City Power-werkers glo gyselaar gehou

Werknemers van City Power is glo gyselaar gehou in Alexandra (Foto verskaf/ANA)

Werknemers van Stad Johannesburg se kragvoorsiener City Power is Saterdag glo gyselaar gehou deur lede van die Alexandra-gemeenskap oor kragonderbrekings in die gebied.

“Ons span het gewerk daaraan om die kragtoevoer na Vasco da Gama-substasie te herstel toe lede van die gemeenskap van 6de Laan en Joe Nhlanhlastraat hulle gyselaar gehou het,” het Isaac Mangena, woordvoerder van City Power, gesê. “Dit sal tot verdere vertragings lei om die kragtoevoer na Vasco da Gama te herstel wat byna die helfte van Alexandra raak van 1ste Laan tot 20ste Laan tussen Vasco en Richard Baloyistrate.”

Dit is nog nie duidelik waarom die span gyselaar gehou is nie. “Dit het vermoedelik te doen met kragonderbrekings die afgelope vyf dae,” het Mangena bygevoeg. “Deel van die gemeenskap van 6de Laan is ook ongelukkig omdat hulle byna twee weke lank nog nie elektrisiteit het nie ná hul mini-substasie opgeblaas en afgebrand is.”

Mangena het gesê pogings om die uitgebrande substasie te herstel word vertraag deur ʼn gebrek aan onderdele. Die skade maak dit nie moontlik om selfs ʼn kragopwekker te koppel nie.

“Die Johannesburgse metropolisie is ontbied om die span, wat gyselaar gehou is, by te staan. Niemand is beseer nie. City Power is tans in gesprek met die gemeenskap en ons hoop die span sal vinnig kan terugkeer om herstelwerk in die township te doen. Intussen het ons ons spanne uit Alexandra onttrek totdat hul veiligheid gewaarborg kan word. Raadslede en die streeksdirekteur is ook in kennis gestel.”

City Power is besorg oor die “vreemde fenomeen” om tegnici en personeel gyselaar te hou. “Dit sal ongetwyfeld lei tot verdere vertragings om herstelwerk te doen. Alhoewel ons ons bes doen met enige agterstand wat kragonderbrekings betref, versoek ons verbruikers se geduld en samewerking. Ons doen ʼn beroep op verbruikers om kalm te bly en geduldig te bly omdat ons hulpbronne beperk is weens kragonderbrekings in die winterseisoen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cherokee

Ek het binne-inligting ontvang dat Merafong(beamptes) aangehou was en gedwing was om die swart buurt se onbetaalde aansluitings effektief te maak, maar dat dit Fochville toe in die donker gelaat het. Klink nie asof julle enigiets daarvan weet nie.

Michael 1

Geen vrees meer vir wet en orde nie alles tekens van n piesang republiek sonder regte leiers.