CJ het breinskade opgedoen

CJ Kotze voordat hy in die hospitaal beland het. Foto: Verskaf

CJ Kotze voordat hy in die hospitaal beland het. Foto: Verskaf

CJ Kotze, die sesjarige seun van Randfontein wat op Nuwejaarsdag op ʼn glybaan inmekaargesak het, het ligte breinskade opgedoen.

Amor Schoeman, woordvoerder van die Child Medi Organisasie wat die Kotze-gesin bystaan, het aan Maroela Media gesê ʼn breinskandering is Donderdag gedoen wat aandui CJ het ligte breinskade opgedoen. Die breinskade is veroorsaak deur die etlike minute wat CJ sonder suurstof was nadat hy inmekaargesak het. Dokters het ook ʼn hartritme-steuring by hom waargeneem.

Maroela Media het vroeër berig CJ het Sondag saam met sy ouers, Jan (29) en Charlene (26), by familie in Kempton Park gekuier waar die kinders heerlik op ʼn glybaan baljaar het. CJ het skielik inmekaargesak en sy bewussyn verloor. Hy is na die Arwyp- mediese sentrum in Kempton Park gejaag, maar was by sy aankoms by die hospitaal tegnies gesproke dood.

Schoeman het vroeër gesê CJ het nie asemgehaal nie en het geen hartklop gehad nie. Nadat dokters ongeveer 15 minute lank gespook het om hom te resussiteer het hulle weer sy hart aan die gang gekry. Daar is later vasgestel dat CJ ʼn hartaanval gehad het.

“CJ is nog steeds in die waakeenheid van die hospitaal, maar hy word nie meer in ʼn geïnduseerde koma gehou nie. Met tye word hy wakker, maar hy is baie moeg en val dan net weer in ʼn diep slaap,” het Schoeman gesê. “Hy is ook af van die ventilator af, maar met tye plaas hulle hom weer terug op die masjien.”

Volgens Schoeman is die organisasie dankbaar dat genoeg geld ingesamel kon word om die nodige skanderings te laat doen, maar is die familie se finansiële bekommernisse nog lank nie verby nie. “Die gesin se mediese fonds betaal net vir drie dae in die waakeenheid en CJ is nou al langer as drie dae daar. Daar is ook nog geen aanduiding dat hy binnekort na ʼn algemene saal geskuif sal word nie, omdat hy eers stabiel genoeg moet wees voordat die dokters sal oorweeg om hom uit die waakeenheid te skuif. Die fondsinsameling gaan steeds voort om vir die waakeenheidkoste te betaal.”

Schoeman het vroeër gesê dit is nie moontlik vir CJ om nou na ʼn staatshospitaal oorgeplaas te word nie omdat daar nie tans vir hom ʼn bed beskikbaar is nie en hy te siek is om nou geskuif te word.

Child Medi Organisasie is ʼn geregistreerde nie-winsgewende organisasie wat die Kotze-gesin bystaan met die fondsinsameling. Besoek hul Facebook-blad of webtuiste vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Elsie ·

Baie sterkte aan die familie. Ek kan my net indink waardeur die gesin moet gaan. Ek bid dat julle verhaal ń gelukkige einde het

Riaan ·

Dit is baie Hardseer, hoekom moet sulke dinge met kinders gebeur.

Karen van Zyl ·

Hoekom kan mediese fondse nie verstaan nie? Dit is ‘n baie siek ou seuntjie, hulle betaal net vir 3 dae maar word ryk uit elkeen van ons se premies elke maand, dit is discusting.

ano ·

Dis so hartseer. Solidariteit het mos die Brink-fonds gestig vir presies sulke gevalle. Hoop hulle help die kind.

Liza ·

Sterkte aan die ouers en hou aan bid en glo, vir onse God is niks onmoontlik nie…..Bid vir julle en vir boeta’tjie……..

zahn ·

Dis vir my so pateties dat die mediese fondse nou al besluit hoe lank jou kind in ‘n waakeenheid mag bly. Die dokter in bevel het nie meer sê nie. Jy betaal elke maand getrou aan die fonds, maar telkemale kom hulle met hierdie snert van spaarplan en wie weet als. Intussen kan hulle jou mediese fonds geld gebruik om korttermynversekering ook te begin, hulself lieflike rygoed toe te wens, mildelik salarisse en bonusse te trek, en jou kind kan nie die nodige sorg kry nie. Pateties! Erger as die staat!

Delia ·

“Name and Shame” die mediese fonds waaraan CJ se ouers behoort…..almal moet weet om die betrokke fonds te vermy…….
.

andrea van vuren ·

Probleem is, elke Jan Rap en sy maat, boetie, tannie, oom en 10 kinders klim op die mediese fonds. As ek so kritiek siek word gaan ek my kinders vra om die ventilator af te skakel. Die mediese fondse voel vere.

Silvia ·

Altyd so tragies dat kinders wat moet harloop/speel en gelukkig wees deur die tipe goed moet gaan. Ek en glo soveel ander bid dat die klein mensie so gou as moontlik wees soos anders kinders kan speel. Sterkte aan die ouers!

Linda ·

Ek verstaan ook nie hoekom die mediese fonds net vir 3 dae in ICU betaal nie. My pa was onlangs 2 keer na mekaar opgeneem in ICU, altesaam seker meer as 20 dae en die mediese fonds het alles betaal. Hoekom behoort mens dan tog aan ‘n fonds??

jaco ·

Waarom MOET privaat mediese onkoste so hoog wees? Die ANC sukkel al meer as 22 jaar om hulle Nasionale Demokratiese Rewolusie deurgevoer te kry. Ek hoop day as hulle eendag finaal klaar is, hierdie uiters duur privaat mediese tariewe finaal weg sal wees.

andrea van vuren ·

Mediese fondse voel vere. Jy is goed genoeg om te betaal maar wanneer jy hulle hulp in ‘n krisisuur benodig is daar nie meer geld nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.