Claus Schroeder-moord: Duitsers eindelik gevonnis

Jens Leunberg tydens vonnisoplegging. (Foto: NVG)

Ondanks ʼn opdraande stryd en ʼn verhoor wat jare lank geduur het, is Claus Schroeder se moordenaar meer as tien jaar ná sy dood eindelik gevonnis.

Jens Leunberg (42), ʼn Duitse burger in Suid-Afrika, is in April vanjaar skuldig bevind aan die moord op Schroeder, hoewel sy liggaam tot vandag nog nie gevind is nie. Leunberg is Vrydag in die hooggeregshof in Gqeberha (Port Elizabeth) tronkstraf van 25 jaar opgelê vir die moord, asook 13 jaar tronkstraf vir twee bedrogklagte.

Kristina Adler (44), sy medebeskuldigde, is vroeër skuldig bevind dat sy medepligtig aan die moord was. Sy is ook skuldig bevind aan twee aanklagte van bedrog. Adler was nie gister in die hof nie nadat haar geestestoestand agteruitgegaan het en sy in ʼn hospitaal opgeneem is, sê Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap.

Die hof het haar nietemin in haar afwesigheid gevonnis tot ses jaar tronkstraf omdat sy medepligtig aan die moord was, asook tien jaar tronkstraf vir elk van die bedrogklagte.

Maroela Media het vroeër berig Leunberg en Adler het Suid-Afrika in Mei 2007 vir ʼn vakansie besoek en ʼn jaar later teruggekeer. Die twee het Schroeder en sy vrou, Tanja, hier ontmoet en ʼn ooreenkoms aangegaan om hul plaas te koop.

Sowat ʼn jaar later het Schroeder by die Owvanuk-plaas opgedaag, bekommerd omdat die betaling van R8,5 miljoen waarop ooreengekom is, steeds nie betaal is nie.

Kristina Adler en Leunberg tydens ‘n vorige verskyning. Adler was weens haar verslegtende geestestoestand nie Vrydag in die hof nie. (Argieffoto: NVG)

Leunberg het voorgegee dat sy voertuig in ʼn kloof vasgesit het, en het Schroeder daarheen gelok en hom vermoor. Sy liggaam is nooit gevind nie.

Regter Thembekile Malusi het in sy uitspraak gesê daar was beduidende en dwingende omstandighede in die saak vir die hof om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk. Kwessies wat in ag geneem is, is Adler se slegte gesondheid, die welstand van haar twee jong kinders wat op die ouderdom van onderskeidelik drie en vyf jaar van hul ouers geskei is, asook die uitgerekte tydperk wat sy al verhoorafwagtend is.

Leunberg was die afgelope tien jaar in aanhouding terwyl hy verhoorafwagtend was.

Die twee is in Julie 2011 aangekeer en die verhoor het in Maart 2015 begin. Schroeder is reeds in 2009 op die plaas vermoor.

Die hof het die aanklaer, adv. Marius Stander, asook die ondersoekbeampte van die Valke, AO Daniel Siebert, geloof vir die “buitengewone poging” om die saak te ondersoek en met vervolging voort te gaan. Dít ondanks die “formidabele uitdagings” wat oor die verloop van die saak oor hul pad gekom het.

“Jul werk in die verhoor is ʼn pluimpie vir jul beroep en het verseker dat geregtigheid geskied,” het die regter gesê.

Adv. Indra Goberdan, adjunkdirekteur van openbare vervolging, het die vonnisse verwelkom.

“Die vonnis was billik, gegewe die feit dat Jens Leunberg tien jaar in aanhouding was terwyl hy verhoorafwagtend was. Die boodskap stuur ʼn sterk boodskap aan misdadigers,” sê Goberdan.

Sy het Stander ook geloof vir die enorme poging wat hy aangewend het om die saak te help finaliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anel ·

NM, dit moet seker wees, twee jong kinders en nie twee jong ouers nie.

Christel Cornelissen ·

Dagsê Anel
Baie dankie vir die boodskap. Ons vra om verskoning vir die fout en het dit reggestel.
Groetnis
Christel
nms. Maroela Media

Sê maar net ·

Wat ek wil weet, is waarom dit in die algemeen so lank neem om sake af te handel in ons howe.
Hierdie misdaad/ moord was alreeds in 2011 gepleeg en vonnis word nou eers toegedien. Skuldiges reeds jare in aanhouding…Maak nie sin nie.

Etienne ·

Hierdie twee moordenaars het die hof ‘n hengse “runaround” gegee en alles probeer om die hof se tyd te mors.

Die Boerepompie ·

Kan nie glo n saak kan so lank vat om klaar te maak nie

Cherokee ·

Ses jaar vir medepligtigheid aan moord en 10 jaar vir bedrog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.