Clanwilliam-blommeskou gekanselleer weens droogte

(Argieffoto) Foto: Marianne Styan

Clanwilliam se jaarlikse blommeskou moes vanjaar gekanselleer word weens die erge droogte in die gebied.

Dié blommeskou sou vanaf 25 Augustus tot 2 September in die historiese Blommekerk plaasgevind het.

“Dit is met ’n swaar hart dat ons uiteindelik besluit het om die skou te kanselleer,” het Alida Stone, voorsitter van die Clanwilliam-blommeskou-komitee, gesê.

“Die erge droogte, wat die hele land ervaar, het veroorsaak dat baie van ons blomme en plante eers veel later sal blom. Ons het nie genoeg blomme om ʼn goeie vertoning vir die skou saam te stel nie.”

Die besluit om die blommeskou te kanselleer volg ná ’n week lange besluitnemingsproses deur al die betrokke partye.

Daar word jaarliks ongeveer 400 verskillende soorte blomme gepluk vir die kleurvolle vertoning in die historiese kerk.

“Ons hoofprioriteit is die bewaring van die blomme; ons kan nie die blomme pluk wanneer dit nie volop is nie,” het Stone gesê.

Volgens Rike du Plessis, bewaringsbestuurder van Cape Nature Cederberg, is die reënvalsyfer vir die eerste sewe maande van 2017 die swakste die afgelope 64 jaar.

“As die gemiddelde reënvalsyfer aanhou volgens die huidige patroon, sal ons nie eens 300 mm teen die einde van die jaar kry nie.”

Al die ander aktiwiteite wat met die fees gepaardgaan, gaan egter voort. Daar sal musiekkonserte, kunskompetisies, staproetes en stalletjies wees.

“Ons werk ook aan ʼn oudiovisuele skou wat in die Ou Tronk-museum in Clanwilliam sal plaasvind. Dit sal besoekers wys hoe die blommeuitstalling in die Blommekerk saamgestel word. Dít sal elke uur vertoon word.

“Die dorp, die mense, restaurante en plaaslike besighede kan nie wag om die besoekers te verwelkom nie,” het Stone gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Renier ·

Alida ek hoop jou woorde word waar. Daar net een VADER wat ons kan help. As dit nie reen nie gaan hier n ongekende ramp langs die Olifantsrivier hom afspeel.

vrikie ·

Vasbyt mense die reen is op pad, ek voel dit in my water, nie net bietjie nie, oorstromings

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.