City Power verloor miljoene weens beurtkrag

Argieffoto: ‘n Brand by een van City Power se substasies. 

Die kragverskaffer City Power, wat krag verskaf aan die Stad van Johannesburg, het Donderdag gesê hulle het amper R60 miljoen weens beurtkrag verloor.

“City Power het ʼn groot finansiële verlies van meer as R58 miljoen gelei weens onlangse instelling van beurtkrag,” het die kragvoorsiener in ʼn verklaring gesê.

Dié verlies is net tussen 16 Oktober verlede jaar en 5 Januarie vanjaar aangeteken. Gedurende dié tyd het Eskom ten minste 16 keer beurtkrag toegepas omdat die kragreus gesukkel het om genoeg krag op te wek weens ʼn gebrek aan kapasiteit en ander uitdagings. In Desember is fase 6‑beurtkrag, die hoogste fase nog ooit, ingestel.

“Ons as stad is afhanklik van Eskom vir krag en word daarom genoodsaak om die nasionale kragvoorsiener te help om ʼn bepaalde hoeveelheid krag te bespaar ten einde ʼn volslae ineenstorting van die stelsel te verhoed,” sê Isaac Mangena, woordvoerder van City Power.

Mangena sê hul infrastruktuur word erg benadeel wanneer beurtkrag geïmplementeer word en City Power geld verloor. Hy sê die kragvoorsiener het ongeveer R1,2 miljoen verloor omdat hulle werkers oortyd moes betaal. “Weens ons verouderde infrastruktuur sien ons toenemend dat die krag lank vat om na sekere gebiede herstel te word weens versterkte elektrisiteitstrome en ontploffings.”

Wanneer transformators en substasies ontplof weens dié versterkte elektrisiteitstrome, kos dit nóg geld om beskadigde toestelle te herstel. Volgens Mangena beloop dié koste R14 miljoen.

“Die grootste gedeelte van geld [43,6 miljoen] gaan egter verlore omdat City Power minder krag aan kliënte verkoop. Weens beurtkrag gebruik hulle minder krag as voorheen,” verduidelik Mangena. “Hierdie verlies sluit nie die miljarde rande in wat verlore gaan weens besighede se verlaagde aktiwiteit tydens beurtkrag nie.”

Dit bring die totale verlies weens beurtkrag op R 58,8 miljoen te staan. “Ons stelsels was nooit gemaak om aan en af geskakel te word nie. Ons voel die werklike impak van beurtkrag nou eers en sal aanhou om dit te voel lank nadat beurtkrag afgeskaf is,” sê Mangena.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Magda ·

Onerhoud moet gereeld gedoen word – As daar dalk meer gewerk en minder gekla word kan die probleme dalk opgelos word. Hou op blameer en werk saam. Niks en niemand in onvervangbaar nie.

Outoppie ·

En ons as verbruiker verloor duisende agv beurtkrag maar niemand sê iets daaroor nie

Leon ·

‘n Vriend van ons is ‘n afgetrede elektriese ingenieur van ‘n stadsraad. Hy sê die toerusting, al is dit splinternuut, is nie gemaak on aan en af geskakel te word nie. Iewers lang die pad gaan dit omval en ontplof of uitbrand.

Slang ·

Ons is nie verantwoordelik vir hul gestelery nie, maar hul verwag die hele land moet betaal vir hul vergrype. Gaan verkoop hul eiendomme vat hul karre terug en so kry julle ten minste deel van die geld terug. Maar nee niemand doen niks aan hulle nie, wie betaal die prys….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.