Cindy en haar skattige Aenea nóú hegter as ooit

Cindy Nell-Roberts en haar dogter, Aenea Roberts.(Foto: Tegan Smith Photography/Verskaf)

Hoewel voorkoms ʼn groot rol in haar loopbaan gespeel het, is een van die grootste lesse wat Cindy Nell-Roberts deurlopend vir haar dogter leer, dat sy nie haar identiteit in materialisme of skoonheid moet vind nie.

Eienskappe soos ʼn gesonde verstand, sterk waardesisteem, leierskapvaardighede en opregte vriendskappe is volgens dié model, sakevrou en voormalige Mej. Suid-Afrika veel belangriker en juis goed wat sy by haar jong dogter, Aenea, sedert kleintyd probeer kweek.

“Ek en Aenea is die toonbeeld van girly-girls. Ons hou van velsorg, grimering, om mekaar se hare te doen en TikTok-video’s te maak. Ons kan ure lank gesels en beplan wat ons op ons volgende vakansie wil aantrek, maar ek sê altyd vir haar: ‘Jou voorkoms sal kom en gaan, maar jou gedagtes kan niemand ooit van jou wegneem nie’. Dís wat belangrik is,” sê Cindy in aanloop tot Moedersdag aan Maroela Media.

Cindy en Aenea op die rooitapyt. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Danksy haar ma se roem het dié skattige blondekopdogter in die kollig grootgeword en trek self deesdae aandag as model en beïnvloeder, maar Cindy hou as ma ook altyd ʼn streng en waaksame oog.

“As ons ons kinders heeltemal van sosiale media ontneem, sal hulle dit uiteindelik agter ons rug doen, en ek verkies daarom om saam met hulle die voor- en nadele te ontleed en verken,” verduidelik sy.

“Vir jou kind om op sosiale media te wees, moet jy daarby betrokke wees en hulle nie aan hulle eie lot oorlaat nie. Ek beheer hoeveel tyd daarop deurgebring mag word, ons het veiligheidstellings in plek en ook wedersyds ooreengekom dat die toestelle op sekere tye heeltemal weggeneem moet word.”

Sy moedig vir Aenea, wat al model vir handelsmerke soos Adidas en Gatorade gespeel het, veral aan om ʼn skepper en nie net ʼn verbruiker te wees nie.

“Om net massas inligting op sosiale media in te neem is verstandeloos, sinneloos en tydrowend. Wanneer mens inhoud skep, leer en groei jy.”

Tog erken sy dat dit met tye moeilik is om ouerskap in ʼn tegnologiese era te navigeer.

“Die uitdaging vir ons as die eerste generasie wie se kinders gebore is met gevorderde tegnologie, is om hulle geanker te hou in werklike menslike verhoudings, maar ook toe te laat dat hulle floreer in ʼn wêreld waar tegnologie die toekoms is. Ek dink nie daar’s ʼn reg of verkeerd nie, elkeen doen wat vir hul werk.”

Volgens Cindy is Aenea ondanks die kolligaandag steeds ʼn gewone en gebalanseerde jong meisie en “geen prinsessie” nie.

Akademie bly ook die hoogste prioriteit.

“Wat haar so ʼn lekker dogtertjie maak, is dat jy haar kan vat om te kampeer, maar net so maklik op die rooi tapyt laat loop. Sy is baie gemaklik met mense en aandag en lyk dikwels onaangeraak deur enige eksterne opinies. Dis een van my gunstelingeienskappe van haar én een wat ek self eers as volwassene geleer het.”

Vir Cindy is haar spruit se kalmte “byna soos ʼn superkrag”.

“Aenea is gedrewe en mededingend, maar jy sal dit nooit sê nie, want sy kompeteer net met haarself en het ʼn ware begeerte om die beste weergawe van haarself te wees.”

Roberts-gesin pas goed aan in nuwe tuiste

Ma en dogter is nou veral gehegter as ooit sedert die gesin se onlangse groot trek na Melbourne, Australië, waar Cindy en haar man, Clive, sakegeleenthede vir hulle maatskappy, Cosmetix, uitbrei.

Aenea en haar ouboet, Ethan, het volgens Cindy goed aangepas.

“Hulle albei floreer in hul skole. Aenea is ná net drie maande in haar nuwe skool deur haar maats as klaskaptein aangewys, ʼn bewys van die persoon wat sy is. Ethan geniet reeds sy nuwe sportsoorte soos basketbal en is ʼn baie talentvolle skaakspeler wat al hier by die skaakklub aangesluit het.”

Tussen die twee sibbes is Ethan volgens sy ma die “meer ontspanne” een, maar tog ʼn seun in die ware sin van die woord.

“Hy daag my op ʼn goeie wyse uit met ons verskillende sienings oor tegnologie, en op hierdie manier leer ek weer by hom. Hy het ook onlangs ʼn liefde vir kook ontwikkel sedert hy by die nuwe skool begin het waar hulle voedselwetenskap doen, so nou geniet ons dit ook om saam te kook.”

Die gesin het volgens Cindy ʼn nuwe soort kameraadskap tussen die vier van hulle opgebou sedert hul emigrasie en bring nou baie meer gesinstyd saam deur.

“Die eerste paar maande was moeilik. Ek het amper nie die oorgang deurgemaak nie. Ek het dit baie stresvol gevind en baie gehuil,” erken Cindy.

“Maar net skielik, toe click alles, en dan gaan jy aan. Daar is nou ʼn kalmte oor ons gesin wat ek nog nie voorheen ervaar het nie. Een ding ook oor Suid-Afrikaners, ons is oral! Selfs ons plaaslike dokter en apteker is Suid-Afrikaans, en ons het reeds ʼn paar ongelooflike vriende gemaak wat van Suid-Afrika af kom. Ek is mal daaroor dat ek so baie Afrikaans rondom my in Melbourne hoor.”

Ma-wees vir haar ʼn wipplank én geskenk

Hoewel haar lewe prentjieperfek lyk, erken Cindy dat sy nes baie ander ma’s die uitdagings en vreugdes van ouerskap “een dag op ʼn slag aanpak”.

“Om ʼn ma te wees, is ʼn tuimeltrein van konstante skuldgevoelens, tot gevoelens van ontvlugting. Wanneer jy by hulle is, maak hulle jou mal. Wanneer hulle weg is, bekommer jy oor hulle. Dis die diepste tipe liefde wat daar is, maar terselfdertyd is daar nie genoeg ure in die dag om by jouself uit te kom nie, wat jou dikwels uitgeput en eensaam kan laat voel,” deel sy openhartig.

Aenea en Cindy is nou hegter as ooit. (Foto: Verskaf)

“Dit is alles een groot pragtige reis. Geniet die seën en reis wat moederskap bied, selfs met sy ompaaie. Ek glo daarin om ma-wees met jou hart aan te pak; moenie dit te veel oordink nie.”

Sy beskryf haar eie ma, Marietjie Nell, as die “geduldigste, kalmste, vriendelikste en lieflikste vrou”.

“My ma het my in geloof grootgemaak en altyd oor my gebid. Ek het nog altyd gesê ek skryf my sukses toe aan hoe ondersteunend my ouers van my gekke drome en idees was.”

Haar wens vir ander ma’s hierdie Moedersdag is om gaaf met hulself te wees.

“Jý is die perfekte ma vir jou spesifieke kind. Alles is soos dit moet wees. Neem dit net een dag op ʼn slag, en doen elke dag jou bes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.