City Press-verslaggewer sterf in tref-en-trap

Ngwako Modjadji (Foto: Facebook)

Huldeblyke stroom in vir City Press se senior verslaggewer Ngwako Modjadji wat Sondagoggend in ʼn beweerde tref-en-trap ongeluk dood is.

Die voorval het in die vroeë oggendure buite e’Social Link chisa nyama in Soweto, Johannesburg, plaasgevind.

Mondli Makhanya, hoofredakteur van City Press, het gesê Modjadji het ʼn “ongelooflike energie en entoesiasme” vir sy werk gehad. “Ngwako was ongetwyfeld een van die land se voorste politieke verslaggewers. Sy begrip van politieke dinamika het hom die vermoë gegee om ʼn storie van ver af uit te snuffel. En sodra hy eers die reuk van ʼn storie gekry het, het hy dit gejaag tot hy dit gekry het. Suid-Afrikaanse joernalistiek het een van sy helder sterre verloor.”

Verskeie verslaggewers wat saam met Modjadji gewerk het, het hom as ʼn hardwerkende verslaggewer beskryf. “Wat ʼn briljante werker. Ons sal altyd dié goedhartige reus mis na wie baie van ons opgekyk het. As jong verslaggewers is ons beroof van ʼn geleentheid om verder by hom te leer,” het Pelane Phakgadi, ʼn verslaggewer van die nuwe Newzroom Afrika-kanaal, gesê.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het hul innige meegevoel betuig met Modjadji se afsterwe. “Hy was ʼn goedhartige siel, ʼn harde werker en het altyd respek gehad vir ander. Hy het ʼn belangrike rol gespeel om die politieke lewe van Suid-Afrika te interpreteer,” het Moipone Malefane, sekretaris-generaal van Sanef, gesê.

Modjadji was eers by The Citizen betrokke voor hy by die Sowetan aangesluit het as politieke verslaggewer. Hy was ten tyde van sy afsterwe deel van die kernspan by City Press wat oor die politiek berig het.

Die ANC het in ʼn verklaring gesê Modjadji was oor die jare heen ʼn politieke verslaggewer wat deurgaans die beginsels van die bedryf gehandhaaf het. “Hy was altyd nederig en het met integriteit opgetree,” lui die verklaring. “Mnr. Modjadji het die respek en waardering vir die bedryf gehad wat dit verdien. Hy het geglo in eerlike, regverdige en gebalanseerde verslaggewing. Ons innige meegevoel aan sy familie, vriende en kollegas.”

Die DA het ook sy meegevoel betuig met Modjadji se familie, vriende en kollegas by City Press en die media. “Dit is gepas dat ʼn finale artikel van Modjadji [Sondag] op die voorblad van die City Press verskyn. Dit dui op sy integriteit en toewyding. Hy het altyd moeite gedoen om die feite reg te kry – soms het hy ʼn storie teruggehou omdat hy nog nie seker was oor die feite nie. Sy plig was om die nuus oor te dra en nie self betrokke te raak by interne politiek nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
IK

‘Toevallig’ en ‘per ongeluk’ raakgery of was hy dalk op die spoor van ‘n storie wat sou seermaak? Sterkte aan die betrokkenes.

? leser

@ik
bewerings, gee bewyse, nes jy se ik, het hy dalk van iets geweet wat die anc tot ‘n val sou bring?

Marinda

Ook so gedink.

Dawid

Baie vreemd,dat n politieke joernalis, TOEVALLIG raakgery word…

Griet

???