City Power-beampte vas oor kabeldiefstal

Argieffoto (Foto: SnapwireSnaps, Pixabay)

Argieffoto (Foto: SnapwireSnaps, Pixabay)

ʼn Senior werknemer van City Power in Johannesburg is in hegtenis geneem nadat vier kabeldromrolle met ʼn geraamde waarde van R350 000 elk in sy besit gevind is.

City Power het in ʼn verklaring gesê die persoon sal in die Johannesburgse hooggeregshof verskyn op aanklag van kabeldiefstal en die besit van gesteelde eiendom.

Die Valke, Suid-Afrikaanse Polisiediens en City Power stel ondersoek in om te bepaal of die verdagte betrokke was by enige sindikate wat verantwoordelik is vir verskeie voorvalle van kabeldiefstal in Johannesburg.

Sicelo Xulu, besturende direkteur van City Power, het gesê hy word bemoedig deur die deurbraak, aangesien dit die maatskappy se toewyding bewys om korrupsie uit te roei. “Niemand is bo verdenking in die stryd teen korrupsie en kabeldiefstal nie, insluitend City Power-werknemers,” het hy gesê. “Ons moet deur ons voorbeeld lei en ons zero toleransie vir korrupsie herbevestig. Hierdie inhegtenisneming volg ná maande se harde werk deur die polisie en ons beamptes en ons is dankbaar vir die deurbraak.”

Hy het ook die Valke en die polisie bedank vir hulle werk en doen weer ʼn beroep op lede van die gemeenskap om saam met City Power en owerhede te werk om voorvalle van kabeldiefstal aan te meld.

Volgens City Power verloor die Suid-Afrikaanse ekonomie jaarliks, konserwatief bereken, ongeveer R5 miljard, direk en indirek, weens kabeldiefstal. Xulu het bygevoeg dat, ondanks die koste om die infrastruktuur en beskadigde toerusting te vervang, kabeldiefstal ook tot ʼn verhoging in elektrisiteitskoste en pryse vir gewone Suid-Afrikaners lei.

Die bedryf het die regering versoek om kabeldiefstal te klassifiseer as ekonomiese sabotasie weens die verlammende effek daarvan op die ekonomie. Die regering het vroeër vanjaar die Wysigingswetsontwerp op Kriminele Sake opgestel waarin strenger vonnisse vir kabeldiefstal voorgestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Piet Pompies ·

‘n Groot persentasie van diefstal by besighede is “inside jobs”. Jy byt aan die hand wat jou voed.

Ludwig ·

Die polise moet baie strenger toeslaan op die manne wat daardie kabels koop, dan sal die kabelstelery nie so ‘n aanloklike proposisie vir die stelers wees nie. As die kopers nie wil of kan koop nie, sal die stelers gou insien die stelery is nie meer lonend nie. Die ou gesegde van die deler is net so goed soos die steler, geld beslis hier, maar ongelukkig word daar nie meer strawwe opgelê wat skelms afskrik nie. Verblyf in die tronk is vir hulle ‘n luukse-vakansie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.