewe kredietbeheer.

“Ongelukkig het die staking ons kredietbeheerplanne in die wiele gery. Dit is moeilik om aggressief vir mense te sê betaal die rekeninge, terwyl vullistrokke in die strate brand en vullis ophoop.”

Twee keer per week word die munisipaliteit se finansies bespreek, want daarsonder is geen ander planne moontlik nie.

Stad se ligte brand nie

Cilliers Brink. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Hy weet straatligte is ʼn nagmerrie en ʼn oplossing hiervoor is uiters belangrik. Die munisipaliteit vervang die stukkende straatligte terwyl hulle probeer verstaan hoekom die netwerk so ʼn probleem is.

“Hoe meer jy begin krap, hoe meer besef jy ʼn ander model is nodig.”

ʼn Toegewyde straatlig-span word onder meer beplan.

“Vorige administrasies het LED-ligte geïnstalleer; dit is egter gevoelig vir die aan- en afskakelry. Met elke kragstuwing kry die komponente skade en baie kleiner deeltjies word verwoes. Beurtkrag veroorsaak enorme skade aan die netwerk wat openbare beligting ondersteun.”

Baie kabels en bokse word boonop gestroop en dit het Brink en sy span laat besef sonkrag-straatligte is waarskynlik die oplossing.

Nes die stad se inwoners, is Brink ook ontsteld en bekommerd oor openbare beligting, juis omdat dit ʼn veiligheidsrisiko skep.

“ʼn Donker straat is ʼn onveilige straat, nie net vir ʼn padgebruiker nie, maar ook vir misdaad.”

Dit lyk na ʼn goeie plan op papier, maar toetslopies sal eers gedoen word.

Helpende hande welkom

In Silverton het die stad saam met ʼn wyksraadslid en die burgerregtegroep AfriForum begin werk om ligte te vervang. ʼn Landgoed in Pretoria-Oos het op sy beurt toestemming om gloeilampe te vervang.

“Ons versaak nie die verantwoordelikheid van die regering nie, maar terwyl ons dinge opbou van binne af, wil ons nie helpende hande wegklap nie. Ons moet die kundigheid en bereidwilligheid, wat reeds in gemeenskappe bestaan, benut.”

Brink sê ʼn belangrike eienskap van ʼn leier is om ʼn span te bou.

“Anders as in Johannesburg, sit ons met bekwame mense, ʼn sterk span. Hier is nie ʼn Gayton McKenzie nie. Ons is nou die enigste metro buite Kaapstad wat nie deur die ANC beheer word nie. As ons dié ding kan laat werk, kan ons sê daar is hoop.”

Volgens Brink is die belangrikste die sukses wat gaan volg op ʼn ANC-nederlaag.

“Die ANC verloor nie lineêr mag nie, maar deur ANC-ondersteuners wat ophou stem,” sê Brink.

Daarom wil hy mense aanmoedig om in die verkiesing te gaan stem. “Die uurglas loop leeg vir ons om die land reg te ruk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

OW ·

Baie belangrike komponente van bestuur wat Celliers Brink verander het.Enige organisasie en regering kan omgekeer word met kundige bestuur.Om in kundige mense te belê,is ‘n voorvereiste om kwaliteit te verseker.Mag Pretoria sy volle potensiaal bereik.

domheks ·

@George – jy is heeltemal reg. Maai BAIE DANKIE aan Cilliers Brink en sy span! Ons kort meer van jou soort in SA.

KB ·

Dit het niks te make met “self moue oprol” nie….Brink doen net sy werk (of hy nou DA is of nie). Met politiek het dit niks te make nie, maar wel met pligsbesef, verantwoordelikheid, trots en vêr-siendheid.
Kom ons klim net van die politieke-wa af, doen ons werk (waarvoor ons verkies/aangestel is), en vat hande vorentoe. “Short-n-sweet”.

Miena ·

As die man praat dan lieg hy net soos n tandetrekker. Wanneer daar n kamera êrens kliek is hy daar want hy hou van die kollig. Sy kiekie moet tog net geneem word want dit is mos nou n bewys dat hy “self iets gedoen” het. Kom kyk maar in ons klein dorp net so 40km buite Pretoria na die Ooste se kant toe hoe sleg en power lyk dit en gaan dit by ons. Die man stel glad nie belang om inwoners te help nie. Hy stel belang in sy eie beeld en profiel en sy bakkies op die nuus en koerante. Ons het male sonder tal hom uitgenooi om met ons te kom vergader oor kwessies van instandhouding, finansies, water, elektrisiteit en infrastruktuur maar helaas…

Patch ·

Hierdie man probeer baie hard om ‘n daadwerklike verskil te maak en die taak is nie maklik nie. Rome is nie in een dag opgerig nie.
Meneer Brink, daar is baie stadsinwoners wat waardeer wat jy probeer doen. Ek glo vir jou lyk dit ook soms na ‘n onbegonne taak maar byt asseblief vas, ons het jou en die span wat jy onder jou het nodig om weer trots te kan wees op ons Jakaranda stad.

Michael ·

Ek hoop julle wen met n meerderheid en verander die provinsie na ‘n weskaap scenario, maar ek dink die doomsday coalition gaan dit verhoed .Ek sou as dit gebeur baklei vir ‘n onafhanklike provinsie alternatief is ons gedoem.

Andre ·

Mr. Brink . Gaan maak weer n draai by Rooiwal water werke. Ek sien as jy opad is dan werk die aanleg. As jy weer gaan sit dit af

Papsak ·

Die land kort meer sulke mense mooi so hou aan Mnr Brink jy kort n medalje regtig dit lyk na voor uitgang !!!!!!!

honeybee ·

@ Miena het julle al self julle moue op gerol en probeer iets doen? Glo nie. Cilliers doen n goeie werk maar kan ook nie orals wees nie, hy is net n mens. Hou so aan Cilliers ons waardeer al jou harde werk, Rome is nie in een dag gebou nie.

Di ·

Ek het baie respek vir hom. Sover is hy die eniste een wat iets bereik het. Die res wat voorheen in beheer was, het die ANC Kaders se voorbeeld gevolg, daarom was Tswane so diep in die rooi finansieel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.